“Ek het niks buitengewoon gehoor nie.”

Dít was Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof die getuienis van Annelize Taljaard, ’n gewese buurvrou van die Van Breda-gesin, oor die aand van die wrede aanvalle. 

Henri van Breda word vir die driedubbele moord op sy ma, pa, Martin, en ouer broer, Rudi, aangekla in hul huis in Goskestraat 12 op die luukse De Zalze-gholflandgoed. Hy word ook van poging tot moord op sy suster, Marli, en regsverydeling aangekla. 

Annelize, wat ten tyde van die moord by Goskestraat 14 saam met haar drie kinders gewoon het, het getuig dat sy baie lig slaap en al tevore wakker geword het van mense op die landgoed wat kuier en braai. Tog het sy dié spesifieke aand niks gehoor het nie.

Sy het omstreeks tienuur die aand van 26 Januarie 2015 gaan slaap in die kamer wat sy met haar jongste dogter gedeel het.

Sy het soos gewoonlik vyfuur die oggend opgestaan, gaan swem vir oefening en was omstreeks seweuur terug om die kinders skool toe te vat. Eers toe sy terugkom by die huis, het ’n vriendin by haar aangeklop wat vir haar gevra het wat in die straat aangaan, en dit is toe wat sy ’n ambulans en polisievoertuig gewaar het.

Sy het nie die Van Breda’s geken nie, maar het Teresa eenkeer by ’n kosdemonstrasie ontmoet by haar ouers se huis, wat ook in De Zalze woon.

Adv. Megan Blows, vir die staat, het dit tydens kruisondervraging aan haar gestel dat daar tussen haar en die Van Breda’s se huis ’n verdiepinghuis was en dat sy nie reg langs die gesin gewoon het nie. Sy het toegegee dat dit die geval was. 

Annelize Taljaard

Sy het ook toegegee dat sy glad nie 'n Star Trek-flim se klankbaan gehoor het, soos die verdediging aanvoer nog 'n buurvrou gehoor het die aand van die moorde nie, ook nie harde kapgeluide soos Henri aanvoer hy die aand gehoor het of dat Henri om hulp geroep het nie.

Die verdediging het ook Charl Rabie van Energized Fencing and Systems geroep om te getuig oor die elektriese heining van De Zalze en of iemand moontlik toegang tot die perseel kon kry. 

“Baie mense wat in 'n sekuriteitskompleks woon, verkeer onder die indruk dat niemand daar kan inkom nie, maar dit is nie die geval nie.”

Volgens hom kan iemand wat die perseel wil betree, wel ’n plan maak om dit te doen. “Hulle kan dit doen deur die twee drade met ’n plastiekpyp uitmekaar te trek en deur te klim. As daar ’n muurtjie of heining is wat jou hoogte gee, sal jy oor die heining kan spring.”

Nog oor die landgoed

Die De Zalze-landgoed is in 2000 ontwikkel.

Kort ná die moord het die huiseienaarsvereniging van die luukse landgoed ’n verklaring uitgereik waarin hulle gesê het ’n ondersoek na die landgoed se sekuriteitstelsel het geen bewyse gevind van enige gepeuter aan die omheining nie.

“Die aanval (op die Van Breda’s) word beskou as ’n ongewone, geïsoleerde voorval, beperk tot die betrokke eiendom,” het die verklaring gelui.

Die Van Breda’s het in ’n vierslaapkamerhuis gewoon. Die huis het ’n swembad.

’n Eiendomsagent het gesê die eiendom is in Maart vanjaar vir R5,5 miljoen verkoop.