Tifny Arends van Kensington in Kaapstad sê sy en haar vroulike kollega het op 31 Augustus omstreeks 17:00 in Voortrekkerweg naby Kensington gesien hoe ’n man langs die pad besig is om aan sy motor te werk. 

Dié man het oorkant die begraafplaas aan sy motor gewerk, maar toe sien Tifny uit die hoek van haar oog hoe twee mans oorkant die pad na die motoris loop, en sy vertel sy het net dadelik geweet als is nie pluis nie. 

“Ek het my kollega gevra om die situasie dop te hou omdat dit onveilig lyk. Ons het vinnig gesels en mekaar afgevra wat as ons vanaand hoor iemand is daar oorkant die begraafplaas vermoor?”

tifny
Tifny Arends en haar kollega het die motor langs die pad gesien en gesien hoe 'n man besig is om die motor se wiel te ruil. Foto: Verskaf

Die twee vroue het omgedraai en na die toneel teruggekeer. 

“Ons sien toe een van die mans wys sy vinger na die motoris. Ek het begin toet sodat ek die mans kan afskrik, maar hulle het ook na my motor gekom. Ek het aangehou toet en gevra wat hulle by die motoris soek.”

Sy sê een van die mans het vir haar gesê hulle help die motoris. 

“Ek het vir hulle gesê hulle moenie lieg nie. Dit is toe dat ek sien een van die mans het ’n mes. Ek het die motoris gevra of hy oukei is, en hy het ook vir my gesê een van die mans het ’n mes.”

tifny
Toe Tifny die mans begin afneem, het hulle hul gesigte toegemaak en weggeloop. Foto: Verskaf

Tifny het aangehou om haar toeter te blaas, maar niemand het gestop om hulle of die motoris te help nie. 

Dit is toe dat Tifny haar selfoon uithaal om die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die gebied te bel. 

“Nadat ek die GPF gebel het, het ek my selfoon uitgehaal en die mans begin afneem. Dit is toe dat hulle hul gesigte begin toemaak en begin wegloop.”

Sy vertel sy het besef sy is in ’n gevaarlike situasie, want haar voet het begin bewe. Maar Tifny was nie van plan om die motoris aan sy eie genade oor te laat nie. 

Sy het vir hom gesê hy moet tot by die naaste vulstasie ry en hom beloof dat sy agter hom sal ry en haar noodligte sal aanskakel.

tifny
Die motoris was besig om sy wiel om te ruil toe twee mans na hom toe gestap het. Foto: Verskaf

Tifny en haar kollega het toe vir omtrent een kilometer agter die man tot by die vulstasie gery. 

“Ek het die man toe daar gelos sodat ek net eers my swanger kollega huis toe kon neem, waarna ek weer teruggery het na die vulstasie om te kyk of die motoris oukei is.”

Sy sê toe sy by die vulstasie kom, het sy gesien die polisie het ook opgedaag. 

“Jy weet, ek is so moeg van die slegte ouens wat altyd wen. Maar nie daardie dag nie. Ek het besluit om te stop en iemand anders te help. En ek neem nie die motoriste wat verby ons gery het kwalik omdat hulle nie ook gestop het nie. Dit is ’n brandpunt, maar iemand wat dit nie weet nie, gaan dink dit is oukei om daar te stop.”

tifny
Tifny sê sy is moeg daarvoor dat die slegte ouens altyd wen en het besluit om die motoris te help. Foto: Verskaf
Tifny vertel sy het by die huis begin bewe ná die voorval en besef in watter gevaar sy en haar kollega regtig was.

“Ek het by die huis besef ek het my en my swanger kollega se lewe in gevaar gestel. Maar ons hoor so baie van mense wat in daardie begraafplaas gesteek word of van erge voorvalle in daardie gebied.”

Sy sê dit gaan haar verstand te bowe dat kriminele nou al sommer helder oordag in die verkeer kanse sal vat om iemand leed te probeer aandoen. 

“Dit is amper asof misdadigers net nie meer omgee nie. Weet jy hoe ek en my kollega net daagliks moet seker maak dat ons oukei is? Ons ry elke dag daardie pad wanneer ons na die industriële gebied by die lughawe moet ry. Ek dink ons is nou al so gewoond om vir gevaar uit te kyk. Dis nogal sleg dat ons so moet lewe.”

Sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Huisgenoot bevestig. 

“Ons kan bevestig dat die polisie na die toneel uitgeroep is, maar ’n saak is nie oopgemaak nie. Niemand is beseer nie en niemand is in hegtenis geneem nie.”