Konst. Jane Thandi Ntuli (36), verbonde aan die Delmas-polisiekantoor in Mpumalanga, was Saterdagaand 11 Mei van die werk op pad huis toe in haar privaat voertuig toe sy op die R42-Bronkhorstspruit-pad in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.

Dit blyk ’n ander motoris het van agter teen haar voertuig gebots.

Kol. Mtsholi Bhembe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Huisgenoot gesê Ntuli was agt maande swanger.

Sy is kritiek beseer in die ongeluk.

‘Tragiese omstandighede’

“Sy is van die toneel per lugambulans na die hospitaal vervoer. Dokters het daarin geslaag om haar baba in die lewe te bring, maar ongelukkig het sy die volgende oggend aan haar beserings beswyk.”

Hy sê dit is vir almal in die polisiediens baie sleg om die nuus te moes ontvang.

“Dit is erg as dit een van julle is wat in sulke tragiese omstandighede sterf.”

Volgens Bhembe ondersoek die polisie die bewering dat die ander motoris oor ’n stopteken gery het toe hy in haar vasgery het.

Verdagte

“ ’n Klag van strafbare manslag word ondersoek. In hierdie stadium is nog geen arrestasies gemaak nie. Die verdagte het homself die dag ná die ongeluk aan die polisie oorgegee. ’n Waarskuwingsverklaring is geneem. Dit gaan nou van die ondersoek afhang oor wat volgende gaan gebeur.”

Maj.genl. Frans Mashika, waarnemende provinsiale kommissaris in Mpumalanga, het in ’n verklaring sy medelye teenoor Ntuli se familie, die polisie en die gemeenskap wat sy gedien het uitgespreek.

Hy het benadruk bestuurders moet te alle tye – selfs laatnag op stil paaie – padreëls streng nakom om sterftes op die land se paaie te vermy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en WhatsApp, en teken in op ons nuusbriewe.