Die opposisieloopgrawe van Suid-Afrikaanse politiek is nie ’n plek vir sissies nie, maar die Demokratiese Alliansie (DA) het met die jare ál beter in verkiesings gevaar. En met dié party aan die spits van politieke verset teen Jacob Zuma, staatskaping en korrupsie, het dit al begin lyk of ’n ANC-nederlaag in 2019 tóg nie onmoontlik sal wees nie.

Maar toe word Zuma se presidentskap kortgeknip. Cyril Ramaphosa vervang hom as staatshoof en skielik is dit asof die mat onder die DA uitgepluk is. Ramaphosa het nie net baie Suid-Afrikaners se hart gesteel met sy toeganklikheid tydens staptogte nie; hy het ook groot indruk gemaak met sy inhuldigingstoespraak en begin werk aan probleemkwessies wat al lank boaan die DA se agendalys was.

En die DA? Hulle is die laaste ruk om verkeerde redes in die nuus. Binnegevegte, vrae oor hul bestuur van die Wes-Kaapse waterkrisis, koalisies wat dreig om te verbrokkel en Helen Zille se omstrede uitlatings op Twitter laat dit al voel asof die DA nie weet watter kant toe nie.

Op die party se pas afgelope federale konferensie in Pretoria is eenheid voorgehou. “Ons is die enigste party wat waarlik vir alle Suid-Afrikaners is,” het Mmusi Maimane, wat as DA-leier herkies is, gesê.

Maar is die DA aan die inplof? Gaan hulle in volgende jaar se algemene verkiesing swakker eerder as beter vaar?

DIE RAMAPHOSA-EFFEK

Dit is beslis ’n uitdagende tyd vir die DA, sê Daniel Silke, direkteur van Political Futures Consultancy.

“Dit was betreklik maklik vir die DA met Jacob Zuma as die teiken van hul kritiek. Maar nou is hy uit die prentjie en hulle skarrel om nuwe taktiek teen Ramaphosa, wat ’n aantreklike leier is en dikwels dieselfde taal as party DA-ondersteuners praat, te ontwikkel.” Nog ’n probleem vir die DA is dat Ramaphosa stappe doen om die ANC reg te ruk en sodoende die DA se kollig steel.

Pres. Cyril Ramaphosa.

“Staatsagentskappe soos die nasionale vervol-gingsgesag en Valke het nou wakker geskrik.” Die DA moet toenemend sy steunbasis probeer uitbrei. Maar dit sal nie maklik wees nie, want Ramaphosa is gewild onder stedelike swart kiesers. “Hulle moet met ’n nuwe strategie vorendag kom.” Die onafhanklike politieke ontleder prof. Somadoda Fikeni stem saam. “Die ANC se beleid en ideologiese fokus beweeg na sosiaal-ekonomiese transformasie, en dit is ’n gebied waarop die DA nie baie sterk figureer nie,” sê hy.

DIE SWART STEM

Die DA moet ’n reusebrug tussen sy tradisionele steunbasis en ’n nuwer, swart een oorsteek, sê Daniel. Met Maimane aan die stuur word ’n nuwe kultuur ontwikkel. “Dit word ’n diverse party en daar is verdiepende menings oor sake soos swart ekonomiese bemagting, gelyke indiensneming en grond.”

Die DA sal ’n reusebrug tussen sy tradi­sio­nele steunbasis en ’n nuwer, swart een moet oor­steek.

Die party het nog nie ’n behoorlike middeweg gevind nie, wat dit vatbaar vir kritiek maak.” Dirk Kotzé, professor in politieke wetenskap aan Unisa, sê dit maak dit moeiliker om gemeenskaplike standpunte te vind, wat faksies skep en wedywering om poste veroorsaak.

Die Oos-Kaap

Die EFF se voorgenome mosie van wantroue teen die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Athol Trollip, is vir die DA ’n groot kopseer. Somadoda sê as die DA sy mag in Nelson Mandelabaai verloor, kan dit beteken die koalisies onder DA-leiding in die metropole Johannesburg en Tshwane kan ook verbrokkel. Teen ons druktyd het die DA en die Patriotiese Alliansie ’n koalisie gesluit in ’n poging om Trollip as burgemeester te behou.

Die African Independent Congress het ook gesê hy sal Trollip steun.

DIE VERKIESING IN 2019

Die DA behoort tussen 28 en 30% van die stemme in volgende jaar se algemene verkiesing te kry, meen Dirk. “In al die verkiesings sedert 1999 het hulle gegroei, ongeag wie president was, en daardie neiging sal waarskynlik voortduur.”

Somadoda voorspel die DA sal hard moet werk as hy die 27% van stemme wil behou wat die party in die 2016-munisipale verkiesing gekry het omdat hy meen hul steunbasis taan.

“Ons is die enigste party wat waarlik vir alle Suid-Afrikaners is,” sê Mmusi Maimane.

KONGRESDINGE

Die 2 000 afgevaardigdes het die volgende leiers herverkies: Maimane (hoofleier), Trollip (federale voorsitter en James Selfe (voorsitter van die federale raad). Maimane het in sy slottoespraak benadruk die DA sal hom toespits op die bou van ’n Suid-Afrika vir alle rasse, werkgeleenthede en “’n algeheel nuwe regering, gelei deur ons en ons waardes”.

Die DA bly teen die ANC en EFF se beleid van onteiening sonder vergoeding gekant. Almal moet die waardigheid van huis- en grondeienaarskap kan geniet, maar dis nie nodig om die grondwet daarvoor te verander nie. Die kongres het ook teen ’n “kwotastelsel” wat Suid-Afrika se demografie weerspieël vir sy ampsdraers besluit.

Die droogte

As regerende party in die Wes-Kaap het die DA nie goed met die bestuur van die provinsie se kwynende watervoorraad gevaar nie, sê Somadoda.

Die Wes-Kaapse droogte.

“Die verantwoordelikheid vir die bestuur daarvan is uit die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, se hande geneem en aan die onderburgemeester, Ian Neilson, gegee.

“Toe kom sê Zille boonop ‘dis my rol’ en Maimane tree in en sê ‘ek lei dit’ . . .” Die binnegevegte oor wie vir die bestuur van die krisis verantwoordelik was, het die party se tradisionele steunbasis ondermyn, beaam Daniel.

Die binnegevegte

Die hantering van Patricia de Lille se dissiplinêre verhoor is die morsigste ding wat die DA gedoen het, sê Somadoda. Sy word daarvan aangekla dat sy die party in oneer gebring, met die keuringsproses van die stadsbestuurder ingemeng en wanadministrasie toegesmeer het.

Die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille.

De Lille, wat beweer sy is ’n slagoffer van ’n heksejag, het in Februarie ’n mosie van wantroue deur haar eie party met een stem oorleef. Maar die DA-kongres het pas ’n nuwe “herroepingsklousule” by sy grondwet ingesluit. Daarvolgens kan openbare verteenwoordigers herroep word as die party vertroue in hulle verloor. Party Wes-Kaapse afgevaardigdes en ontleders glo dié klousule kan teen De Lille ingespan word.

#Zille

Verlede jaar het Helen Zille dissiplinêre optrede in die gesig gestaar vir twiets waarin sy gesê het die nalatenskap van kolonialisme is “nie net negatief” nie. Maar die Wes-Kaapse premier kan steeds nie Twitter weerstaan nie.

Helen Zille en Patricia de Lille.

Onlangs is sy gebraai oor haar twiet oor die Life Esidimeni-tragedie (die dood van 144 psigiatriese pasiënte wat deur die Gautengse welsyndepartement in privaat sorg geplaas is). Zille gebruik Twitter op ’n onverantwoordelike manier, maar mense is nou aan haar gewoond, sê Dirk.

WAT MOET DIE DA DOEN?

Die party moet sy boodskap verfyn en sy beleide verduidelik as dit die steun van tradisionele ondersteuners wil behou én nuwe kiesers wen, sê Daniel. “Die DA het nog altyd gesukkel om te verklaar waarvoor dit staan,” sê hy.

“Hulle het ’n baie interessante beleid oor grondonteiening en -herverdeling, maar die meeste Suid-Afrikaners het waarskyn- lik geen idee wat dit is nie.” Die party steun ’n proses wat “regstelling in landelike gemeenskappe wil bereik, landelike mense uit armoede lig en groei en vooruitgang in die landbousektor ondersteun”.

En hy moet nog altyd die ANC verantwoordbaar hou, want selfs onder Ramaphosa is die ANC “nie silwerskoon nie”, sê Daniel.

Mmusi Maimane, wat onlangs as DA-leier herkies is.

HOE VAAR MAIMANE?

Hy beleef ’n moeilike tyd as die party se eerste swart leier, maar het wel gegroei, sê Daniel. Somadoda beskryf hom as ’n talentvolle man. “Maar sy gebrek aan ervaring tree na vore in sy hantering van meer ingewikkelde kwessies.”

Dirk sê: “Dis nog baie vroeg in sy politieke loopbaan en ons sal moet kyk hoe hy hierdie moeilike party, wat meer divers word, be- stuur.”

FOTO'S: GCIS, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLOIMAGES/FOTO24/NELIUS RADEMAN, GALLOIMAGES/NETWERK24/JACO MARAIS