Soms ruik jy die belofte van reën lank voor die onweerswolke saamdrom en ’n geniepsige wind die horison rooi verkleur met die stof van die verdorde landerye, vertel die 46-jarige Herman Maré met heimwee.

Dan, terwyl die skroeiende Vrystaatse son agter die wolke verdwyn, bid hy die soveelste keer: “Here, laat die reent tog kom . . .” Maar die reën kom nie. Al maande lank nie.

Herman en sy medeboere van die Wes-Vrystaat se Bultfonteindistrik is die tweede keer in vyf jaar in die knelgreep van ’n rampspoedige droogte. Landerye waar die somergewasse soos mielies en sonneblomme geil en groen moes staan, is dor en leweloos so ver die oog kan sien.

“O, hel, maar dit lyk sleg,” sê Herman en skop met sy regtervoet in die rooi sand van die familieplaas, Eldorado. “Ek is my lewe lank op hierdie stuk grond. In die 27 jaar sedert ek by my pa oorgeneem het, het dit nog nooit so gelyk nie.”

’n Doodsreuk hang in die lug. “Kyk die plaaspaadjie al langs die heining,” beduie Herman.

“Dit lyk al soos ’n hoofpad. Dis van al die kere dat ons dooie diere in ’n put weg van die huis moes gaan gooi.”

‘As hy al twee misoeste gehad het, sal die bank net vir hom kan leen as hy ’n verband op sy plaas uitneem. Die bank kan in ’n stadium sê: Hierdie ou sal my nie kan terugbetaal nie; ek kan hom nie meer geld leen nie’

Sy stem raak skor. “Meer as 100 skape, meer as 25 koeie. Soms voel dit of hoop in daardie gat begrawe lê. Anderdag moes ek ’n koei self skiet. Jy het geen idee hoe dit jou hart breek nie.”

En dis nie net Herman en sy bure wat finansieel sowel as emosioneel swaarkry nie, wys die landbouorganisasie Agri SA se jongste droogteverslag. Boere in die Vrystaat, Oos- en Noord-Kaap en Noordwes se situasie is kritiek.

Ook in KwaZulu-Natal, Limpopo en die Wes-Kaap kan probleme ontstaan as reënvlakke bly afneem. Net Gauteng en Mpumalanga het oor die afgelope maande genoeg reën gehad om wel te plant.

In ’n Agri SA-meningspeiling onder boere sê 70% van respondente hulle beleef kwaai stres oor ’n tekort aan water vir hul vee. Sowat 50% moes al plaaswerkers aflê. En meer as 50% ervaar sielkundige toestande soos depressie en angs weens die droogte wat maar net nie wyk nie.

Foto: Onkgopotse Koloti
Foto: Onkgopotse Koloti

Hier in die yl skadu van ’n sterwende eikeboom kan Herman hom nie ’n toekoms sonder Eldorado indink nie. “Hier is ons geplant, op dié stuk grond. En God sal ons weer ’n keer hierdeur dra – Hy móét ons hierdeur dra.”

Die pad na Bultfontein loop deur ’n woestynlandskap. Hoopstad, Boshof, Hertzogville, Winburg, Wesselsbron . . . alkante smag die dorstige aarde na lewegewende reën. By Bultfontein is Herman en drie medeboere ons gidse op die hartverskeurende reis.

“Vir ons manne hier op die grond voel dit of ons nie meer die natuur ken nie – ons wie se werk dit is om na aan die natuur te leef,” sê hy.

“Vroeg in November het twee derdes van my plaas afgebrand. En net toe die groen gras weer kop uitsteek, vernietig ’n haelstorm alles. Op so dag is ’n boer op moedverloor se vlakte, man. Jy wil by die Here weet hoekom . . .”

Vanuit sy bakkie wys hy ons plek-plek die groen stoppelbaard van nuwe gras. “Die grassie is gewillig. Sy moed is so sterk soos dié van ’n boer,” sê hy. “Maar die onlangse reent help niks as daar nie ’n opvolg kom nie. Een of twee keer het ons hom nou al geruik, geproe en sien saamdrom, maar dan verdwyn hy weer.

“Jis, die reent maak ’n ding in ’n boer wakker, ou maat. Ons gemoedere het hom net so nodig soos die aarde.”

Herman Maré, ’n veeboer, sê boere sal binnekort van hul vee ontslae moet raak as dit nie genoeg reën nie.

Al kry al die boere hier swaar, help hulle mekaar met die bietjie wat hulle het. “Met die brand, hael en nou weer die droogte het ek niks weiding vir my beeste gehad nie. Ek het oral rondgebel; niemand kon help nie. Jy gaan saans huis toe en jy is kwaad . . . Jy is doodbang,” vertel Herman.

“Maar toe kom die oproep: ‘Broer, bring jou beeste; ek kan ’n rukkie met weiding help.’ Jy kry trane in jou oë. Jy sê dankie, Here, vir nog ’n lappie groen veld.”

André Janse van Rensburg (49) en Herman Meiring (54) vertel dieselfde tragiese verhaal. Hulle sal vanjaar geen mielies en sonneblomme oes nie, want hulle kon nie plant nie.

“Talle boere hier moes al hul veekuddes verkoop,” vertel Herman Meiring.

“Daar is eenvoudig nie kontant om heeltyd voer te koop nie. Hier in ons omgewing staan 30 stuks grond verlate. Niemand wil dit koop nie, want met die huidige ekonomie is die grond niks werd nie. Niemand neem meer die kans om te kom boer nie. Ons seuns trek van die plase af stad toe. Ons kan hulle nie op die plaas hou nie, want daar is nie geld nie,” sê Meiring.

“Ons vriende moet werkers wat al 25 jaar saam met hulle is, laat gaan omdat daar nie geld vir lone is nie. Boere moet hul plase oppak en in die stad gaan werk soek. Dis nag . . .”

Dis André wat die ondenkbare vermeld: “Ons ken minstens twee boere van ons distrik wat uit wanhoop hul eie lewe geneem het . . . Of is dit drie?” sêvra hy aan Herman. “Genadiglik twee,” antwoord Herman en kyk anderpad.

“Ons weet nie wat om te doen nie. Jy leen geld by die bank met die veronderstelling dat jy daardie geld met rente terugbetaal wanneer die oeste in Augustusmaand gelewer word,” sê André. “Maar ons het geen oeste om in Augustus te lewer nie. Die saad staan nog net so in die skuur.

Foto: Onkgopotse Koloti
Foto: Onkgopotse Koloti

“Nou vra ek jou: Wat sê jy vir jou vrou; vir jou kinders en diegene wat van jou afhanklik is? Ons kan niks doen nie. Wanneer die bank kom aanklop, gaan ’n klomp van ons vou. Ons kan net hoop ’n uitweg is op pad.”

Volgens ’n informele peiling deur boere in die Bultfonteindistrik kon minder as die helfte van die boere in dié distrik vir vanjaar se siklus plant. Diegene wat wel iets in die grond het, kan ten beste ’n swak oes verwag.

“Ons sit en kyk hoe die droogte op ’n ramp afstuur,” sê nog ’n boer, wat anoniem wil bly. Hy het vroeg Januarie minder as ’n 10de van sy grondoppervlak beplant. “Hier is boere in ons distrik wat al vyf generasies lank boer. Hulle kan alles verloor. Ons neem dié druk en bekommernisse aand ná aand saam met ons huis toe,” sê hy.

“Ons is raadop. Ons het nie planne nie. Ons kry die minimum vir ons produkte, maar word verantwoordelik gehou wanneer die pryse die hoogte inskiet – en dis omdat meer as 10 mense tussen die boer en die verbruiker staan,” sê hy met verwysing na die middelmanne wat kos van die plaas tot op die tafel kry.

Foto: Onkgopotse Koloti
Foto: Onkgopotse Koloti

“Almal is bekommerd. Ons weet nie eens of daar ’n môre is nie. Soveel as 120 boorgate in die omgewing is reeds leeg. Ons weet nie hoe veeboere die winter gaan deurmaak nie.”

Vir ’n oomblik stoei hy teen sy emosies. “Dit vat guts om ’n boer te wees; guts wat niemand behalwe ’n boer begryp nie. Jy sit saad in die grond en doen als om daardie oes op te kry, maar dit brand dood in die son . . . Hoe verwerk jy dit? Jy verwerk dit nie,” sê die boer wat anoniem wil bly.

Ná ’n rukkie vra hy André: “Hoeveel reent het julle toe anderdag gekry, my vriend?” André antwoord: “Veertig millimeter, my vriend. Ons was op ons knieë.”

“Ag, ek is darem bly vir jul onthalwe,” sê hy aan André.

Later die dag, skuins ná drieuur, pak die wolke weer oor Bultfontein saam. Hierdie keer kry die dorstige aarde wel ’n lafenissie – net genoeg om boere op hul knieë te bring uit dankbaarheid, maar nie naastenby genoeg om die onweerswolke uit hul gemoed te verdryf nie.

O, droewe, droë land

WAT IS DIE OMVANG VAN DIE DROOGTE?

’n Landwye droogte teister die grootste dele van Suid-Afrika al sedert 2015, sê dr. Christien Engelbrecht, ’n senior navorser by die Landbounavorsingsraad.

“Oor die suidelike gebiede van die land, wat die oostelike gebiede van die Wes-Kaap en die westelike gebiede van die Oos-Kaap insluit, heers die huidige droogte al drie jaar lank.

“In die sentrale binneland was daar die afgelope paar somerseisoene – sedert die erg droë 2015-/2016-seisoen – nog nie goeie somerreënval nie,” verduidelik sy. Die hele Karoo en die Wes-Vrystaat is tans kritiek droog, sê dr. Hannes Rautenbach, ’n weerkundige en dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe aan die privaat hoëronderwysinstelling Akademia.

In die Karoo word hoofsaaklik met vee geboer en in die Wes-Vrystaat met mielies en graan. “Suid-Afrika is besig om warmer te word, reënval verdamp vinniger, en die grond droog vinniger uit,” verduidelik Hannes die omvang van die krisis.

Dit kan aan aardverwarming toegeskryf word, maar kenners is dit nog nie eens of klimaatsverandering – die manier waarop weerpatrone op aardverwarming reageer – werklik so ’n groot rol in die droogtetoestande speel nie.

“Reënval is wisselvallig, en sommige boere sal sê dis baie droog, terwyl ander goeie reën kry,” sê Hannes en voeg by dat die Wes- en Oos-Kaap al effens herstel het van die ernstige droogte wat dié gebiede in 2015 en 2016 geteister het.

Volgens prof. Johann Kirsten, landbouekonoom en hoof van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, het die Karoo en Wes-Vrystaat goeie reën nodig om die droogte te breek.

“As die Karoo weekliks 10 mm reën kry, en die gebiede met graan 20 mm, sal dit baie help,” benadruk hy.

WAAROM BOERE TOU OPGOOI

In die afgelope ses jaar was daar vier jaar van droogtes in die westelike gebiede van die Vrystaat en Noordwes, sê prof. Ferdi Meyer, hoof van die Landbouekonomie- ­vereniging van Suid-Afrika. 

Van daardie boere is tans onder groot finansiële druk, en hulle kan net sóveel droogtes ná mekaar oorleef. 

Baie boere moet hulle tot banke wend vir herfinansiering omdat hulle nie ’n bevredigende inkomste uit hul oeste in hierdie tyd kon maak nie. 

“As hy al twee misoeste gehad het, sal die bank net vir hom kan leen as hy ’n verband op sy plaas uitneem. Daardie verbande raak ál groter as hy dit nie kan bybring nie. Die bank kan in ’n stadium sê: ‘Hierdie ou sal my nie kan terugbetaal nie, en ek kan hom nie meer geld leen nie,’ ” verduidelik Ferdi en voeg by dat dit eindelik daartoe lei dat die boer dit oorweeg om sy plaas te verkoop. 

Christo van der Rheede, Agri SA se woordvoerder, sê hulle het nie statistieke oor die getal plase wat die afgelope paar jaar verhandel is nie. 

“Daar is wel terugvoer van boere wat moes afskaal deur werkers af te lê en dele van plase moes verkoop om kontantvloeiprobleme op te los. Daar is ook ’n afwaartse neiging in die getal kommersiële boere, en plaasgroottes wat toeneem omdat boere wat finansieel sterker is die plase van sukkelende boere by hulle koop. Dis ’n aanduiding dat ál meer boere hul plase verlaat.”

BOERE PROBEER SO OORLEEF

Die stappe wat boere doen, hang af van die streek en soort boerdery, sê Johann. 

  • Vir gewasse soos mielies en graan sal boere byvoorbeeld die grondvog probeer bewaar, sê hy. Boere bewerk dan die grond so min moontlik of glad nie, of hulle plant dekgewasse (gewasse wat nie geoes word nie, maar vee kan daaraan wei) wat die vog en minerale in die grond behou.
  • Veeboere bring voer wat hulle van elders aankoop na die diere, sê Ferdi. Maar hulle neem voortdurend die drakapasiteit van die veld – die verhouding tussen die hoeveelheid vee en die weiding – in ag en slag diere wanneer daar te veel vee is.
  • Boere probeer om proaktief te wees omdat hulle nie van ’n inkomste verseker is nie. Saaiboere moet soveel koste moontlik bespaar. Hulle bespaar byvoorbeeld elektri­siteit en brandstof deur net die nodigste masjiene op die plaas te gebruik, verduidelik Ferdi. 
  • Wanneer boere glad nie kan plant nie, kan hulle met verskaffers onderhandel om byvoorbeeld kunsmis en saad wat reeds bestel is eers die volgende seisoen te lewer.

HOE RAAK DIT ONS VOEDSEL­SEKURITEIT? 

Die landbouekonoom Wandile Sihlobo sê Suid-Afrika is steeds die grootste voedselprodusent in Afrika, en hy glo ons sal dit bly.

Hy bly positief: “Ons het baie kenners wat besig is om tegnologie en volhoubare landboupraktyke te ontwikkel. Ons boere het baie kennis en toegang tot die tegno­logie.”

Hy is opgewonde oor byvoorbeeld nuwe mieliegewasse wat vinniger groei en meer droogtebestand is.

Daar is ’n verskil tussen voedselsekuriteit en -sekerheid, verduidelik Wessel Lemmer, ’n landbouekonoom verbonde aan Absa.

Voedselsekerheid beteken ’n land kan voedsel aan sy mense voorsien deur dit self te produseer of in te voer.

“Voedselsekuriteit is belangriker en gaan oor bekostigbaarheid, toegang tot voedsel en hoe veilig en heilsaam die voedsel is.”

In Agri SA se droogteverslag voorspel kenners die droogte in somerreënvalgebiede kan later vanjaar ’n styging in kospryse veroorsaak.

Sodoende kan Suid-Afrika se voedsel­sekuriteit verswak wat bekostigbaarheid betref, meen Wessel, en dan sal ons meer aangewese op invoer moet wees om voedselsekerheid teen heelwat hoër voedselpryse te probeer handhaaf.

WAT DOEN DIE STAAT OM TE HELP?

Altesaam R566,5 miljoen is in die 2018-­­begrotingsrede aan die landbousektor ­be­willig vir onder meer droogteverligting, lui ’n verklaring deur die minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zo­kwana.

Hiervan is R226 miljoen deur die nasionale tesourie goedgekeur vir droogtehulp aan ses uit die agt provinsies – die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Vrystaat – wat daarvoor aansoek gedoen het. Noordwes en KwaZulu-Natal se versoeke is afgekeur.

Ferdi sê hoewel daar droogtehulp van die staat af kom, bly dit ’n probleem dat daar nie genoeg geld in die begroting is om boere by te staan nie. 

“Daar is ook nie ’n doeltreffende stelsel wat sorg dat die geld reg verdeel word en by die regte plekke uitkom nie,” sê hy.

Agri SA meen die landbousektor benodig R3 miljard se hulp van die staat in die volgende finansiële jaar. 

“Vir oorlewing op lang termyn is hulp nodig met finansiële ondersteuning, kredietverlening, produksieleningsooreenkomste, oorbruggingskapitaal, voerverspreiding en maatskaplike hulp.”

DIS NIE NET ONS WAT SUKKEL NIE

“Mense raak meer en waterbronne is beperk. Ál meer verstedeliking vind plaas, en dan is daar ook klimaatsverandering,” sê Johann en voeg by dat die gebrek aan water ’n groot kopseer vir die wêreldekonomie is.

Wandile meen egter watertekorte is nog nie internasionaal ’n krisis nie.