Joanne Techow sê insekte verskyn op ál meer etens
Joanne Techow sê insekte verskyn op ál meer etenstafels wêreldwyd.

Jy gril jou morsdood vir skar­relende kokkerotte en flappende motte. Jy kan ook nie eens kyk na daardie tonele in Fear Factor waar die deelnemers krioelende, slymerige goeters afwurg in die hoop om die vet kontantprys te wen nie.

Klink dit soos jy? Wel, dan is meelwurmplaatkoekies of sjokoladesywurms beslis nie op jou spyskaart nie.

Basta met jou fiemies, sê ’n buiten­gewone Johannesburgse ondernemer. Insekte is die nuwe proteïen, en dit ver­skyn op ál meer etenstafels wêreldwyd – ook hier in Suid-Afrika, vertel Joanne Techow (28).

“Krieke word byvoorbeeld as ’n superkos beskou, want dit bevat tot twee keer die proteïen van beesvleis. Wanneer jy dit tot ’n poeier maal, is dit ’n uiters ­veelsydige produk wat gewone kosse ­versterk.”

Joanne het ’n graad in dierkunde, maar insekvoedsel is haar ding. Sy het haar ­onderneming, Ensekta, in 2019 begin. Dis ’n voltydse werk en tot dusver taamlik winsgewend, sê sy.

Joanne vervaardig produkte soos meelwurmgranolahap
Joanne vervaardig produkte soos meelwurmgranolahappies.

Die gewildste konkoksies uit haar goggakombuis is meelwurmgranola, kriekkoekies en kriekpoeier “wat mense oor enigiets van smoothies tot slaaisous kan sprinkel”. Voor die inperking het haar vreemde insekhappies soos soetkoek op plaaslike markte verkoop.

“Daar is altyd diegene wat dit nie sal eet nie, maar baie mense stel daarin belang om dit te beproef. En dikwels skrik die smaak hulle glad nie af nie. Die meeste mense sê krieke smaak neutagtig.”

Kinders is gewoonlik die gretigste om dit uit te toets, sê Joanne.

“Hulle het nie daardie ingeboude afsku van insekte wat volwassenes het nie. Ons kyk na kinders as die poort vir die groei van die bedryf.”

Joanne vertel haar belangrikste kliënte is fiksheidsgeesdriftiges en omgewingsbewustes.

“Veral liggaamsbouers soek ­altyd na ’n nuwe proteïen. Omgewingsbewuste mense wil weer ’n gesonder leefstyl volg en die planeet help.”

Wat insekprodukte betref, was groot, konvensionele voedselondernemings tot dusver huiwerig om uit hul dop te kruip. Maar dis aan die verander.

“Hulle doen navorsing en kan sien die aanvraag groei. Dis ’n volhoubaarder kosbron vir die planeet en laat ’n veel kleiner koolstofvoetspoor as tradisionele vleisbronne,” vertel Joanne.

Sy aanvaar baie mense sal nooit hul skaaptjoppies prysgee nie. “Ek probeer nie tradisionele proteïenbronne vervang nie, maar ons moet die druk op hierdie hulpbronne verminder,” benadruk sy.

“As ek ’n gesin van vyf sover kan kry om een insekmaaltyd per week te eet, sal ek gelukkig wees. So sal ons baie beeste red.”

 Heerlike meelwurmplaatkoekies.
Heerlike meelwurmplaatkoekies.

Hoe het Joanne, een van vyf kinders van ’n bemarkings­bestuurder en ’n verkoops­verteen­woordiger, besluit om ’n insekboer en -spysenier ­te raak?

“Ek was van jongs af behep met die natuur, en ná skool het ek ’n B.Sc.-graad in dierkunde gedoen,” vertel die stadskind.

Sy het ook ’n kursus in sakebestuur voltooi voor sy as ’n vrywilliger by die Endangered Wildlife Trust begin werk het.

“Hulle het my op ’n projek gesit om ­alternatiewe bestaanswyses na te vors, en dis toe dat die gogga my byt. Ek was totaal verwonderd oor insekboerdery. Ek het in 2017 saam met vriende ’n maatskappy begin wat krieke teel. In 2018 het ek op ’n vlieëplaas gewerk en kort daarna my eie onderneming begin.”

 Heerlike meelwurmplaatkoekies.
Heerlike meelwurmplaatkoekies.

Sy is by elke aspek van die onderneming betrokke: van die goggatelery tot die verpakking en bemarking van die insekeetgoed. Op die oomblik finansier sy haar onderneming se uitgawes alles self, maar sy hoop om ’n “geskikte belegger” te kry.

Joanne het haar Johannesburgse motorhuis in ’n soort insekstoor omskep waar sy die lewende dierasies aanhou. Sy maak hulle op ’n genadige manier dood: Die insekte word in vrieskaste geplaas waar hul liggaamstemperatuur geleidelik afneem. Daar is geen pyn of trauma betrokke nie, beklemtoon sy.

Insekte is al eeue lank op die mens se spyskaart. Dié eetvoorkeur word entomofagie genoem, sê Joanne.

Gekookte meelwurms is ’n bestanddeel in baie van J
Gekookte meelwurms is ’n bestanddeel in baie van Joanne se resepte.

“Dit is algemeen in baie kulture in ­Sentraal- en Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië. Waar insekte oorvloedig voorkom, word hulle gewoonlik geëet. Maar weens verwestering het dit vreemd geword.”

Haar voedselreserwes kan jou taamlik lank versadig hou: sowat 32 000 krieke en 10 000 meelwurms.

“Sywurms is seisoenaal, en soms koop ek ander soorte.”

Sy wil graag inheemse ­lekkernye soos mopaniewurms, termiete en stinkkewers begin smous.

“Afrika het so ’n ryk erfenis waaruit ons kan put. Mopaniewurms word al lank as ’n tradisionele kos gebruik.”

Moet ’n mens jou neus toeknyp terwyl jy stinkkewers eet?

“Wanneer jy dit gekook het, verdwyn die stank. Jy rooster en droog dit dan gewoonlik,” verduidelik sy.

Joanne het ook verlede jaar haar honneursprojek oor eetbare ruspersoorte voltooi.

In ’n neutedop: Vermy enige helderkleuriges; hulle is gewoonlik giftig.

Maar selfs dié insekfynproewer gril vir die kakkerlakke wat in die donker hoekies van Suid-Afrikaanse kombuise skuil.

“Ek sal nie een kan afsluk nie,” bieg Joanne laggend. “Maar ek het al resepte vir kakkerlakke teëgekom. As jy met ­hulle boer, is hulle skoon. Dis net dié in jou huis wat siektes dra, want hulle leef in stof en vullis.”

Daar is wel taboes wat die eet van insekte betref.

“Moet dit nooit rou eet nie, want daar kan skadelike bakterieë in die dermkanaal wees. Kook dit vyf minute lank. Moet ook nie insekte eet wat in die natuur geoes is nie, want dit kon aan plaagdoders blootgestel gewees het. En moenie insekte by troeteldierwinkels koop nie, want daar is gewoonlik geen gehaltebeheer nie.”

Moet ook nie “vreemde” insekte eet wat jy in jou huis en op jou werf aantref nie.

“Jy weet nie wat hulle geëet het nie. Koop net by ’n betroubare teler. Telers gebruik net top­gehalte-veevoer wat vir menslike gebruik veilig is.”

As sy nie goggas vir jou tafel teel nie, doen Joanne graag haar eie nutswerkies, en sy is ’n ywerige fotograaf. As troeteldiere hou sy reptiele, honde en hoenders aan.

Die sukses van haar buitengewone onderneming, vertel sy, is deels te danke aan die steun van haar familie en onver­skrokke vriende wat “altyd bereid is om my nuwe resepte te proe”.

Moet ook nie dink sy mors met kos nie. Joanne is altyd op soek na nuwe idees vir die byprodukte van haar voedselfabriek.

“Met my sywurms, byvoorbeeld, sit ek agterna met honderde kokonne. Ek dink daaraan om ’n weefspoel te kry sodat ek klere en beddegoed van sy kan maak.”

Sy gee glad nie om dat haar ongewone beroep mense aan die gons het nie.

“Mense kan nie glo wat ek doen nie en vra altyd miljoene vrae. Ek is van nature ’n introvert, maar ek is meer as bereid om my goggas te bespreek.”

Insekfeite

Hulle smaak so lekker, want hulle eet so lekker!

“Wat die insekte vreet, bepaal ook hul smaak. As hulle kaneel gevoer word, smaak hulle soos kaneel,” verduidelik Joanne.

Daar’s omtrent goggas vir elke smaak: Die swart veldkriek smaak soos drop­lekkers en die bruin huiskriek is “gehout”.

Meelwurms smaak soos hoender; sywurmpapies smaak aards soos sam­pioene; termiete is souterig; en sago­wurms smaak soos spek.

Hier is nog redes om die Doom weg te sit en eerder op te skep:

  • Insekte is ryk aan proteïen, gesonde vette, mikrovoedingstowwe en omega-­­ 3- en -6-olie.
  • Krieke bevat tot 70% proteïen, al nege aminosure, meer yster as spinasie en meer kalsium as melk.
  • Meelwurms het sowat 40% proteïen en meer vette; sywurms het sowat 20% proteïen, maar min vet.
  • Dis groen kos: Insekte verg veel minder voer, water en ruimte as tradisionele vee soos beeste en vervaardig minder kweekhuisgasse. S

Ekstra bron: CNN.COM

Foto's: Verskaf; Michael Techow

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe