Op sy Facebookblad stroom die dankbetuigings steeds in: Mense sê dankie dat hy ingetree het toe hulle in vreemde lande gestrand was sonder ’n idee van hoe hulle by die huis gaan kom.

“Hy sal altyd my held wees,” skryf een vrou. “Sonder hom sou ons nog vasgekeer gewees het!”

“My dogter en talle ander is nou veilig tuis, en sonder jou sou dit nie moontlik gewees het nie,” skryf nog een.

Tertius Myburgh
Tertius Myburgh. Foto: Verskaf

Want toe talle desperate Suid-Afrikaners en Zimbabwiërs weens die inperking in ander lande gestrand was, het die kommersiële vlieënier Tertius Myburgh ingegryp om hulle huis toe te bring. Toe die covid-19-pandemie sy kake met mening inslaan, het Tertius eintlik genoeg rede gehad om homself te bejammer.

Hy het einde verlede jaar sy huis in Roodepoort, Gauteng, opgepak en saam met sy vrou, Nicolene (39), en hul kinders, Nicolas (16), Rhodes (10) en Elenore (9), ’n nuwe lewe in New Brunswick in Kanada begin. Maar drie maande nadat hy daar met sy nuwe werk begin het, het die coronavirus daartoe gelei dat die meeste vlugte wêreldwyd gestaak is en Tertius (42) het skielik sonder werk gesit.

Hoewel hy teleurgesteld was, het hy nie veel tyd gehad om hom te verknies nie, want hy het gou sy hande vol gehad juis omdat al die vlugte gekanselleer is en baie lande se grense ook gesluit is om die verspreiding van die virus hok te slaan.

Nadat Tertius gehoor het van mede-Suid-Afrikaners wat in elke deel van die wêreld gestrand was met geen benul hoe hulle tuis sou kom nie, het hy besluit hy moet intree en help.

Met slegs sy selfoon en skootrekenaar as hulpmiddels, het hy repatriasievlugte begin reël – en tot dusver het hy reeds vyf reddingsvlugte gereël na plekke so ver as Mianmar en die Chinese stad Wuhan, vroeër die episentrum van die virus.

Boonop is hy besig met die reëlings van nog twee vlugte wat mense van anderkant die waters terug na Suid-Afrika sal bring, al bly internasionale vlugte skaars en landsgrense gesluit.

Dis geen maklike taak nie, en toe hy tydens ’n video-oproep vanuit sy huis in Kanada met Huisgenoot gesels, erken hy hy wou ná die eerste vlug tou opgooi.

Dit het hom vyf weke geneem om dié vlug te reël. Maar die boodskap oor die suksesvolle reddingsvlug het versprei, en toe is hy met honderde WhatsApp-boodskappe van wanhopige Suid-Afrikaners oorval. Toe trek hy weer sy foon en rekenaar nader, en begin weer reëlings tref om nóg mense te help.

Sy nuwe taak het in Maart vanjaar begin toe Tertius se voormalige hoërskoolhoof, Klaus König, hom deur Facebook gekontak het. Klaus, ’n voormalige skoolhoof van die Hoërskool Florida in Gauteng, was saam met sy suster en ’n kollega in die Oosterse land Mianmar vasgekeer, en het geweet van nog vier Suid-Afrikaners in ’n soortgelyke situasie.

Tertius Myburgh
Tertius Myburgh het werk gemaak daarvan om gestrande Suid-Afrikaners en Zimbabwiërs tuis te kry, soos hierdie groep passasiers wat ’n selfie neem. Foto: Facebook/Carmen Johannie

Ná ’n onsuksesvolle poging om hulp by die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) te kry, het Klaus hom tot Tertius gewend.

Tertius, toe steeds in Kanada, het geweet geen vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sou Mianmar toe vlieg vir sewe mense nie.

Al hoe dit lewensvatbaar sou wees, was om meer burgers te vind wat uit ander lande terug na Suid-Afrika gerepatrieer wou word.

“Buitendien het die SAL hul eie repatriërings gedoen en het op groot stede in Amerika en Brittanje gefokus. Niemand het na daardie deel van die wêreld gevlieg om mense te gaan haal nie.”

Tertius het na ambassades in Viëtnam, Kambodja en Thailand uitgereik – lande wat aan Mianmar grens – om uit te vind of daar enige gestrande Suid-Afrikaners daar is, maar het geen reaksie gekry nie.

Hy het eindelik ’n vrou in die hande gekry wat ’n seevaarder op ’n skip in die Filippyne is. Sy het hom in aanraking gebring met ’n man wat ook besig was om reëlings te tref dat Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese burgers terugkeer.

Tussen die twee van hulle het hulle genoeg gestrande mense opgespoor om ’n vliegtuig te vul, maar die volgende probleem was om ’n vliegtuig te kry. Nadat Air Namibia Tertius se versoek vir ’n vliegtuig afgekeur het, het hy Air Zimbabwe genader.

“Ek ken hul topbestuur al ’n paar jaar as gevolg van die werk wat ek in Suid-Afrika gedoen het,” sê Tertius. “Hulle was dadelik te vinde daarvoor.”

Hulle het ingestem om hom van ’n vliegtuig en kajuitpersoneel te voorsien op voorwaarde dat hy al die ander logistieke reëlings sou tref.

Daar is besluit hy sou nie self die vliegtuig vlieg nie, maar dat hy alles sou reël – van die brandstof vir vlugte tot die soektog om genoeg mense vir elke vlug te vind, asook die proses om al die nodige klarings van die burgerlugvaartowerhede reg oor die wêreld te kry.

Teen begin April het die eerste vlug van Harare na Mianmar opgestyg. Daar het die vliegtuig Klaus en die ses ander Suid-Afrikaners opgepik voor dit na die Filippyne vertrek het waar hulle die sitplekke met Suid-Afrikaners en Zimbabwiërs gevul het.

Tertius Myburgh,repatriasie
Passasiers bestyg ’n gehuurde vliegtuig van Air Zimbabwe. So ’n repatriasiekaartjie het R17 500 gekos, maar Tertius het sy spaargeld opgebruik om die bykomende koste te dek. Foto: Facebook/Carmen Johannie

Die Suid-Afrikaners het in Johannesburg afgeklim voor die res van die passasiers na Harare gereis het. Die reis was nie sonder probleme nie. “Ek het my papierwerk na Dirco gestuur, maar hulle het nooit geantwoord om my vlug goed te keur nie,” vertel Tertius. 

“Die vliegtuig het toe by die O.R. Tambo-lughawe aangekom en gevra vir ’n landingsklaring, maar niemand het daarvan geweet nie.”

Tertius het ook nie ’n kwarantyngerief vir die passasiers gereël nie.

“Hulle het ongeveer twee uur op die grond deurgebring, in een hoek geparkeer tot ek dit kon uitpluis,” sê hy. “Dit was ’n groot leerkurwe vir my.”

Sedertdien het hy nog repatriasievlugte suksesvol gereël. 

Die koste is hemelhoog, vertel hy. Om die vliegtuig te bespreek, met net een maaltyd en drankie vir elke passasier, kos sowat R172 000. Die gebruik van ’n lugbrug, wat passasiers gebruik om in die vliegtuig te klim, kos R34 400.

Die kajuitpersoneel kos R77 000 per uur en vlieg tot 30 uur. Dan is daar die brandstof. Een vlug gebruik ongeveer 250 000 liter, wat tussen R5 en R8 per liter kos, wat die totale koste vir die reis na meer as R1 miljoen opstoot. Kaartjies word teen R17 500 elk aan passasiers verkoop. 

Die koste verbonde aan so ’n reis
Kajuitpersoneel: R77 501 per uur
Vliegtuig: R172 225 met een maaltyd en ­drankie per passasier
Lugbrug: R34 445 deur passasiers gebruik om in vliegtuig te klim
Petrol: 250 000 L tussen R5-R8 per liter
Kaartjie: R17 500 per passasier

Tertius sê hulle het probeer om die pryse laag te hou om te verseker dat mense dit kan bekostig, maar dit beteken dat hy en sy vrou, ’n sakeontwikkelaar van die Suid-Afrikaanse privaat lugdiens CemAir, uit hul sak die bykomende uitgawes moes dek. Boonop was daar ander uitdagings ook.

Tydens een vlug het die Boeing 767-enjin byvoorbeeld in Bangkok, Thailand, gebreek, wat beteken het die 140 passasiers was drie weke lank gestrand terwyl herstelwerk gedoen is. Baie van hulle met geen geld vir kos en verblyf nie.

Tertius het toe maar besluit om vir dié mense, wat soveel vertroue in hom gestel het, ’n hotel in die omgewing te bespreek. Die hotel was gelukkig bereid om ’n spesiale tarief aan te bied wat ontbyt en aandete ingesluit het.

“Ek het die rekening met my kredietkaart betaal en my kredietkaartbesonderhede telefonies gegee sodat hulle transaksies kon doen.”

Al hierdie onvoorsiene uitgawes het opgehoop en ’n groot hap uit Tertius en Nicolene se spaargeld gevat. “Ons het alles gebruik wat ons gehad het, maar ons het besluit om dit te doen om mense te help.”

Sy kinders was ongelooflik ondersteunend, voeg Tertius by. “Hulle hoor my met sommige van hierdie passasiers oor die telefoon praat en hulle wil weet waarom hierdie een huil of waarom daardie een kwaad is.”

Nicolene se kennis van lugvaart was ook nuttig. Sy bestuur tans haar eie repatriasiestelsel vir CemAir, maar dit is net binne Afrika.

Tydens Huisgenoot se gesprek vertel Tertius hy het ’n paar weke tevore ’n repatriasievlug uit China na Suid-Afrika gedoen, en is nou besig om vlugte te reël wat mense vanuit Riaad in Saoedi-Arabië en Nieu-Seeland sal repatrieer. Want noudat hy gesien het hoe ’n groot verskil hy in die tyd van die pandemie en inperking kan maak, laat hy hom nie stuit nie.

“Daar was al baie kere dat ek hieruit wou kom,” erken hy. “Maar dan hoor jy van mense se nood en voel jy verplig om te help.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe