Nadat hy verby sy gesin se bebloede liggame geloop het, het Henri van Breda sy pakkie Camel-sigarette geneem, by die kombuistoonbank gaan sit en gerook. 

Hy het gekyk na die lys noodnommers wat op die yskas se deur was en besluit dit is van geen nut nie. Toe google hy ’n noodnommer om te bel. 

Dít is deel van die getuienis van die enigste beskuldigde in die De Zalze-moordsaak, Henri van Breda. 

Op dag 54 van die verhoor het Van Breda in die Kaapstadse hooggeregshof by die getuiebank ingeskuif. Hy het sy keel skoongemaak en gereedgemaak om regter Siraj Desai presies te vertel wat volgens hom op 27 Januarie 2015 gebeur het. 

Sy ouers, Martin en Teresa, en broer, Rudi, is op dié dag met ’n byl in hul huis buite Stellenbosch vermoor. Sy suster, Marli, is ook aangeval, maar het oorleef. Van Breda word aangekla van die moorde, poging tot moord en regsverydelig.

Van Breda het die hofsaal vroegoggend selfversekerd ingestap. Hy het ’n grys das met eende op, ’n grys hemp en donker pak aangehad. Die klein vliegtuigborsspeld wat sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg, hom gegee het, was aan sy baadjie gesteek.

In ’n gepakte hofsaal het Van Breda se oom André du Toit in die hoek van die galery ingeskuif. Hy is die enigste familielid wat die hofsaak in hof 1 bywoon. 

Tydens sy getuienis het Van Breda sag gepraat en sy regspan, asook die regter, het hom ’n paar keer gevra om harder te praat. 

Die gesin keer terug na Suid-Afrika

Hy het getuig hulle het vanweë Martin se werk van Australië teruggetrek na Suid-Afrika, en ook omdat sy ma naby familie wou wees. 

Van Breda sou ’n gapingsjaar neem, terwyl Rudi in Australië verder sou studeer. Hy sou ’n duikkursus in Natal voltooi. 

“Beskryf aan die hof hoe jul gesin was,” het adv. Pieter Botha Van Breda gevra.

“Ons was ’n baie hegte gesin en het gereeld dinge saam gedoen,” het hy getuig. 

Hy het gesê die gesin het die dag voor die moorde (op 25 Januarie) gaan haaihokduik. 

Die aand van die moorde het hulle volgens Van Breda as gesin saam om die tafel aandete geëet, waarna hy, sy pa en broer Star Wars gekyk het. 

Musiek en harde geluide

Later het almal gaan slaap en hy het in sy bed gelê en musiek geluister, het Van Breda getuig.  

“Ek is later badkamer toe en het met my foon op die toilet gesit. Ek het toe snaakse, harde geluide in die kamer gehoor,” het Van Breda gesê.

Hy het getuig hy het die silhoeët gesien van ’n man wat Rudi slaan en om hulp geroep. Sy pa het die kamerlig aangesit en die vertrek binnegegaan. Die aanvaller het Martin met ’n byl aangeval, het Van Breda getuig. 

“Waarom het jy nie jou pa gehelp nie?” het Botha gevra. 

“Ek weet nie; ek was baie bang,” het hy geantwoord.

Van Breda het volgens sy getuienis later uit die badkamer geloop en met ’n aanvaller in ’n struweling betrokke geraak. Hy het volgens sy getuienis toe meswonde opgedoen en die byl afgevat. Die aanvaller het uit die kamer gevlug. 

Van Breda het getuig hy het twee mense buite die kamer Afrikaans hoor praat. Hy het verby sy bebloede ma en suster op die vloer by die ingang geloop.

Hy het die aanvaller onder by die trap gesien en die byl na die aanvaller gegooi, is in die hof gehoor.

Volgens die getuienis is Van Breda toe na die agterdeur, maar hy het niemand gesien nie. Hy het sy destydse meisie, Bianca van der Westhuizen, probeer bel, maar sy het nie geantwoord nie.

“Waarom het jy nie na die bure om hulp geroep nie?” het Botha gevra. 

“Ek weet nie. Wanneer ek nou daaraan terugdink, moes ek,” het Van Breda geantwoord. 

Volgens sy getuienis is hy toe terug na die eerste verdieping. Hy het roggelgeluide van Rudi gehoor en gesien Marli beweeg haar een arm en been. Toe verloor hy sy bewyssyn, is getuig.

Later het Van Breda wakker geword weens ’n luiende telefoon en omdat die gesinshond, Sasha, geblaf het. 

“Ek het verby my ma en suster na die kombuis geloop, ’n sigaret aangesteek en op my foon noodnommers gesoek.”

“Op die stemopname (van die oproep) na die noodnommer kilnk dit asof jy giggel,” het Botha dit aan Van Breda gestel. 

“Ek het nie gegiggel nie. Ek het gesê ‘please’,” het hy geantwoord.

Van Breda het getuig toe die polisie en nooddienste op die toneel opdaag, het lede van die polisie aan hom gesê hulle glo nie sy “bulls*** storie” nie. 

Die noodoproep

Die verhoor duur voort.