Reef Carneson het ten spyte van die uitdagings in
Reef Carneson het ten spyte van die uitdagings in sy kort lewe bykans altyd 'n glimlag op sy gesig. Foto: Facebook

Klein Reef Carneson (12) wat op elf maande die jongste kind in Suid-Afrika was wat ’n beenmurgoorplanting gekry het, se kanker het na sy longe versprei, en die dokters het sy behandeling gestaak. 

Hy het na verwagting weke oor om te leef. 

“Wat gaan ek sonder my seun doen?” het sy bedroefde ma, Lydia, desperaat gevra. “Here, wees asseblief met my.”

Sy het die nuus op ’n lewende Facebook-video met Reef se aanhangers gedeel.

Leukemie is op vyf maande by Reef gediagnoseer. Hy het ná die oorplanting aan ’n ernstige vorm van transplantaat-versus-gasheer-siekte (TVGS) begin ly.

TVGS het Reef se immuniteit erg afgetakel en sy ouers, Lydia en Ryan, het in 2011 besluit om Amerika toe te trek, aangesien dokters daar meer ervaring het om die toestand te behandel. Die TVGS het ’n veltoestand tot gevolg gehad wat pynlike sere en littekens oor sy liggaam veroorsaak het. 

Huisgenoot het in Desember verlede jaar berig die newe-effekte vir die behandeling van die outo-imuuntoestand het tot aggressiewe velkanker gely en ’n deel van sy skedel moes verwyder word om te keer dat die kanker versprei. 

Dit was ongelukkig tevergeefs en dokters het vir Lydia en Ryan gesê dat hulle behandeling eerder moet staak en hom huis toe moet neem. 

Hulle het ook twee jonger dogters, Kenzi en Payten. 

Lydia en Ryan Carneson met hulle kinders Kenzi, Pa
Lydia en Ryan Carneson met hul kinders, Kenzi, Payten en Reef. Foto: Facebook

“Hy het lank en hard baklei,” sê Lydia verder in die video. “Ons kan hom nie deur nog sit nie, en ons sal hom huis toe neem. 

“Hy het spesifieke versoeke. Hy wil na ’n winkelsentrum toe gaan en hy wil twee eendjietroeteldiere hê. Hy wil ook gaan kamp,” sê sy. “Ek weet nie of hy sterk genoeg gaan wees om te gaan kamp nie. Maar as ons in ons agtertuin moet gaan kamp, sal ons dit doen.”

Ten tyde van die video was sy nog onseker of hulle die nuus met hom gaan deel.

Reef is altyd gereed vir pret.
Reef is altyd gereed vir pret. Foto: Facebook

“Ons sal enigiets vir hom doen. Ons gaan vir hom lief wees. Tot die einde. 

“Ons familie is verpletter. Sal julle ons asseblief in ons gedagtes hou.”

Huisgenoot het na Reef se familie uitgereik vir kommentaar, en hulle het aangedui dat hulle in ’n later stadium daaroor sal praat. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe