Hulle noem haar ­Slowakye se Erin Brockovich. Veertien jaar lank het sy nes dié Amerikaanse om­gewingsaktivis ’n regstryd gevoer toe die inwoners van haar tuisdorp se gesondheid deur ’n stortingsterrein bedreig is. Sy het verbete gestry teen alles wat sy glo verkeerd is.

Maar vir Zuzana Caputova was die breekpunt toe die joernalis Jan Kuciak (27) en sy verloofde, Martina Kusnirova (27), in Februarie verlede jaar dood­geskiet is omdat hy korrupsie in die Slowaakse regering wou oopvlek.

Toe het sy besluit genoeg is genoeg.

Nie net het die prokureur saam met tienduisende mense in die strate op­geruk in die grootste protesaksie die afgelope 30 jaar in Slowakye nie; sy het ook aangekondig sy gaan in die presidensiële verkiesing staan – en dit ten spyte van  haar bitter min politieke ondervinding.

Boonop was sy die kandidaat van ’n nuwe party, die Progressiewe Slowaakse Party, wat nog nooit aan ’n verkiesing deelgeneem het nie.

Dié geskeide ma van twee tiener­dogters het pas geskiedenis gemaak toe sy as Slowakye se eerste vrouepresident verkies is.

Op 45 is sy ook die jongste president nog van dié land met 5,4 miljoen inwoners wat in 1993 ’n onafhank­like staat geword het nadat dit voorheen deel van Tsjeggo-Slowakye was.

Zuzana sal ook die eerste vrouepresident in Sentraal-Europa wees wanneer sy op 15 Junie – net ses dae voor haar 46ste verjaardag – ingehuldig word.

Die verkiesing van dié liberale om­gewingsprokureur druis in teen die huidige neiging om vir konserwatiewe, nasionalistiese politici te stem – iets wat ál meer in Europa gebeur.

Sy het 58,4% van die stemme in die verkiesing einde Maart gekry en daarmee haar gedugte teenstander, Maros Sefcovic (52), tans ook adjunkvoorsitter vir energie-eenheid in die Europese Kommissie, geklop. Hy is gesteun deur die regerende sentraal-linkse Smerparty, wat die politiek in Slowakye sedert 2006 oorheers.

Zuzana se rol as president is meestal seremonieel, terwyl die premier, Peter Pellegrini (43), die regering aanvoer.

Maar as president kan sy regters aanstel, het sy sekere vetoregte en is sy opper­bevelvoerder van die veiligheidsmagte.

Haar liberale sienings het veral by jong kiesers aanklank gevind. Zuzana is ten gunste daarvan dat gay huwelike in dié oorwegend Rooms-Katolieke land gewettig word, dat gay pare kinders mag aanneem en vroue aborsies mag kry.

“Sy het gelyk soos iemand wat Slowakye nodig het – goedhartig en eerlik. Sy het nooit haar teenstanders gekritiseer nie,” het Antonia Halko (28), ’n handelaar van die dorpie Bardejov in die noordooste van Slowakye wat vir Zuzana gestem het, aan die tydskrif Time verduidelik.

Zuzana en haar ondersteuners stap na Sitno-heuwel
Zuzana en haar ondersteuners stap na Sitno-heuwel in Sentraal-­Slowakye voor die tweede ronde van die verkiesing. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek het onmiddellik geweet ek gaan vir haar stem toe ek haar in Januarie op ’n saamtrek sien,” het Juraj Scott, ’n welsyn­werker van die hoofstad, Bratislava, vertel.

“Sy was baie opreg en menslik en ek het geglo sy bedoel wat sy sê, ’n seldsame verskynsel in die Slowaakse politiek.”

Noudat sy as haar land se eerste vrouepresident aangewys is, is Zuzana se grootworddorpie, Pezinok, skielik wêreldnuus.

Sy woon steeds daar saam met haar lewensmaat, Peter Konecny (52), ’n musikant, fotograaf en skrywer, en haar twee dogters by haar eksman, Ivan Caputa. Pezinok, sowat 20 km noordoos van Bratislava, was voorheen net bekend vir sy wynbedryf – en sy toksiese stortingsterrein.

Zuzana het haar meer as ’n dekade lank daarvoor beywer om dit te laat sluit.

Dié vrou uit ’n werkersklasgesin het as jong student besluit om in die regte te studeer, want “ek wou iets doen waarmee ek mense kon help”, het sy al vertel.

Nadat sy in 1996 haar regsgraad aan die Comenius-universiteit in Bratislava behaal het, het sy jare lank vir die munisipaliteit op haar tuisdorp gewerk, eers as lid van die regsdepartement en later in die uitvoerende komitee van die dorp.

Sy het in 2010 ’n regsfirma begin en as prokureur begin praktiseer. Dit was toe dat sy bekend geword het vanweë haar stryd teen ’n skatryk sakeman wat nog ’n stortingsterrein – so groot soos 12 rugby­velde – op haar tuisdorp wou aanlê.

Die bestaande terrein was reeds vir inwoners ’n doring in die vlees, want hulle het gevrees dat dit gifstowwe afskei.

Zuzana het haar stem dik gemaak, protesoptogte gereël en petisies aan die Europese Unie gestuur.

Sy het eindelik sukses behaal toe die hof in 2013 die nuwe stortingsterrein onwettig verklaar. Die hof het ook beslis die ou terrein moet gesluit word.

Dié stryd het aan Zuzana die bynaam Erin Brockovich besorg – na die Amerikaanse regsklerk en enkelma van drie kinders wat in 1993 ’n maatskappy help hof toe te sleep het wat drinkwater op die Kaliforniese dorp Hinkley besoedel het.

Julia Roberts is in 2001 met die Oscar vir beste aktrise bekroon vir haar rol as Erin in die fliek Erin Brockovich.

Ook Slowakye se eie Erin het ’n gesogte prys losgeslaan toe die Goldman-­om­gewingsprys – die wêreld se topprys vir omgewingsaktivisme – in 2016 in San Francisco aan haar oorhandig is.

Toe die moorde op die joernalis en sy verloofde Slowakye verlede jaar ruk, het dit Zuzana aangevuur om weer op te staan teen wat verkeerd is.

Die joernalis het kort voor sy dood ondersoek ingestel na die bedrywighede van die Slowaakse oligarg Marian Kocner (55), wat bande gehad het met die Smerparty wat toe nog aan die bewind was.

Jan en sy verloofde is in sy huis op die dorpie Velka Maca, sowat 65 km oos van Bratislava, doodgeskiet – sy in die kop en hy in die bors.

Ná hul dood het sy verslag verskyn oor bande tussen Slowaakse politici en die Italiaanse Mafia.

Die moorde het gelei tot ’n massa­protesaksie om ’n einde aan korrupsie in die regering te maak. Dit het drie weke ná die moorde tot die bedanking van die premier, Robert Fico (54), gelei.

Zuzana se slagspreuk tydens haar verkiesingsveldtog was: “Staan op teen boosheid.” Dit het duidelik tot gewone burgers gespreek, want hulle het haar veldtog van sowat R3,2 miljoen met klein individuele skenkings help finansier.

Tydens die presidensiële debatte het sy gewys sy’s ’n talentvolle redenaar. Sy is vol selfvertroue en beywer haar vir geregtigheid en gelykheid.

Maar sy moes verskeie venynige dwars­klappe verduur. ’n Foto van haar gesig is gedokter om haar neus groter te laat lyk, haar huwelikstatus as geskeide is gekritiseer, en skinderstories oor haar lewensmaat is versprei. Sy is ook daarvan beskuldig dat sy met haar sienings ’n “morele chaos” wil saai.

Zuzana, haar dogter Emma, en lewensmaat, Peter Kon
Zuzana, haar dogter Emma, en lewensmaat, Peter Konecny, op 16 Maart by die stembus in Pezinok, Slowakye. Foto: Gallo Images/Getty Images

Zuzana het die aanvalle as “hatig” bestempel en gesê dis “gegrond op leuens”. Tog het sy nooit self in ’n politieke moddergooiery verval nie.

Haar vreedsame benadering is geïnspireer deur Mohandas Gandhi se boek The Story of My Experiments with Truth, asook die sienings van haar politieke held, die Slowaakse oudpresident en skrywer Vaclav Havel.

Haar vreedsame benadering is geïnspireer deur Moha
Haar vreedsame benadering is geïnspireer deur Mohandas Gandhi se boek. Skermgreep: takealot.com
Mohandas Gandhi se boek The Story of My Experiments with Truth is beskikbaar by takealot.com

Joga help haar om kalm en koelkop te bly wanneer die storms om haar woed, sê sy. Sy stap, swem en skets ook om haar te help om gefokus te bly.

Aan dreigemente, smeerveldtogte en vuilspel het sy haar nog nooit gesteur nie – sy bly glo goedheid sal seëvier en mense sal gesonde besluite neem.

Voor haar oorwinning in die verkiesing het sy benadruk: “Ek het volle vertroue in die vermoë en volwassenheid van Slowaakse kiesers om te onderskei tussen wat waar is en wat nie.”

Vir haar is daar ’n duidelike verskil tussen reg en verkeerd.

BRONNE: TIME.COM, FOREIGNPOLICY.COM, NEWS.SKY.COM, ONLINE.SK, NYTIMES.COM, NEWS.YAHOO.COM, ?EURONEWS.COM, THEGUARDIAN.COM, GOLDMANPRIZE.ORG, BLESK.CZ
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.