Van Breda het in die middel van kruisondervraging, gelei deur adv. Susan Galloway, aan regter Siraj Desai gevra of die hof kan verdaag. Trane het opgewel in van Breda se oë. Hy het uit die getuiebank geklim en vlugtig by die hof uitgeloop. 

Sedert die begin van die hofsaak vroeër vanjaar is van Breda wyd gekritiseer deur die publiek omdat hy emosieloos in die beskuldigdebank sit.

Adv. Galloway het Maandag met kruisondervraging begin. Voor die onderbreking het sy aan van Breda gevra hoe hy die byl so maklik by die aanvaller kon afvat, nadat dieselfde aanvaller dieselfde wapen gebruik het om sy ander gesinslede wreed te vermoor. 

'n Polisiebeampte, sers. Malan, wat naastenby so lank is as die aanvaller wat deur Henri beskryf is, is versoek om deel van 'n demonstrasie te wees waartydens Henri die aanval aan die hof moet uitbeeld.

“Ek het probeer om hom te oorval. Ek het nie besef ek was sterker as hy nie. Ek besef dit nou. Ek was bang en onseker en het nie enige woede gevoel nie.

Hierop het regter Desai gevra: “U pa, u ma en u broer is vermoor. Het u géén woede gevoel nie?” 

“Ek kan nie onthou dat ek kwaad was nie,” het van Breda geantwoord. 

“Dink ek nou terug, moes ek gereageer het.”

Regter Desai het gesê hy probeer verstaan waarom van Breda nie gereageer het nie.

“Ek was oorweldig gewees,” het van Breda gesê. Kort daarna het hy gevra die hof moet verdaag en het uitgeloop met betraande oë. 

Met die hof se aanvang het Galloway van Breda gevra of dit vir hom vreemd is dat die aanvaller sy gesinslede wreed vermoor het, maar na van Breda toe geloop en lag het. 

“Dit is. Ek was self verbaas dat ek die byl so maklik by hom kon afvat,” het hy geantwoord. 

Galloway het na Henri se wonde as oppervlakkig gewys in vergelyking met sy familie se wonde. Sy het verwys na vorige getuies wat getuig het dat Henri se wonde self toegedien is. 

“Volgens tekste is wonde wat self toegedien is, nie diep nie en is horisontaal – soos joune.”

“Ek stem nie saam nie,” het van Breda geantwoord. Nadat hy die byl by die aanvaller afgevat het, het van Breda die aanvaller met die byl gegooi, het hy getuig.

Regter Desai het aan hom gevra waarom hy dit gedoen het en nie byl gehou het vir selfverdediging nie. 

“Dit was instinktief,” het van Breda geantwoord. 

“Ek sukkel om jou redenasie te glo. Jy vat die byl af, gooi dit en het niks om jou mee te verdedig nie. 

“Korrek. As ek terugkyk was dit verkeerd van my om te doen,” het Van Breda geantwoord.