Dit was profetiese woorde toe Demi-Leigh vroeër in 2017 tydens ’n fotosessie vir Huisgenoot saam met ons voormalige Mej. Wêreld opmerk: “Ek weet sommige mense sê ek is die tweede Rolene.”

En nou is die donkerkopskoonheid pas as Mej. Heelal gekroon, nog nie eens drie jaar nadat Rolene Strauss in Desember 2014 as Mej. Wêreld aangewys is nie.

Dit is die eerste keer in amper vier dekades dat Suid-Afrika kan spog dat ons ’n Mej. Heelal opgelewer het. Die laaste keer was in 1978 toe Margaret Gardiner, ook ’n brunet, ons heel eerste Mej. Heelal was.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die oomblik toe die glimmende kroon van sowat R3,4 miljoen met 500 diamante en 120 pêrels op Demi-Leigh (22) se kop geplaas is, het ’n warrelwindjaar vir haar aangebreek. Die dag ná haar kroning op Sondagaand 26 November in Las Vegas het sy na New York vertrek, waar sy haar eerste pligte as Mej. Heelal sal uitvoer.

’n Luukse woonstel in die Groot Appel sal vir die volgende jaar haar basis wees, van waar sy die wêreld vol sal reis.

Te midde van al die opwinding van die kroningsaand is Demi-Leigh se stem verbasend kalm toe Huisgenoot skaars minute ná haar kroning met haar praat: “Suid-Afrika, jul steun was absoluut ongelooflik,” sê sy.

“Ek hoop om julle trots te maak en die volmaakte toonbeeld te wees van wat ’n jong Suid-Afrikaanse vrou is”

Kort voor haar vertrek na die 66ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie was dit duidelik Demi-Leigh mik met alle mag na die gesogte titel. “Dit sal nie net ’n persoonlike oorwinning wees nie, maar ook een vir my land,” het sy toe aan Huisgenoot gesê.

“Jy ken daardie vreugde wanneer die Springbokke wen? Ek wil daardie vreugde na ons land terugbring; ek wil daardie Springbok wees wat die beker huis toe bring.”

En weer was dit profetiese woorde...

As net die tweede Suid-Afrikaanse skoonheid wat sedert die kompetisie se ontstaan in 1952 as Mej. Heelal gekroon word, was dit ’n oorweldigende oomblik vir die jong vrou van die Suid-Kaapse kusdorpie Sedgefield.

Nog ’n boorling van Suider-Afrika, die voormalige Mej. Namibië Michelle McLean, het die titel in 1992 verower.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Trane van blydskap het oor haar wange gestroom toe Demi-Leigh in ’n Anél Botha-skepping – ’n bleek rok met 50 000 Swarovski-kristalle versier – haar eerste treë as Mej. Heelal op die verhoog gee.

Die slimkop, wat ’n graad in sakebestuur aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom verwerf het, het die wêreld met haar sjarme, skoonheid en persoonlikheid oorrompel.

“Elektries,” beskryf Demi-Leigh se pa, Bennie Peters, die atmosfeer in die enorme saal.

Hy en sy vrou, Elzabé, en ook Demi se ma, Anne-Mari Steenkamp, en haar man, Johan, was in die gehoor van byna 6 000 mense wat die nuwe Mej. Heelal luid toegejuig het.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Die hele tyd het dit vir my gevoel Demi is nie net daar om ’n prys te wen nie; sy wil regtig ’n verskil in mense se lewe maak. As die organiseerders en beoordelaars net ’n mooi gesiggie gesoek het, kon hulle al die name in ’n hoed gegooi en een getrek het, want almal is uitsonderlik mooi,” sê Bennie van die 92 deelnemers aan vanjaar se kompetisie.

“Maar as hulle iemand gesoek het wat ’n platform sou skep om ’n verskil in ander se lewe te maak, sou hulle ver moes soek om iemand beters as Demi te kry,” laat hy trots hoor.

“Ons is baie dankbaar dat God haar en ons op ’n so manier geseën het,” sê Anne-Mari.

“Ek wil Demi-Leigh net aanmoedig om haar wortels te onthou en haar hand styf in God se hand te hou en elke oomblik te geniet.”

By haar ouers, haar ma, Anne-Mari (links), stiefpa, Johan Steenkamp (naaslinks), haar pa, Bennie, en stiefma, Elzabé Peters. Hulle was al vier in die reusesaal in Las Vegas om Demi-Leigh aan te spoor.

Bennie voorsien ook struikelblokke op haar pad as Mej. Heelal, veral wat kritiek in die sosiale media betref.

“Sy sal nou elke dag die fokus van miljoene mense wees."

“Demi is die nederigste, liefdevolste en sorgsaamste mens, en dit straal van binne na buite.”

Ook die stilis Werner Wessels was op die groot aand aan Demi-Leigh se sy. Hy was ook Rolene Strauss se regterhand toe sy die Mej. Wêreld-titel wen. Vra jy na sy wenresep, sê hy daar is geen spesiale bestanddeel of taktiek nie.

“Dis net ’n besonderse eienskap (van elke meisie). Ek het Demi ontmoet toe sy 16 was, en ek het vir haar gesê sy sou eendag Mej. Suid-Afrika wees. Toe het ons vyf jaar lank daardie pad saam gestap, en sy het die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gewen. Daarna het ons dadelik aan ons doelwitte vir Mej. Heelal begin werk.”

Terwyl Demi-Leigh deurgaans koel en kalm gebly het, erken Werner hy was op die kroningsaand ’n senuwrak.

“Ek doen alles tot ek niks verder vir hulle kan doen nie. Dan is ek soos ’n pappa wat geen beheer het nie en net wil hê sy babavoëltjie moet vlieg. En sy het al my verwagtings oortref,” voeg hy by.

Ook Rolene en die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam het Demi-Leigh deurgaans met hul boodskappe ondersteun, vertel Werner.

“Rolene was ’n rots vir ons albei en sy is in die wolke oor Demi. Melinda het ook haar gelukwensings gestuur, en sy is uiters trots.”

En nou het nog ’n beeldskone vrou van die suidpunt van Afrika die wêreld aan haar voete ...

ROLENE GEE RAAD

Dink sy vandag terug aan haar eerste 24 uur as Mej. Wêreld, beskryf Rolene Strauss dit as ’n byna onwerklike ervaring.

“Ek weet nie of dit regtig in die eerste 24 uur al ingesink het nie. ’n Mens ervaar ’n warboel emosies en twyfel, en jy wonder wat alles voorlê,” onthou sy.

“Jy sal baie reis, verskillende lande sien, ongelooflike mense ontmoet en ná ’n jaar soveel mooi herinnerings hê om saam met jou te neem. "

“Hoewel mense dink dit is baie glansryk, voel ’n mens tog soms alleen. Maar ek dink Demi-Leigh se vol dagboek sal haar aandag aftrek wanneer die verlange huis toe begin knaag.”

Heel eerste sal mediaonderhoude en konferensies, gesellighede en die trek na haar woonstel in New York Demi-Leigh se tyd in beslag neem, reken Rolene, wat as Mej. Wêreld ’n woonstel in Londen as basis gehad het. Haar raad aan Demi-Leigh is “om een dag op ’n slag te vat, haar beste in elke aspek van elke dag te gee en elke oomblik in te neem.

“Dit gaan so vinnig verby,” sê Rolene, wat pas haar eindeksamen as mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat afgelê het. Sy is in Februarie 2015 met die sakeman D’Niel Strauss getroud en hulle het ’n 11 maande oue babaseun. – Marisa Fockema

Wat het van Margaret Gardiner geword?

Margaret Gardiner was 18 jaar oud toe sy op 24 Julie in Acapulco, Mexiko, as Mej. Heelal gekroon is. Met haar terugkeer na haar tuisstad, Kaapstad, is ’n parade in Adderleystraat gehou, waar bewonderaars saamgedrom het om haar te sien.

In ’n tyd dat sanksies teen Suid-Afrika toegepas is, is sy toegang geweier tot party lande wat sy as Mej. Heelal sou besoek het. 

Sy is dikwels met vrae oor apartheid gepeper, en die organiseerders van die kompetisie het haar vir haar diplomasie geloof. 

Ná haar jaar as Mej. Heelal het Margaret in New York aangebly, waar sy modelwerk gedoen het.  Sy het later ’n sielkundediploma aan die Universiteit van Charleston in Suid-Caro­lina verwerf. 

Margaret en haar man, dr. André Nel, woon in Los Angeles, waar hy deesdae ’n mediese professor is en sy as joernalis werk wat onderhoude met glansmense voer. Hulle het ’n 22-jarige seun, Brandon. 

FOTO'S: Gallo Images/Getty Images, Instagram; Demi-Leigh en Rolene – Stilering: Werner Wessels; Klere verskaf deur White Runway; Grimering: Louise Volschenk; Demi se hare: Matlhogonolo Podile; Rolene se hare: Gary Rom Hairdressing