Aan die begin was hulle die toonbeeld van ’n verliefde en gelukkige paartjie. Die fris geboude jong man en sy meisie met die lang, ligbruin hare is gereeld hand aan hand in die strate van skilderagtige Kaapse kusdorpies opgemerk.

Telkens sou hulle lag en Henri van Breda (23) sou sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg (22), omhels.

Terwyl hulle langs die see gestap het, het hulle so sorgeloos soos enige verliefde paar gelyk, selfs al is Henri van die moord op sy ouers en broer aangekla.

Maar vandag lyk die twee heel anders as toe Huisgenoot-lesers hulle die eerste keer in 2016 op foto’s saam sien lag het.

Henri word in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad daarvan aangekla dat hy sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en ouer broer, Rudi (22), op 27 Januarie 2015 in die gesin se huis op die luukse De Zalze-landgoed buite Stellenbosch met ’n byl vermoor en sy suster, Marli (16), probeer vermoor het.

Hy word ook van regsverydeling aangekla.

Met sy verhoor wat einde se kant toe staan, het Henri die oë onlangs laat rek; dié keer met sy nuwe voorkoms. Want pleks van die welige bos hare wat hy met elke hofsitting in ’n netjiese kantpaadjie gekam het, is hy nou kaalkop.

Henri van Breda se hare was eers kort en sy gesig skoongeskeer.
Daarna het hy sy hare laat groei.
In 'n stadium het hy sy hare agtertoe gekam.
Later het hy ’n welige baard gehad.
Met sy laaste hofverskyning was sy kop kaal geskeer. Foto: Gys Visser.

Daniellé het op haar beurt haar lang, ligbruin hare kort gesny en dit helderpienk gekleur. Sy het ook baie gewig afgeskud en lyk nou tenger.

Henri en Daniellé se nuwe voorkoms spreek boekdele, reken kenners.

“Die feit dat die twee saam hul voorkoms so radikaal verander het, sê vir die wêreld hulle staan saam,” sê die voorkomskenner Hannon Bothma.

Oor haar pienk hare sê hy: “Die haarkleur is simbolies ’n vlag wat sy vir Henri waai om hom te herinner aan haar steun elke keer dat hy na haar kyk.”

Eers: Daniellé met haar lang, ligbruin hare.
Nou: Haar lang, ligbruin hare is nou kort gesny en helderpienk gekleur.

Ook die lyftaalkundige dr. Denise Björkman meen Henri se kaal kop en Daniellé se helderkleurige hare dra ’n sterk boodskap oor.

“Wanneer ons voel ons word deur ’n kultuur verwerp, vergoed ons soms met nuwe lidmaat­skap van ’n sub- of teenkultuur waar ons ’n beter kans op aanvaarding het,” sê sy.

“En haarstyle en kleredrag is van die maniere waarop dié subkulture uitgedruk word.”

Henri en Daniellé het in 2016 by mekaar liefde gevind toe hulle mekaar by die Capsicum-­sjefskool in die Kaapse voorstad Soutrivier ontmoet waar albei toe studeer het.

Kort ná sy inhegtenis­neming het Daniellé aan Huisgenoot gesê sy glo in sy onskuld.

Op foto’s wat Daniellé destyds in die sosiale media gedeel het, lyk sy en Henri dolgelukkig.
Henri en Daniellé het in 2016 by mekaar liefde gevind toe hulle mekaar by die Capsicum-­sjefskool in die Kaapse voorstad Soutrivier ontmoet waar albei toe studeer het.
Sorgeloos soos enige verliefde paar.
Aan die begin van sy verhoor het Henri die regter en publiek probeer beïndruk as “iemand wat die norme van die samelewing volg”, sê die lyftaalkundige dr. Denise Björkman.
Hulle het gereeld ná hofsittings iewers gaan sit met hul arms om mekaar.

Henri het die eerste keer met kort gesnyde hare en ’n skoongeskeerde gesig in die hof verskyn. Later het hy sy hare en baard langer gedra.

Ook Daniellé se voorkoms het in dié tyd gereeld verander. Haar ligbruin hare het sy eers blond gekleur met rooi strepies daarin en daarna pikswart.

Op die jongste foto’s van die twee lyk sy brandmaer.

Dit is op Valentynsdag geneem toe die twee ná ’n dag se hofsitting na hul motor stap. Op dié snikhete somermiddag in die Kaap dra sy warm klere wat haar figuur wegsteek. Met haar kort, pienk hare lyk sy moeg en angstig.

Henri het reeds van sy baadjie en das ontslae geraak en lyk ontspanne en lag. Hy het pas gehoor regter Siraj Desai het sy verhoor tot 23 April verdaag, wanneer hy uitspraak sal lewer.

Die foto is op Valentynsdag 2018 geneem toe die twee ná ’n dag se hofsitting na hul motor stap.

Gaan hy skuldig bevind en lewens­lange tronkstraf opgelê word of sal hy onskuldig bevind en vrygespreek word? En wat hou die toekoms vir hom en Daniellé in as die hofsaak eers verby is?

Wanneer ’n moeilike, langdurige si­tuasie soos die byna twee jaar lange hof­saak verby is, kan Henri en Daniellé dit moeilik vind om weer by ’n natuurlike situasie aan te pas, sê dr. Jolanda Dreyer, ’n verhoudingsielkundige van Pretoria.

“Die meeste van hul energie en gesprekke gaan waarskynlik oor die hof­saak en hoe om Henri te steun. Sal hulle iets hê om vir mekaar te sê wanneer die hofsaak verby is? Dit moet moeilik wees vir Daniellé. So ’n soort verhouding het baie kinkels en slaggate,” sê Jolanda.

Al kan dit vir Daniellé voel of sy op­geslurp word deur die drama in Henri se lewe, sê Jolanda swaarkry bring twee mense dikwels nader aan mekaar.

Daniellé het geen familie in die Kaap nie en kry al haar steun hier van haar kêrel.

Haar ma, Heloise Brown, woon in Skotland en pa, dr. Wannie Janse van Rensburg, in Malelane, Mpumalanga.

Daniellé is “so ’n pragtige mens en wil almal help”, het Heloise in Junie 2016 aan die Sondagkoerant Rapport vertel. “Soms wil ek haar in tissues toedraai.”

Dis onvermydelik dat die stres van die verhoor sy tol van haar geëis het en Jolanda sê sy het moontlik groot spanning ervaar.

“Onder spanning het jy drie re­aksies: veg, vlug of vries. Sy moet bekommerd wees oor Henri en wat van hulle gaan word as hy skuldig bevind sou word. Maar dit hang alles van haarself af en hoe sy die verhouding ervaar.”

Huisgenoot het Daniellé gekontak, maar sy wou geen kommentaar lewer nie.