Dit is wel ’n heel ander storie vir Angelique (33) en Pieter Nel (36) van Boksburg, by wie se eersteling ’n onbekende soort kanker skielik gediagnoseer is.

Die driejarige Chereez het aan die begin van die jaar van pyn in haar regterwang begin kla en, ná ’n aanvanklike besoek aan die dokter, het sy met ’n kursus antibiotika begin.

Maar die swelling in haar wang het nie gesak nie en in Maart het CT-skanderings die paartjie se ergste vrese bevestig – hul klein Chereez het kanker.

Angelique en Chereez Nel. Foto: Verskaf.

By die Donald Gordon-hospitaal in Parktown, Johannesburg, is hulle ingelig dat hul pragtige dogtertjie ’n ongedifferensieerde sarkoom in haar sagte weefsel het. Hoewel die dokters kon bevestig dat die kanker nog nie na haar ander organe versprei het nie, het dié diagnose beteken dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes nie die soort kanker kon bepaal nie.

Pieter en Chereez Nel. Foto: Verskaf.

Hoewel biopsiemonsters al na Switserland en Amerika gestuur is, kon die dokters nog nie die soort kanker heeltemal uitpluis nie. "Daar is tans 25 dokters by Chereez se geval betrokke," sê Angelique aan Huisgenoot met ’n stem vol hoop.

"Sy is drie jaar oud, so dit is nie nodig dat sy presies weet wat fout is nie. Al wat sy weet is dat daar 'monstertjies' in haar kop is wat die dokters moet uithaal," vertel Angelique.

Foto: Verskaf.

Ingewikkelde operasies en behandelings word vir klein Chereez in Amerika beplan en Angelique sê dat hulle reeds met die Maryland Proton Treatment-sentrum in korrespondensie is.

Die plan is om nuwe Proton-terapie, wat op die oomblik net in Amerika beskikbaar is, toe te pas. Die behandeling sal sowat R2,7 miljoen beloop. Tot dié behandelings oor sowat ses weke begin, sal Chereez steeds tussen een en drie dae per week vir chemoterapie moet gaan.

"Ons sal alles in ons mag doen om toe te sien dat Chereez die beste moontlike behandeling kry en haar kanse op ’n vol en normale lewe te verseker,” sê Angelique.