Daniel Craig (49) het op die televisieprogram The Late Show bevestig dat hy in die 25ste James Bond-fliek sal verskyn. Dit het nog nie ’n titiel nie, maar sal op 8 November 2019 in teaters te sien wees. 

Dit volg nadat aanhangers sedert Julie vanjaar wonder oor moontlike hoofkarakters vir die nuwe fliek aangesien Daniel in ’n vorige onderhoud gesê het hy wil nooit weer die rol vertolk nie.

Hy het aanhangers egter gerusgestel en gesê dié onderhoud is gedoen twee dae nadat Spectre klaar verfilm is en dat hy net uitgeput was. “Pleks daarvan dat ek iets met meer styl en grasie gesê het, het ek net iets simpels gesê,” het hy verduidelik aan Stephen Colbert, aanbieder van The Late Show. 

En terwyl Daniel hard werk aan die volgende fliek, kan hy ook heelpad bank toe lag. Hy het ongeveer R850 miljoen met Spectre (2015) verdien en sal na bewering meer as R2,05 biljoen vir die nuwe fliek kry. 

Maar met goeie nuus is daar altyd ook ’n bietjie slegte nuus: Dit sal sy laaste James Bond-fliek wees. “Ek dink dis dit. Ek wil net op ’n hoë noot afsluit en kan nie wag nie!” sê Daniel. 

Natuurlik het Twitter saamgejuig.

Bronne: Irishtimes.com, News.co.au, Abc.net.au