Die Boksburg Dierebeskermingseenheid (DBV) aan die Oos-Rand het hul hande vol nadat hulle onlangs by ’n huis in Springs op altesame 37 opregte Yorkshire Terrier-hondjies en vier opregte Toy Pomeranian-hondjies onder skokkende swak lewenstoestande, by ’n teler hier moes beslag lê.

Vicky Finnemore, bestuurder van die Boksburg DBV, vertel sy glo die huis, wat hulle verlede Vrydag besoek het, is in “maande, selfs jare” nie skoongemaak nie.

In haar 17 jaar by die DBV het sy al verskriklike tonele gesien, en dit wat sy hier beleef het, het haar geskok.

“Die urine het die matte heeltemal deurweek, as jy op die matte geloop het, het jou voet letterlik vasgesit. Die honde was in klein kampies opgedeel, elk met hul ma’s en haar werpsels, in elke vertrek van die huis – die kombuis, die badkamers, die slaapkamers, selfs die hoofslaapkamer was daar honde. Die stank was ondraaglik, dit het ’n mens naar gemaak.

In die huis waar die honde gekry is. Foto: Faceboo
In die huis waar die honde gekry is. Foto: Facebook
Een van die honde, wat in 'n swak toestand was. Fo
Een van die honde, wat in 'n swak toestand was. Foto: Facebook
Een van die hondjies, wat gered is. Foto: Facebook
Een van die hondjies, wat gered is. Foto: Facebook
Een van die hondjies, wat gered is. Foto: Facebook
Een van die hondjies, wat gered is. Foto: Facebook

Vicky vertel die DBV in Springs het verskeie klagtes van beweerde dieremishandeling van die publiek ontvang oor dié groot huis in die residensiële area in Springs.

“Hulle het oor ’n tydperk vier kennisgewings by die huis vir die eienaar gelaat om hulle te kontak, maar hulle het geen reaksie gekry nie. Die vrou wat hier woon, teel en verkoop die honde van haar huis af, ek vermoed die mense het sekerlik gesien wanneer hulle gekom het om hondjies te koop, die honde se omstandighede is nie op standaard nie.

“Die Springs DBV is ’n baie kleiner tak en hulle het nie hul eie inspekteur nie. Net ’n inspekteur kan ’n lasbrief by ’n landdros bekom om ’n huis binne te gaan en op diere beslag te lê,” vertel Vicky.

Sy sê dit is toe dat hulle ingryp.

“Ons inspekteur het ’n lasbrief by ’n senior landdros in Springs bekom en ek en van die Springs DBV-personeel is na die huis toe. Toe ons daar aankom, het hy gesê sy vrou is nie by die huis nie. Ons is toe by die huis in om ondersoek in te stel.”

“Ek weet nie hoe die mense selfs in sulke toestande kon woon nie.”

Vicky-hulle het op 41 honde beslag gelê.

“Die hondjies is nie vir aanneming beskikbaar nie aangesien daar nou eers ’n dossier saamgestel moet word om die eienaar by die polisie amptelik van dieremishandeling aan te kla. Dit kan ’n lang proses raak, intussen sorg ons vir die hondjies.”

Vicky maan mense om nie telers soos dié te ondersteun nie. “Daar is duisende hondjies in skuilings, opregte hondjies soos Toy Poms en Yorkshire Terriërs, wat nie huise kry nie en eindelik uitgesit moet word.”

Sy vertel dit gaan nou reeds baie beter met die honde.

“Toe ons hulle pelse afskeer, kon ’n mens sien hulle is selfs gebrand, soos dit deurweek was deur die urine en ontlasting.”

Een van die hondjies, wat gered is. Foto: Facebook
Van die hondjies wat gered is, is nou in 'n beter toestand as tevore. Foto: Facebook
Een van die opregte Toy Pom-hondjies wat gered is.
Een van die opregte Toy Pom-hondjies wat gered is. Foto: Facebook

Vicky doen ’n beroep op enigiemand wat hulle wil bystaan dat skenkings van kos vir klein hondjies en kombersies waardeer sal word, asook bydrae vir mediese onkoste vir van die honde. Meer besonderhede is op hul Facebook-blad beskikbaar.