Toe kom die oproep laat Saterdagmiddag (4 Mei): Franje (13) het nie dit gemaak nie, het Elzabé Peters aan haar stiefdogter, die skoonheid Demi-Leigh Nel-Peters, gesê.

Dit was ’n hartverskeurende oproep, onthou Elzabé vandag. Die Peters-gesin is nou stukkend ná die dood van hulle “bondeltjie liefde”.  

Demi-Leigh Nel-Peters
Demi-Leigh en haar sussie. Foto: Verskaf

Elzabé vertel Maandag aan Huisgenoot die gesin is sedert Saterdag – ná Franje se begrafnis – by vriende van hulle se boshuis waar hulle Franje se seer dood saam verwerk.

“Dit gaan goed met ons onder die omstandighede,” vertel sy. “Dit was emosioneel ’n swaar week, maar die feit dat Franjetjie se swaarkry verby is, troos tog.” 

Met meer as 12 000 km tussen Demi-Leigh en haar ouerhuis, het Elzabé en haar pa, Bennie, vir haar in die laaste maande telkens voorberei op die dood van haar jonger sussie.

Franja is met subtotale serebellêre ontwikkelingstuiting gebore – ’n seldsame afwyking waar die klein harsings ontwyk. Sy kon nie praat, loop of eet nie, en is met ’n buis gevoed.

Demi-Leigh Nel-Peters
Pa en ma hou Franje se hand vas kort voor haar afsterwe. Foto: Verskaf

“Omdat Franjetjie’n lewensverwagting van vyf tot sewe jaar gegee is ná haar diagnose, dink ek die moontlikheid van afsterwe was altyd in ons agterkop. Maar aangesien sy ook al soveel maal die dood gefnuik het, het ons regtig nooit geweet wat om te verwag nie. 

“Die lewe saam met haar was hoogs onvoorspelbaar. Hoewel ons geweet het dat sy ernstig siek was, was haar afsterwe ’n skok. Ons het die laaste uur voor haar dood eers regtig besef sy is sterwend,” vertel ’n gebroke Elzabé.

Sy sê Demi-Leigh het elke keer wanneer sy in Suid-Afrika was en by haar sussie gekuier het, besef dit mag dalk die laaste keer wees.

Demi-Leigh Nel-Peters
Pa Bennie en Ma Elzabé saam met Franje. Foto: Verskaf

“Ons het Desember – nadat Franjetjie weer in die hospitaal was – vir Dems verduidelik dat omdat sy so ver woon, elke keer wat sy vir Franje sien moontlik die laaste keer kan wees. Ons het haar ook voortdurend op hoogte gehou, veral deur die loop van die Vrydagnag, van wat aangaan. 

“Dems se hart is baie seer. Dis die eerste keer wat sy afsterwe van iemand naby aan haar beleef. Dit is vir ons goed dat sy ’n paar dae saam met ons in die bos kan rus voor haar terugkeer na die VSA.”

Dit was die magteloosheid voor Franje se dood wat hulle die ergste gevang het, sê Elzabé. 

Demi-Leigh Nel-Peters
Elzabé en Franje het elke middag na werk 'n uur alleen deurgebring. Foto: Verskaf

’n Mens kan nie die magteloosheid werklik verduidelik nie. Meeste ouers sal alles ter wêreld doen om hul kinders swaarkry te spaar. Alles medies gesproke moontlik is vir haar gedoen, maar haar lyfie kon nie meer nie. Ons weet egter na ons jare saam met Franjetjie dat lewe en dood in God se hand is. Mens kan medies gesproke soms alles opgee, en die pasiënt kan lewe. Of mens kan alles menslik moontlik doen, en iemand kan steeds sterf. Ons bepaal nie die tyd nie.”

Hoewel Franje nooit ’n woord in haar lewe gepraat het nie, het sy ’n baie sterk teenwoordigheid in die huis gehad, verduidelik Elzabé. 

Maar nou steun die gesin weer ’n keer op hulle geloof – nes hulle die laaste dertien jaar gedoen het. 

Demi-Leigh Nel-Peters
Tim Tebow en Demi-Leigh saam met Franje. Foto: Verskaf

Die pynlike verlange lê nou nog vlak, sê sy: Die middae wanneer Franje rustig op haar skoot gesit het en met tye net daar op haar ma se skoot aan die slaap geraak het; die aande wanneer sy tussen Bennie en Elzabé genestel gelê het . . .

“Ons mis daai slaapwarm-lyfie. Daar is soveel klein goedjies waarna ons verlang . . . Maar dis nie asof dit nou eers moeilik is nie. Gestremdheid is ’n intense verlieservaring. Die tweede moeilikste dag in die lewe van ouers van ’n gestremde kind, is wanneer daardie kind gediagnoseer word. Die moeilikste dag is wanneer hulle opgeroep word na die hiernamaals.

Demi-Leigh Nel-Peters
Klein Franje. Foto: Verskaf

“Ons is bevoorreg om deur ’n wonderlike kring van familie en vriende ondersteun te word, want gestremdheid is ook ’n goeie ‘sif’. Talle mense wat voorheen deel van ons lewe was, maar nie kans gesien het om hierdie moeilike pad saam met ons te stap nie, het geleidelik verdwyn. En die wat oor is, is friends for life.”

Die rouproses is ’n lang pad vir die gesin, meen Elzabé. ’n Lewe sonder Franje kan hulle nog nie indink nie. 

“Uit die aard van my werk as kliniese sielkundige weet ek ’n ongekompliseerde rouproses neem minstens dertien maande; en gekompliseerde rou dikwels langer. Tans hanteer ons die lewe uur vir uur. As dit ’n slegte uur is, snik ons saam, as dit ’n goeie uur is, lag ons saam. En môre begin ons oor.”

Demi-Leigh Nel-Peters
Franje saam met pa Bennie. Foto: Verskaf