Wêreldwyd wag almal daarop: die entstof teen die coronavirus wat 2020 in ’n frustrerende, pynlike en dikwels tragiese warboel omskep het. Teen druktyd het byna 1,5 miljoen mense reeds wêreldwyd weens die covid-19-pandemie gesterf, en miljoene mense het hul werk weens die gevolglike inperkings oor grense heen verloor.

En toe kom die nuus eindelik dat ’n entstof teen die virus hopelik binnekort beskikbaar sal wees. Sover dit wetenskaplike vooruitgang betref, is die ontwikkeling van ’n entstof al as ’n prestasie beskryf gelykstaande aan die ontwikkeling van die atoombom.

Maar anders as die atoombom, wat verwoesting saai, kan dié ontdekking miljoene lewens red en sorg dat ’n sweempie normaliteit eindelik na ’n coronavoos wêreld terugkeer.

Die eerste deurbraak was die multinasionale farmaseutiese maatskappy Pfizer en die Duitse biotegnologiefirma BioNTech se aankondiging dat hulle ’n entstof met ’n doeltreffendheid van 90% ontwikkel het. (Die koers is later na 94% aangepas.)

Die Amerikaanse maatskappy Moderna was kort op hul hakke (ook met ’n kandidaatentstof met ’n 94%-kans op sukses), gevolg deur nóg ’n moontlikheid, komende van die Universiteit van Oxford wat in samewerking met die Brits-Sweedse AstraZeneca ’n entstof met 90%-doeltreffendheid ontwikkel het.

Dis ’n verstommende prestasie in ag genome die feit dat dit wetenskaplikes gewoonlik byna 10 jaar neem om ’n entstof te ontwikkel. Dié keer het hulle binne enkele maande daarin geslaag.

Maar hier in Suid-Afrika moet ons eers ’n paar hindernisse uit die weg ruim voor dinge kan gebeur. Ons kyk hoe sake staan en wanneer ons die entstof hier op eie bodem kan verwag.

WAT SÊ DIE RINGKOPPE?

Volgens Tito Mboweni, die minister van finansies, het Suid-Afrika R500 miljoen opsygesit om – sodra entstowwe beskikbaar is – die land se plek voor in die tou te verseker.

“Suid-Afrika is genooi om deel te wees van ’n konsortium wat ’n entstof najaag,” het hy onlangs gesê. “Ons kort nog sowat R4,5 miljard, wat by die nuwe begroting ingereken sal word.”

Hy het nie gesê waar dié geld vandaan gaan kom of wat presies die konsortium behels nie, maar het waarskynlik na Covax verwys – die wêreldprojek wat daarna streef om regerings en vervaardigers met mekaar te verbind sodat die entstof dié kan bereik wat dit die nodigste het.

Pres. Cyril Ramaphosa het die land onlangs meegedeel Suid-Afrika werk met etlike multinasionale maatskappye saam om ’n veilige en doeltreffende entstof te vind.

“Ons werk saam met die Afrika-sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (Africa CDC) om ’n entstof vir die vasteland te bekom,” het hy gesê. Die regering het ook ’n vennootskap met die plaaslike biofarmaseutiese maatskappy Biovac aangegaan wat tans met ’n onbekende internasionale entstofvervaardiger samesprekings voer.

Hulle hoop om ’n entstof plaaslik te ontwikkel en sodoende te verseker dat daar genoeg van die stof vir Suid-Afrika en die res van Afrika beskikbaar is.

WANNEER SAL ONS ’N ENTSTOF IN SUID-AFRIKA KRY?

Dr. John Nkengasong, hoof van die Africa CDC, voorspel dat wydverspreide inentingsveldtogte in Afrika nie vroeër as April 2021 sal gebeur nie. “Ons kan dalk selfs eers teen middel volgende jaar ’n entstof vir die vasteland ontvang,” sê hy.

WAAROM SLOER DIT SO?

’n Vrywilliger ontvang in Junie vanjaar in Soweto
’n Vrywilliger ontvang in Junie vanjaar in Soweto ’n inspuiting tydens Suid-Afrika se eerste menslike kliniese toets vir ’n potensiële entstof teen covid-19. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Paar haakplekke moet eers aandag geniet, veral wat Pfizer se entstowwe betref. Bergingsvoorwaardes vir hul entstowwe is uiters streng – dit moet teen -70 °C geberg word, wat vir Afrika se infrastruktuur nogal ’n uitdaging is, sê John.

Prof. Shabir Madhi, ’n entstofkundige aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het beaam dat die beskikbaarheid van sulke geriewe ’n daadwerklike probleem is. “Met die uitsondering van akademiese laboratoriums by van die groter universiteite is daar weinig geriewe wat aan die bergingsvereistes voldoen.

“Tensy hulle die entstowwe aanpas sodat dit teen kamertemperatuur geberg kan word, is hierdie soorte nie geskik om op groot skaal in landelike gebiede te versprei nie.”

AstraZeneca se kandidaatentstof lyk tans na die belowendste opsie vir Afrika omdat dit by temperature tussen -2 °C en -4 °C geberg kan word. Maar dit sal nog ’n ruk neem voor die entstof in groot maat vervaardig word.

Amerika, Brittanje en Europa het reeds ’n miljoen dosisse vooruitbestel en gesondheidswerkers en dié wat as die kwesbaarstes beskou word – mense ouer as 65, gevolg deur mense met onderliggende toestande – sal eerste ingeënt word.

John sê die Africa CDC is ook in samesprekings met Rusland en China – albei dié lande werk ook aan hul eie entstof en kan dalk met ’n produk vorendag kom wat makliker geberg kan word en vir ontwikkelende lande bekostigbaarder is.

HOEVEEL ENTSTOF IS NODIG?

Die ministeriële advieskomitee oor entstowwe het voorgestel dat die regering ’n ooreenkoms met Covax aangaan om so gou moontlik ’n voorraad van die eerste beskikbare entstof te bekom. Daarna sal hulle bilaterale onderhandelings met verskeie vervaardigers aan die gang moet sit om die geskikste entstowwe vir die land te vind.

Covax gaan probeer om dosisse van die entstof aan alle lande beskikbaar te stel en reken dat die projek na raming inentings vir 10% van die Suid-Afrikaanse bevolking kan beteken.

Maar volgens John sal ’n minimum van 60% van die Afrikabevolking ingeënt moet word om “trop-immuniteit” te verkry. Anders gestel: 15 miljard dosisse is nodig, wat na raming tot R186 miljard kan kos. Dit is nog nie bekend of die entstof gratis beskikbaar sal wees en of jy – soos vir ’n griepinspuiting – daarvoor sal moet betaal nie.

HOE VORDER SA SE EIE PROEWE?

Wits het, in samewerking met die Universiteit van Oxford, in Junie begin om ’n entstof genaamd Ox1Cov-19 klinies te toets. Volgens Shabir gaan dit “taamlik goed”. Sommige van die sowat 2 000 vrywillige deelnemers word met die entstof ingespuit terwyl ander ’n plasebo-inspuiting (’n soutoplossing) kry.

Die toets wil bepaal of die infeksiesyfer onder dié wat die entstof ontvang het laer is vergeleke met die kontrolegroep s’n. Vir dié doeleinde word die deelnemers op ’n natuurlike wyse met covid-19 besmet en die tydsverloop tot resultate waargeneem kan word, hang af van hoe hewig die infeksie was.

Maar omdat Suid-Afrika ná die eerste golf ’n afname in besmettings getoon het, is die akkumulasie van gevalle nou ietwat vertraag.

ANDER PROEWE IN SUID-AFRIKA

Die verbruikersgoederegroep Johnson & Johnson is ook met kliniese proewe besig. Dié proewe meet die veiligheid en doeltreffendheid van ’n enkeldosis van die entstof JNJ-78436735 teen ’n plasebo. Hulle mik daarna om meer as 60 000 deelnemers te betrek.

Enigeen, met of sonder onderliggende toestande, kwalifiseer, mits jy ouer as 18 is. Indien die toetse vrugte afwerp, wil die firma die entstof in vennootskap met die farmaseutiese maatskappy Aspen hier in Suid-Afrika ontwikkel en verpak.

Die Amerikaanse maatskappy Novavax is ook besig met sy Suid-Afrikaanse proewe van die entstof NVX-CoV2373. Hulle ondersoek dié kandidaatentstof se veiligheid en die middel se vermoë om ’n immuunrespons te bewerkstellig en beskerming teen covid-19 te bied.

Novavax wil 2 904 deelnemers tussen die ouderdomme 18 en 64 betrek, van wie 2 665 gesonde MIV-negatiewe volwassenes is en 240 medies stabiele MIV-positiewe mense.

Geskatte pryse van inentings

Pfizer: Sowat R300 per dosis

Moderna: Tussen sowat R390 en R570 per dosis

Oxford: Tussen sowat R50 en R80 per dosis

Hoe die entstof sal werk

Die entstowwe met die grootste doeltreffendheid – dié van Pfizer, Moderna en AstraZeneca – werk byna dieselfde.

’n Mens ontvang twee dosisse ’n maand uit mekaar. Immuniteit skop ses weke ná die eerste dosis in. Die entstof begin jou dus eers twee weke ná die tweede dosis teen covid-19 beskerm.

Oxford se wetenskaplikes reken die beskerming behoort ’n jaar te hou. Vir langtermynbeskerming sal mense dus jaarliks ingeënt moet word.

Terwyl die entstowwe nog in hul navorsingstadium was, het wetenskaplikes reeds bevind dat ’n entstof met 80%-doeltreffendheid die einde van sosiale distansiëring kan beteken.

Al drie bogenoemde entstowwe het ’n sukseskoers van 90% of hoër, wat verblydend is. Maar dit sal jare duur om die hele wêreldbevolking in te ent.

Ekstra bronne: timeslive.co.za, dailymail.co.uk, businesslive.co.za, news24.com, jnj.com, aspenpharma.com, modernatx.com, wits.ac.za, bloomberg.com, biospace.com, capetalk.co.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe