Op die vooraand van Valentynsdag is daar dié in die samelewing wat skarrel om romantiese planne te maak saam met hul geliefde. Ander ignoreer dié dag en die rooi hartjies in die winkels soos ’n stopstraat. 

Tog is daar min dinge in die lewe wat die hartsnare só kan roer soos ’n romantiese liefdeslied. 

En met die oog op Valentynsdag en die talle potensiële verlowings wat moontlik wag om te gebeur, het ’n Britse juweliersonderneming Angelic Diamonds gaan navorsing doen oor die mees romantiese liefdesliedjies. 

Die navorsers het meer as 3 000 van die musiekstromingsdiens Spotify se speellyste wat met liefde en romanse te make het, geanaliseer en meer as 125 000 liedjies ondersoek. Die navorsers het die 100 gewildste liefdesliedjies geïdentifiseer.

Donna Lewis en Richard Marx se liedjie "At the Beginning", uit die animasiefliek Anastasia, is volgens navorsers die gewildste liefdesliedjie, en het op 496 van die speellyste wat ontleed is, voorgekom.

Dié liedjie kom ook 239 soveel keer voor as John Legend se liedjie, "All of Me", wat die tweede gewildste liefdesliedjie is en op 257 speellyste voorkom.

Die Britse rooikop sanger Ed Sheeran se liedjies "Thinking Out Loud" en "Perfect", beklee onderskeidelik die derde en vierde plek. 


Sy treffers "Happier" beklee ook die agtste plek en "Photograph" die 11de plek op die lys.

Hy is die enigste sanger wat drie plekke in die top-10 het en ook die meeste plekke in die top-20. In die top-100, beklee Ed sewe plekke.


Die navorsers het ook deur middel van ’n sentiment-ontleding, wat taalgebruik en tekste ontleed, vasgestel watter liefdesliedjies die gelukkigste en die hartseerste is. 

Hulle het bevind dat Coldplay se treffer "Fix You" die hartseerste liefdeslied en Elton John se bekende lied "Your Song" die gelukkigste lied is. 

Die liedjie waarin die woord “liefde” die meeste voorkom is Kygo and Whitney Houston se 2019-treffer “Higher Love”. 

In dié liedjie, wat drie minute en 48 sekondes lank is, kom die woord 80 keer voor. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.