Du Trevou, ‘n neurochirurg van KwaZulu-Natal, het getuig Henri van Breda kon meer as twee en ‘n halwe uur bewusteloos wees vanweë 'n ligte kopbesering wat hy opgedoen het.

Hy het ook kortweg oor Rudi van Breda, Henri se ouer broer, getuig. 

Henri word vir die driedubbele moord op sy ma, pa, Martin, en ouer broer, Rudi, aangekla. Hy staan ook tereg op poging tot moord en regsverydeling. Die brutale aanval op die gesin het die oggend van 27 Januarie 2015 in hul huis op die luukse De Zalze-gholflandgoed plaasgevind.

Henri was volgens sy pleitverduideliking op die toilet ten tyde van die aanval.

Bewusteloos of nie?

Henri beweer hy het sy bewusyn vir twee uur en 40 minute verloor ná hy sy bebloede suster, Marli, en ma, Teresa, op die trappe van hul huis gevind het.  

'n Foto wat in die hof gewys word, toon 'n geringe besering op Henri se voorkop – iets waarna regter Siraj Desai verwys as "kwalik 'n kneusplek". Adv. Pieter Botha (vir Henri) het onmiddellik beswaar aangeteken.

Ook sigbaar op die foto is Henri se linkeroog wat blou is en kneusing sigbaar onder altwee sy oë. Du Trevou beskou die beserings nie as ernstig nie.

Du Trevou het gesê dit is moeilik om vas te stel of Henri sy bewusyn vir die volle tydperk van twee uur en 40 minute verloor het en of hy bloot net nie kan onthou wat in daardie tydperk gebeur het nie. 

Adv. Susan Galloway, vir die staat, het dit aan Du Trevou gestel dat die dokter wat van Breda na die moorde ondersoek het, het geen teken van ‘n ernstige kopwond aan Henri gesien nie. Henri het ook niks aan die dokter van ‘n hou teen die kop genoem nie en daarom is hy nie vir ‘n kopskandering geneem nie. 

Volgens Du Trevou kan iemand met 'n ligte tot matige breinbesering tot 2 uur en 40 minute bewusteloos wees. Maar volgens hom kan die voorgee van bewusteloosheid nie uitgesluit word nie.

Du Trevou het gesê 'n ander moontlike rede vir iemand om hul bewussyn te verloor is wanneer ‘n persoon groot emosionele spanning ervaar en sy liggaam vir ‘n kort tydperk meegee.

Du Trevou sê sportmanne kan wel soms harsingskudding opdoen en agterna glad nie die voorval onthou nie. Dit geld dalk ook vir Henri.

Galloway het gesê die moontlikheid van alkoholgebruik en medikasie kan uitgesluit word in die moontlike rede vir van Breda se bewusteloosheid. 

'Roggelende geluide'

Rudi van Breda se nadoodse ondersoek is ook vandag in die hof bespreek. Sy liggaam is sowat 1 m gevind van waar hy in die slaapkamer op sy bed aangeval is.

Volgens Du Trevou sou Rudi se beserings nie onmiddellik tot sy dood gelei het nie. Du Trevou gesê Rudi kon dalk beweeg het na die aanval. Hy gaan akkoord met dr. Reggie Perumal se verslag daaroor.

Terwyl hy nie wou spekuleer hoe lank dit sou neem voordat Rudi gesterf het nie, sê hy Rudi kon moontlik tot op sy laaste lewende oomblik geroggel het. Hy betwyfel of die geroggel enigsins woorde sou wees wat deur Rudi geuiter sou word, maar dit dit in alle waarskynlikheid deur bloed of speeksel in sy keel veroorsaak is.

Die saak gaan Dinsdag voort. Botha sal na verwagting twee getuies roep.