Dit volg nadat die staat Maandag in die Kaapse hooggeregshof verdere uitstel versoek het omdat een van hul kundige getuies steeds met siekteverlof is.

Kapt. Marius Joubert, bloedspatsel-deskundige verbonde aan die Suid-Afrikaanse polisiediens, sou aanvanklik Maandag in die hooggeregshof verskyn. Hy sou aanvanklik verlede week getuig het, maar kon vanweë ongesteldheid nie in die getuiebank verskyn nie.

Adv. Pieter Botha (vir Henri) het gesê sy kliënt kan nie juis nog 'n uitstel bekostig nie. Sy fondse is besig om uitgeput te raak.

"Die saak kos hom baie geld," het hy aan regter Siraj Desai gesê.

Die verdediging het verwag dat Joubert Maandag sou getuig. Hulle het hul eie kundige, Cobus Steyl van KwaZulu-Natal, spesiaal daarvoor na die Kaap gebring. Hy was ook in die Kaap die vorige keer toe Joubert na verwagting sou getuig.

Die staat het aangevoer dat Joubert se ongesteldheid nie deur hulle verhoed kon word nie. Sowel die verdediging as die staat het Joubert se ongesteldheid in die regter se kamers bespreek.

In reaksie daarop het Botha aangedui dat Joubert se ongesteldheid ook nie sy kliënt se skuld is nie.

Regter Desai het die saak tot 11 September uitgestel in belang van geregtigheid en 'n billike verhoor vir Henri.

Marli van Breda

Henri se jonger suster, Marli (18), se naam verskyn ook op die lys van getuienis. Sy sal egter nie geroep word om te getuig nie. Marli het ook sover bekend nie die hofsaak tot dusver bygewoon nie.

Marli en Henri het mekaar ses maande na die noodlottige aanval op hul ouers en broer en sy inhegtenisname in Junie 2016 gesien.

Onbekende DNS

Luit.kol. Sharlene Otto, forensiese deskundige, het twee weke gelede getuig oor die 216 DNS-monsters wat in die Van Breda's se luukse huis op die De Zalze-gholflandgoed gevind is.

Volgens haar getuienis is geen onbekende DNS op die toneel gevind nie.

DNS wat aan Rudi (broer) en Teresa van Breda (ma) behoort, is onder Henri se vingernaels gevind. Op Martin van Breda (pa) is ook van Rudi se DNS gevind.

Die kombuismes het net Henri se DNA getoon.

Bron: news24.com