Nick Evans wys 'n mamba
Nick wys 'n slang wat hy gevang het. Foto: Facebook/Nick Evans Snake Rescue

Ná ses jaar in die bedryf het dié gewilde Durbanse slangvanger geleer die dikwels gevreesde reptiele is eintlik banger vir ons as ons vir hulle. “Ek het besef hulle word eintlik net misverstaan,” sê Nick (27).

Soos sy gunsteling, die swartmamba – Afrika se langste giftige slang en onder die vinnigste slange ter wêreld. “Ek het al hierdie stories gehoor oor hoe aggressief hulle is, maar ek het gedink al wat hulle wil doen, is om weg te kom.”

Sy passie vir slange het as seuntjie begin toe hy The Crocodile Hunter gekyk het, die program waarin die Australiese omgewingsbewaarder en natuurlewekenner Steve Irwin verskyn het. “Hy was so passievol en geesdriftig. Ek het gedink wat hy doen is werklik koel en ek wou soos hy wees.”

Nick Evans wys 'n mamba
Foto: Facebook/Nick Evans Snake Rescue

Nick het as kind na slange gesoek in die woonkompleks waar hy saam met sy ma gewoon het en in sy grootouers se tuin. Hy het advertensies in die nuusbrief geplaas van sy laerskool - waar sy ma ’n onderwyseres was - en sy slangverwyderingsdienste aangebied.

“Ons het nie baie versoeke gekry nie,” erken hy. Maar dit het hom nie van stryk gebring nie. Hy het ná matriek vir twee jaar by Dangerous Creatures, ’n slangpark by uShaka Marine World in Durban, gaan werk. 

Daarna het hy sy eie ding gedoen en slange verwyder en opvoedkundige werksessies aangebied. Hy het in sy tyd as slangvanger heelwat slange gevang, maar die swartmambas het sy gunstelingslang geword. 

“Sy grootte en gif wat so vinnig werk, maak hom dodelik, maar dis ’n baie opwindende slang om mee te werk.

“Op 'n dag het ek gehoor daar is ’n groot swart slang in ’n boom en dit moes dadelik verwyder word. Ek kon baie mense in die agtergrond hoor,” vertel hy.

Met sy aankoms het lede van die gemeenskap na die boom gewys en die oomblik toe Nick die slang sien, het hy geweet dis ’n swartmamba.

“Ek het vorentoe uitgereik met my tang, en terwyl ek dit gedoen het, het die slang begin beweeg. Sy lyf, so dik soos ’n gemiddelde volwassene se arm, het stadig begin losdraai. Ek het gegryp wat ek kon, maar baie vinnig besef ek het die stert beet.

“Toe raak ek senuagtig. Ek het een keer ’n mamba in ’n boom aan die stert beetgekry en dit het na my teruggeswaai. Sou dit weer gebeur? Die kop het in my rigting beweeg, maar nie op ’n aanvallende manier nie – ek dink dit wou hoër klim.”

Hy het die slang laat gaan en met sy tang aan die nek gegryp. Die slang het uit Nick se greep begin wikkel en toe gryp hy dit aan die kop. Toe begin die slang sy lyf om Nick se kop draai sodat selfs sy oë bedek was.

“Ek het my lippe ingesuig om te keer dat dit in my mond beland. Ek kon die kerrie-agtige reuk van sy muskus en ontlasting ruik, en ek kon die nattigheid daarvan op my kop voel.” Die slang het toe by Nick se nek afbeweeg.

“Ek het al baie swartmambas gevang, maar so iets het nog nooit gebeur nie. Mambas draai gewoonlik om wat ook al hulle kan kry om uit jou greep te kom. Maar omdat daardie een in ’n boom was, het dit om my nek gedraai.”

Nick Evans word deur gewurg
Die slang het so hard gedruk dat Nick lighoofdig geraak het. Foto: Facebook/Nick Evans Snake Rescue

Die slang het so hard gedruk dat Nick lighoofdig geraak het. “Ek kon nie die slang net afruk nie, want dit het doringagtige rankplante van die boom rondom hom gehad, as ek dus sou ruk, sou dit sy vel skeur.”

Een van die gemeenskapslede moes die rankplante knip voor Nick homself kon bevry. Ten spyte van die vreesaanjaende ervaring is Nick steeds ’n groot aanhanger van die swartmamba.

“As ek een in ’n hoek druk, soek hy nie na die beste manier om my aan te val nie. Hy is op soek na die beste manier om te ontsnap.

“In die groter Durban-gebied is daar sowat vier miljoen mense en daar is mambas oral. Tog sien ons net sowat twee slangbytvoorvalle per jaar. Wat bewys as hulle wou aanval, sou daar meer gevalle gewees het.”

Sy vrou, Joelle (29), is begrypend en geduldig, sê Nick. “Ons kan by ’n ete of familie-middagete wees en dan word ek ontbied.” Dis nie ’n geldmaak-werk nie – dis suiwer aangevuur deur passie.

“Ek het ’n bietjie geld gemaak deur die opvoedkundige werk wanneer ek na maatskappye en skole gegaan het, maar toe tref covid-19.”

Hy werk wel aan ’n tweede seisoen van sy program, Snake Season, wat later vanjaar uitgesaai word en dit sorg ook vir ’n inkomste. Snake Season wys Nick se slangreddingswerk, maar op ’n prettige manier.

“Die doel is om mense op te voed, nie om hulle bang te maak nie.” En hoe gemaak as jy deur ’n slang gekonfronteer word?

“Moenie die slang wegjaag of probeer doodmaak nie, want dan gaan hy jou aanval. Verlaat eerder die gebied en wag tot die slangvanger opdaag.” 

  • Snake Season word op People’s Weather (kanaal 180) op DStv uitgesaai.