Henri van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en regsverydeling.

Sy ouers en broer is op 27 Januarie 2015 in hul huis op die luukse De Zalze-gholflandgoed vermoor. Sy suster, Marli, het lewensingrypende beserings tydens die voorval opgedoen. Henri ontken skuld op al die aanklagte.

Tydens Olckers se getuienis op 10 Oktober het sy aangedui net 128 van die 151 DNS-monsters wat hulle van die staat ontvang het, wetenskaplik geldig is.

Sy het ’n konsep-dokument van haar DNS-bevindinge aan Henri se verdediging gestuur. Sy het daarna korreksies aangebring en haar verslag gefinaliseer nadat lt.kol. Sharlene Otto (vir die staat) getuig het. 

In reaksie daarop, word Olckers deur die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, gevra of sy haar verslag voltooi het in ooreenstemming wat Henri se verdediging met die verloop van tyd versoek het.


“Ja, die omvang het vernou, en soos wat dit vernou het, het ek daaroor verslag gedoen. Dit is hoekom ek dit ’n opsomming noem.”


Regter Siraj Desai vra vir haar of die finale verslag op bewyse gebaseer is en op die getuienis wat geopper is.

“Het jy nie ’n onafhanklike wetenskaplike verslag opgestel voordat jy die getuienis aangehoor het nie?” Sy sê nee.

Desai sê aan Olckers dit sal van hulp wees om ’n verslag te lewer voordat ’n mens se denkwyse vertroebel word deur gesprekke met raad. Adv. Matthys Combrin (vir Henri) teken beswaar aan teen die implikasie dat Olckers se denkwyse vertroebel is.

Adv. Susan Galloway, vir die staat, stel dit aan Olckers dat haar laaste praktiese ervaring in ’n laboratorium in 1985 was.

Haar werk was sedertien oor die algemeen meer akademies en administratief van aard. Olckers gee toe dat sy deesdae baie min praktiese werk doen, maar dat sy wel oor “jarelange ervaring” beskik.


Sy sê haar maatskappy help wetenskaplikes om oor DNS-getuienis verslag te lewer.

Die saak duur voort.