“Oor die jare heen het ek al van tyd tot tyd daarmee gesukkel: Daardie gevoel van niks is die moeite werd nie. Ek wil net op die bed lê, energieloos, hopeloos . . .”

“Later het ek antidepressante begin gebruik,” vertel Dana verder. “Dit het my beslis baie gehelp, en ek sal dit aanbeveel vir mense, mits hulle dit eers deeglik met 'n psigiater en sielkunde bespreek.

“Maar, ek is dankbaar om te sê, so drie, vier jaar gelede kon ek ophou om dit te gebruik. Die donker tydperke het steeds soms gekom, maar met die genade het ek genoeg energie gehad om daardeur te werk – deur besig te bly, te skryf, dit wat ek moet doen. 

“En toe, in Oktober (2017), neem my reis met depresssie ’n verskriklike wending nadat my verloofde, Anette Roberts, haar eie lewe geneem het. Dit was depressie, waarskynlik bipolêre gemoedsteuring.

Anette Roberts en Dana Snyman. Foto: Facebook

“Ons het mekaar net nege maande lank geken, en ek het nie geweet van hierdie donker ding waarteen sy baklei nie. Tot my eie verdriet en skande.

“Dit is asof dit in die aard van sekere vorme van depressie is om te wil mislei: Mense wat dit het, wil dit nie erken nie. Anette was so dapper, so dapper. Pragtig, talentvol, energiek.

“Sy wou van die wêreld ’n beter plek maak, en het soveel mense, insluitende myself, op allerhande maniere gehelp. Maar op die ou end kon sy haarself nie help nie en het die wanhoop dit is wat hierdie siekte doen: dit vréét hoop op die oorhand gekry.

“Tot my skande en verdriet begin ek nou eers uitvind wat bipolêre gemoedsteuring is. Ek wil die res van my lewe betrokke wees by optredes en pogings om mense van depressie bewus te maak, dat dit ’n siekte is wat behandelbaar is. As ek maar net geweet het . . ."

“As . . . ons maar net geweet het.”

Op Saterdag 24 Februarie om 11:00 in die Breytenbach Sentrum op Wellington is Dana een van die deelnemers aan die gesprek onder die vaandel “As . . . ons maar net geweet het.”

Dis ’n paneelbespreking oor depressie deur mense wat die siekte – en verlies – aan eie lyf gevoel het: Dana Snyman, wat sy verloofde verloor het, die psigiater Cobus McCallaghan, wat sy 21-jarige dogter verloor het, die pediater Gerrit de Villiers, wat sy 16-jarige seun verloor het, en die gesprekleier, Lizette Rabe, wat haar 21-jarige seun verloor het.

Lizette se gesprek

Prof. Lizette Rabe beantwoord ook ’n paar vrae. Sy is die stigter van Ithemba, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat ten doel het om die publiek van depressie bewus te maak en hul kennis te verbreed oor dié toestand en verwante siektes wat as biologiese, kliniese siektes hanteer moet word en om navorsing te steun.

Lizette Rabe.

“Die geleentheid gaan oor openbare bewusmaking en om mense ’n nuwe begrip te gee van wat psigiese siektes behels – daarom die titel: 'As . . . ons maar geweet het.'

“Ons wil hê die publiek moet meer weet en beter ingelig wees. Inligting bemagtig, en deur ingelig te wees, is jy beter toegerus om die 'siekte sonder gesig' te beveg.

“Ek is die gespreksleier en sal dus die gesprek inlei deur oor die algemeen te praat oor depressie, dat ons ’n nuwe perspektief nodig het, en dat kennis mag is. Ook oor hoe ons onsself kan toerus teen die toenemende sosiale druk, weens so baie faktore, wat kan oorgaan in emosionele stres; wat kan oorgaan in ’n kliniese siektetoestand as dit onbehandel bly, en wat fataal kan ontwikkel.

“Die twee mediese spesialiste, Cobus McCallaghan en Gerrit de Villiers, wat ook albei ’n geliefde kind aan die siekte verloor het, sal oor die mediese, kliniese aspekte van die siekte praat, en Dana oor sy saamstap met die siekte en sy verlies."

Lizette se persoonlike reis met depressie

“Ek het my seun aan depressie verloor. As ma het ek my lewe saam met my seun verloor.

“Depressie is die mens se wreedste siekte. Hierdie monstersiekte is nie kieskeurig oor sy slagoffers nie. Maar ons kan onsself beter toerus deur meer te weet oor depressie.

“As ek byvoorbeeld my kind se skielike persoonlikheidsverandering kon sien as simptome van depressie, kon ek vroeër besef het dis nie ’n 'fase' nie; dis ’n siekte.

“En as ons as samelewing beter ingelig is oor depressie en verwante siektes, sal ons daarmee ook die stigma, die stilte en die skanse rondom die siektes afbreek. Ons moet vroeër die simptome herken sodat ons vroeër behandeling kan kry.

“Depressie is ’n siekte; nie ’n swakheid nie. 'Depression is a flaw in chemistry, not character.'

Bemagtig mense met inligting

Lizette sê sy veg voort om ’n verskil te maak en te help dat daar meer oorwinnaars en minder slagoffers is.

“Ons samelewing kry toenemend swaar onder sosiale druk, om verskeie redes. Navorsing toon hoe depressie binne net twee jaar die wêreld se naasgrootste siekte sal wees.

“In Suid-Afrika sterf 23 mense elke dag weens selfdood; volgens navorsing is depressie die oorsaak van meer as 90% daarvan.

“Ons moet mense bemagtig met inligting sodat vroeër hulp gesoek kan word en mense kan leer om met hul siekte saam te leef, en dit te bestuur soos enige ander kliniese siektetoestand met ’n gesonde leefstyl as basis, en terapie en medikasie indien laasgenoemde nodig is om die chemiese wanbalans reg te stel."

Waardevolle lesse geleer

“Moet nooit die swart hond vertrou nie. Hy slaan genadeloos toe wanneer jy dit die minste verdag. Leer en bemagtig jouself met kennis om die meester van die swart hond te wees – hy moet na jou luister; nie andersom nie."

Hoekom is dit so belangrik dat geliefdes ingelig is oor die depressie of ander psigiatriese siektes waarmee iemand na aan hulle leef?

“Soos met ander siektes het jy steun en begrip van jou naastes nodig.

“Depressie raak nie net ’n individu nie, maar sy hele huis, sy familie, sy werkplek, sy vriendekring. Dis ’n siekte sonder gesig, maar ons kan hom ’n gesig gee deur te verstaan wat die siekte behels.

“Dis nie ’n verbeelde siekte nie - niemand sal hom verbeel hy voel so onbeskryflik sleg nie, en niemand sal hom verbeel hy kan nie opstaan nie. Dis ’n werklike, biologiese, kliniese siekte, met psigiese én fisieke simptome. Deur onsself te bemagtig met kennis kan ons ons geliefdes help in hul stryd teen die siekte."

Foto ter illustrasie: pexels.com
Woon die gesprek 'As . . . ons maar net geweet het' by
Wanneer: Saterdag 24 Februarie 2018 om 11:00
Waar: Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington
Toegang: R50
Bespreek by: info@breytenbachsentrum.co.za
Daar is onder meer ook ’n uitstalling van die werk van die bekende skilder Louis Jansen van Vuuren.
Aangebied deur en ten bate van die Ithemba-stigting. (Ithemba beteken hoop in Xhosa.)