Op Maandag, 12 Februarie 2018 lewer die staat slotbetoë in die saak waarvolgens ’n lid van die oënskynlik hegte gesin van drie klagte van moord, een van poging tot moord en regsverydeling aangekla word.

Henri van Breda, die beskuldigde, het dié keer met ’n kaalgeskeerde kop die kameras se aandag vasgevang.

1. Die moord

Martin (54) van Breda, sy vrou, Teresa (55) en hul oudste seun, Rudi (22) het in die vroeë oggendure van 27 Januarie ’n afgryslike dood gesterf.

Hul dogter, Marli (toe 16) het die aanval oorleef. Hul jongste seun, Henri (toe 20) het met geringe wonde en kneusings die aanval oorleef.

2. Inhegtenisname

Bykans 18 maande ná die opspraakwekkende moord, gee Henri homself op 13 Junie 2016 oor by die Stellenbosse polisiestasie.

Hy word in hegtenis geneem en bring die nag in die selle deur.  Hy word deur landdros Lungelo Juma op borgtog van R100 000 vrygelaat.

Die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap se woordvoerder Eric Ntbazalila het die media op 14 Junie 2016 toegespreek oor wat tot verskeie klagte teen Henri van Breda gelei het.

3. Marli se moeisame pad na herstel

Die brutale aanval het byna die tiener se lewe geëis. Haar hoofslagaar is met ’n byl afgekap en sy het breinbeserings opgedoen. Sy moes maande lank intesiewe fisioterapie ondergaan en is van haar enigste oorlewende sibbe, Henri, weggehou.

In Oktober 2016 bepaal die hooggeregshof dat sy steeds onder die wakende oog van ’n kurater, adv. Louise Beukman, geplaas sal bly al is sy reeds 18 jaar oud.

’n Opvolgverslag sal vroeg in 2018 ingedien word waarvolgens daar oor die voortsetting al dan nie van kuratorskap beslis sou word.


4. Verskyning in die hof

Op 4 April 2017 verskyn Henri in die Wes-Kaapse hooggeregshof en pleit onskuldig op die aanklagte teen hom. Hy praat van ’n aanvaller wat ’n tuisgemaakte masker gedra het en “in Afrikaans gelag het”.

Hier is sy volledige pleitverduideliking.

5. Die veelbesproke noodoproep

Janine Philander was die noodlynoperateur wat geantwoord het toe Henri van Breda die nooddiens die oggend van 27 Januarie 2015 om 07:12 bel.

Sy het Dinsdag, 16 Mei 2017, in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig dat sy aanvanklik gedink het dit is ’n poetsoproep.

“Hy het huiwerig geklink en toe gegiggel. Ek het gedog dit was ’n poets. Maar hy was agterna kalm,” het sy getuig.

6. Die swaai van die byl

In ’n toneel wat menige mense die koue rilllings sou gee, moes Henri op 1 November in die hof wys hoe hy met die byl aangeval is en hoe hy homself verdedig het.

Adv. Susan Galloway, die staatsaanklaer, het ook ’n persoon wat ongeveer dieselfde grootte is as die aanvaller soos deur Henri beskryf, as deel van die demonstrasie ingespan om die aanval op Henri en sy en verweer uit te beeld.

7. ‘Skielike geheueverlies’

Op 27 November 2017 getuig dr. James Butler, ’n neurloog, oor Henri se beweerde epilepsie. Henri voer aan hy was vir 2 uur en 40 minute bewusteloos op die oggend van die brutale aanval.

Die neuroloog getuig hy het die diagnose gemaak na hy Henri ondersoek het by die Constantiaberg-kliniek naby Kaapstad.

Bykomende bronne: iol.co.za. netwerk24.com, heraldlive.co.za