Sy vat-vat soms aan die prostetiese neus wat die gat wegsteek waar haar eie neus eens was. Sy is nog bewus daarvan – maar is veel minder selfbewus as wat sy was voor dit haar voorkoms verander het.

Nadat eers die een helfte van Susan Oosthuizen se neus in 2016 weens velkanker weggesny moes word en ’n jaar later ook die ander helfte, was sy skugter om in die openbaar gesien te word. Sy het dit destyds selfs ’n maand lank vermy om Sondae haar plek in die kerk in te neem waar haar man, Neels, dominee is. 

Maar nou het die 65-jarige predikantsvrou van Germiston aan die Oos-Rand eindelik nuwe hoop vir die toekoms. Vir die eerste keer in ’n lang tyd kan sy haar kop weer met selfvertroue hoog hou. 

Waar daar met Huisgenoot se vorige besoek ’n bietjie meer as ’n jaar gelede net ’n homp weefsel in die plek van haar neus was, het sy nou ’n lewensgetroue prostetiese neus. 

Toe het die kanker­diagnose nog soos ’n wolk oor haar gehang, maar ná talle operasies is sy nou vir die eerste keer sedert 2015 kankervry.

gesig,kanker,neus
Die predikantspaar Susan en Neels Oosthuizen bly deur hul beproewings liefdevol teenoor mekaar. Foto: Onkgopotse Koloti

“Susan is dapper,’’ sê Neels (68), haar man van die afgelope 48 jaar, en sit sy groot hand liefdevol op haar knie hier in die netjiese sitkamer van hul huis in Primrose, Germiston.

Susan het nooit moed verloor of in sak en as gaan sit nie. Neels sê sy hou haar kop omhoog.

“Sy het die afgelope meer as ’n jaar nie een keer ’n diens misgeloop wanneer ek preek nie. Sy doen selfs voor in die kerk aankondigings vir die susters,” sê hy. 

Dit verg groot moed, want die vel­kanker het nie net haar neus geëis nie, maar ook haar bo- en onderlip. Toe haar onderlip verlede Oktober verwyder moes word, het dokters weefsel uit haar arm geneem om vir haar ’n onder­lip te begin opbou, maar sy het geen gevoel daarin nie.

Sy sal in Mei nog rekonstruktiewe chirurgie aan haar onderlip ondergaan. Intussen is dit vir haar moeilik om te praat en te eet.

Sy erken sy voel nog selfbewus oor haar lip. “Dis omdat ek sukkel om te praat. Eintlik is praat vir my belangriker as eet,” skerts sy en haar oë glimlag.

kanker,neus,voorkoms
Neels en Susan voor sy siek geword het. Foto: Verskaf

In oomblikke soos dié kry ’n mens weer ’n glimp van die donkerkopvrou wat op foto’s van vroeër breed glimlag. 

“My valstande wil nie pas nie, en ek maak my kos dus fyn, maar eet sal ek eet!” skerts sy. 

Genadiglik kan sy nog ruik en proe, want die sintuiglike selle in haar neusholte en die smaakselle op haar tong het behoue gebly. Die selle wat verantwoordelik is vir reuk is nie beskadig nie, en omdat daar nie kanker in haar tong was nie, was dit nie nodig om daaraan te sny nie. 

“Ek ruik darem as die pampoen brand. Neels is mos baie lief vir kookkos,” sê sy en kyk liefdevol na haar man. Sy hoop om nuwe valstande te kry wanneer al die operasies aan haar onderlip verby is. 

Die weefsel uit haar arm wat reeds in haar lip oorgeplant is, sal verder verfyn word om dit mooier te laat lyk. Albei lippe sal ook moontlik met kleurpigment getatoeëer word om dit verder af te rond. 

Of sy weer gevoel in haar onderlip sal hê, sal sy moet wag en sien.

“Dit gaan ’n rukkie vat, seker so twee of drie operasies,’’ vertel Susan. “Ek hoop oor ’n jaar van nou af is dit klaar.” Dan voeg sy by: “Ek is nou haastig. Ek het laas keer vir jou gesê ek wil net weer rooi lipstiffie dra. En dit lyk my dis om die draai.”

Die liefdevolle paar se kleinkinders baljaar deesdae gereeld hier in dieselfde huis waar Susan en Neels se twee seuns, Driaan (37) en Marnus (33), grootgeword het. Die Gereformeerde Baptistekerk waar Neels al meer as 20 jaar leraar is, is ’n klipgooi hiervandaan. 

Sedert haar kankerdiagnose in 2015 deel Susan graag haar storie om mense te waarsku hulle moet gou by die dokter uitkom as hulle iets abnormaals aan hul vel sien.

kanker,gesig
In Desember 2017 nadat sy reeds haar hele neus verloor het. Foto: Onkgopotse Koloti

Sy het in 2015 ’n knoppie aan die linkerkant van haar neus gevoel, maar eers gedink dis net ’n hardnekkige swartkoppie. ’n Jaar lank het sy dit self probeer behandel, maar dit het geleidelik ál groter geword.

Toe sy eindelik dokter toe is, het sy die tyding gekry: Dit is velkanker, van die soort wat deur die son veroorsaak word. Nadat ’n deel van haar neus in 2016 verwyder is en sowat ’n jaar later die res, het ’n biopsie gewys daar is nog kankerselle.

Weens die risiko dat die siekte na haar oë en brein kon versprei, is sy etlike dae daarna in November 2017 weer geopereer. Haar bolip is toe verwyder. 

“Dit was vreeslike groot operasies, maar ek het nie pyn gehad nie. Dit was ’n verligting toe die kanker verwyder is, want dít was seer,” vertel sy. 

Nadat sy haar neus verloor het, was die plan aanvanklik om deur plastiese chirurgie ’n nuwe neus vir haar op te bou. Maar omdat haar bene waarskynlik bros is weens die bestraling wat sy as deel van die kankerbehandeling ontvang het, het dokters daarteen besluit.

Pleks daarvan het sy die prostetiese neus gekry. 

Anders as haar eie vel is dit sonder enige sonvlekkies of plooitjies, maar verder is dit presies dieselfde kleur. 

“Neels lag soms vir my, want dan het ek my neus skeef opgeplak. Dit laat my soos ’n bokser lyk wat sleg tweede ge-kom het,” sê sy, en haar man skaterlag langs haar. 

“Ja, nou die dag is ons op pad winkel toe en ek vra vir haar: ‘Waar is jou neus?’ Toe het sy hom by die huis vergeet,” vertel Neels.

“Dis waar. Ek onthou meer om my kontaklense in te sit as om my neus aan te sit,” beaam Susan.

“Daar is mense wat lag. Ek het my nou die dag ná die lipoperasie lelik vervies en sommer vir iemand gesê: ‘Wat kyk jy?’”

Sy het voorheen vertel Neels moes haar ná ’n operasie inspuit om te keer dat bloedklonte vorm. 

“Hy het dinge vir my gedoen waarvoor ek nie gedink het hy sal kans sien nie,” sê sy nou. “Ons was 11 jaar kinderloos en het toe al geleer om alleen in mekaar se geselskap te wees,’’ voeg hy by.

“Ons was reeds baie na aan mekaar, maar met dié beproewing het ons net nog nader aan mekaar gekom.” 

Die ondersteuning wat hulle ontvang het – van familie en vriende, maar ook van wildvreemdes – was vir hulle oorweldigend.

Danksy ’n skenking van ’n barmhartige Samaritaan kon hulle verlede jaar by Marnus en sy gesin in Kanada gaan kuier en die geboorte van hul vyfde kleinkind beleef. Nadat Huisgenoot in Desember 2017 van Susan se kankerstryd vertel het, het ’n leser haar op straat herken.

“Ons was met vakansie en daar kom toe ’n jong vrou en slaan haar arms so van agter af om Susan – ’n wildvreemdeling wat haar storie gelees het,” vertel Neels en vat sy vrou se hand. 

“Sy het vir my gesê ek sal hierdeur kom, en dit het so baie vir my beteken,” vertel Susan verder. “So iets gee ’n mens so baie moed, want vreemdes hoef nie so iets te doen nie,” sê sy en haar oë begin swem van die trane. Maar daar is ook ongevoelige mense en hulle maak Neels briesend.

“Daar is mense wat lag. Ek het my nou die dag ná die lipoperasie lelik vervies en sommer vir iemand gesê: ‘Wat kyk jy?’” 

Ja, dit is nie lekker wanneer mense haar aanstaar of aanmerkings maak nie, sê Susan, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Soms beskou sy dit selfs as ’n geleentheid om kinders in te lig oor hoekom ’n mens versigtig moet wees vir die son.

“Sulke mense ontstel Neels meer. Saans wanneer ek bid, vra ek maar net vergifnis vir daai mense.” 

Al het kanker ’n skadu oor hul lewe kom gooi en Susan se gesig misvorm, sê sy en Neels die vraag het nooit by hulle opgekom waarom dit juis met hulle moes gebeur nie. Nog minder was hulle vir God daaroor kwaad.

“Ons sien mos hoe ons gegroei en ander gehelp het,” verduidelik hy.

“Buitendien, een van die dae wanneer jy kom kuier, het ek nie net ’n nuwe neus nie, maar ook nuwe lippe,’’ sê Susan. Met ’n knipoog vir die fotograaf voeg sy by: “Dan beter jy ’n mooi foto neem en my jonk laat lyk!” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!