Navorsers aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis (UNSW) en die Centenary Institute in Australië het 'n middel ontdek wat die vervaardiging van vetselle beperk – volgens die UNSW 'n "groot stap vorentoe in die stryd teen stygende vlakke van vetsug en metaboliese siektes".

Nie net kan 'n doeltreffende pil teen gewigsprobleme hieruit ontwikkel word nie; dit kan ook teen onder meer hartkwale en kanker help, verklaar hulle.

In 'n navorsingstudie op muise het die diere wat die middel, voorlopig bekend as PO53, ingegee is, viets gebly selfs wanneer hulle ryk kosse gevoer is. Die middel vuur die verbranding van vette, insluitend cholesterol, deur die spiere aan, pleks daarvan dat dit in die liggaam opbou. En nou reken die kenners dié proses kan ook mettertyd in mense werk.

Die navorsers het aanvanklik gemik na die ontwikkeling van 'n middel wat 'n bepaalde ensiem sou teiken wat die lipiedmolekules vervaardig wat met insulienweerstandigheid verbind word, volgens die UNSW. Die studie, wat in die gerekende wetenskapjoernaal Nature Communications gepubliseer is, het gewys al was die middel doeltreffend in die vermindering van lipiedmolekules, dit nie voorkom dat muise (wat 'n hoëvetdieet gevoer is om metaboliese siekte te bewerkstellig) insulienweerstandigheid ontwikkel nie. Pleks daarvan het dit gekeer dat die diere vet opbou en in hul weefsel bewaar deurdat hul vermoë om dit in hul spiere te verbrand, beduidend verhoog is.

"Ons het verwag die (manipulering) van die ensiem sou insuliensensitiwiteit verhoog, pleks van teenvetsug-resultate. Maar aangesien vetsug 'n sterk risikofaktor is vir talle siektes soos kardiovaskulêre kwale en kanker, sal enige terapie daarteen wydverspreide voordele hê,” sê die UNSW se prof. Nigel Turner.

Dit is blykbaar die eerste keer dat wetenskaplikes die betrokke ensiem suksesvol kon teiken. Prof. Anthony Don van die Centenary Institute sê die navorsingspan wil vorentoe middels ontwikkel wat die betrokke ensiem sowel as 'n ander groep gesamentlik teiken "om te sien of dit nog 'n veel sterker teenvetsug-uitwerking het”.

Bronne: UNSW, newatlas.com, nature.com