Vir sy teenstanders is hy “Mr Ten Percent” weens sy beweerde jare lange selfverryking, en die #GuptaLeaks-bom het dié voormalige Vrystaatse premier regstreeks by staatskaping betrek.

Nogtans is Elias Sekgobelo “Ace” Magashule skynbaar onaanvegbaar as sekretaris-generaal van die ANC, die magtigste man in die regerende party naas pres. Cyril Ramaphosa.

Nou is Magashule (59) opnuut onder skoot weens die onthullings voor die Zondokommissie van ondersoek na staatskaping sowel as in die nuwe boek van die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture.

Daarin word die volle omvang van sy beweerde korrupte bedrywighede, wanbestuur en politieke afknouery onthul. Oudergewoonte kap Magashule terug.

“Ek is nie korrup nie; dis onsin. Ek sal in die hof bewys dat die man ’n blatante leuenaar is,” sê hy in ’n eNCA-TV-onderhoud oor dié opspraakwekkende boek.

ALS OOR ACE

Hy is ’n boorling van die Tumahole-woongebied in Parys, Vrystaat. Die bynaam Ace het hy as kind gekry danksy sy sokkervaardighede. Hy het ook geboks en aan protesteater deelgeneem.

Sy pa is oorlede toe hy jonk was. In November 2017 het Magashule aan ons susterstydskrif YOU vertel sy ma het as huishulp vir die De Villiers-gesin van Sasolburg gewerk. Hulle het sy skoolgeld by die Hoërskool Phehellang en sy B.A.-studie aan die Universiteit van Fort Hare help betaal.

Volgens sy profiel op die ANC-webtuiste was hy ’n stigterslid van die aktivistiese studenteorganisasie Cosas en die anti-apartheidsbeweging die United Democratic Front en is hy in 1982 van hoogverraad aangekla.

Magashule het al oor sy noue bande met destydse ANC-topfigure, sy waagmoed as Umkhonto weSizwe-operateur en sy 18 maande lange ballingskap in Zambië en Tanzanië gespog. Maar in Gangster State vertel Pieter-Louis se bronne dat sy “struggle-CV” erg aangedik is.

Hy is byvoorbeeld nooit van hoogverraad aangekla nie; wel van openbare geweld ná studentebetogings by Fort Hare. Hy is na sy ou hoërskool terug as onderwyser.

Die polisie het hom in 1985 hier in hegtenis geneem ingevolge die Wet op Binnelandse Veiligheid en ’n paar maande lank aangehou. Magashule is sedert die 1980’s met Seipati getroud en het twee seuns, Tshepiso en Thato, en ’n dogter, Thoko Malembe.

SY OPGANG IN DIE KAARTEHUIS

In 1997 het hy ’n ANC-parlementslid en in 1998 die ANC-voorsitter in die Vrystaat geword. Sy opgang het versnel nadat hy ’n bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma geword het.

Ná Zuma se verkiesing tot die president van die ANC in 2007 is Magashule spesiaal as bykomende lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies. In 2009 het hy die Vrystaatse premier geword.

“As deel van die premiersliga (premiers van die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) was Magashule se rol deurslaggewend om Zuma se mag in dié provinsies te konsentreer,” sê prof. Dirk Kotzé van die departement politieke wetenskappe by Unisa.

Hy het Zuma se hoofluitenant geword, beaam prof. André Duvenhage, ’n politieke wetenskaplike aan die Noordwes-universiteit.

Politieke ontleders was geskok toe Magashule, toe nog premier van die Vrystaat, in 2017 op die ANC-leierskonferensie vir Senzo Mchunu, voormalige premier van KwaZulu-Natal, uitstof en die party se sekretaris-generaal word.

“Magashule het naelskraaps gewen met 2 360 teenoor 2 336 stemme, maar met die stemtellery was daar 68 vermiste stemme wat die uitslag teen Ace kon gedraai het,” sê prof. Theo Neethling, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement politieke studie en regeerkunde.

Magashule is steeds ’n Zuma-lojalis, sê Theo. “Nes Zuma beskik hy oor ’n buitengewone politieke oorlewingsvermoë. Hy het die soort sterkmansbeeld wat by derduisende ANC-lede aanklank vind.”

Hy is glo nog lojaal aan Jacob Zuma (middel) en is waarskynlik pres. Cyril Ramaphosa (regs) se magtigste teenstander. Foto: Gallo Images/AFP

SKOK OP SKOK

Magashule het na bewering as Vrystaatse premier – van 2009 tot Maart 2018 – sy mag misbruik tot voordeel van homself en sy begunstigdes. Pieter-Louis skryf Magashule se oudbondgenote beweer “daar was nie ’n kontrak in die Vrystaat waarvan hy nie geweet het nie”.

Volgens sy bronne is “na Magashule as Mr Ten Percent verwys omdat hy glo ’n 10%-aandeel van elke regeringskontrak in die provinsie geëis het”.

Van die opspraakwekkende bewerings waarby Magashule deur die jare betrek is, sluit in:

  • Die Vrede-suiwelplaasprojek In 2013 het die Bloemfonteinse koerant Volksblad die betrokkenheid van die Guptas onthul in die Estina-suiwelplaasprojek op Vrede wat arm Vrystaters moes ophef. Magashule, wat glo als goedgekeur het, het ’n Gupta-luitenant as raadgewer ingespan, en Atul Gupta het die projekbeplanningsvergaderings bygewoon. Volgens die #GuptaLeaks het die Guptas meer as R80 miljoen van die suiwelprojek se geld afgeskep. Hiervan is R30 miljoen glo vir hul susterskind se troue by Sun City gebruik. Theo sê die Vrede-suiwelplaas is “een van die mees omstrede projekte waarin staatsgeld ooit gestort is: na raming tot R1 miljard. En dit sonder enige gepaardgaande ekonomiese ontwikkeling.”
  • Sy kinders, die Saxonwold-mafia en nepotisme Volgens die #GuptaLeaks- en opvolgondersoeke deur onder meer News24 het die Guptas glo vir Magashule en sy seun Tshepiso “Gift” op ’n soortgelyke wyse as Zuma en sy seun Duduzane by staatskaping betrek. Gift het glo teen ’n vet maandelikse salaris as Gupta-konsultant gewerk. Hy het die Guptas glo met vakansie na New York en Venesië vergesel, en hulle het boonop vir hom en sy kleinboet, Thato, op ’n peperduur Doebai-vakansie trakteer. Magashule se dogter, Thoko, het volgens News24 en ander media glo ook miljoene uit eiendomstransaksies met die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie verdien. Die provinsie het glo vulstasies spotgoedkoop aan haar verkoop. Gangster State meld nou ’n maatskappy van Thoko het ook miljoene verdien uit ’n bedrieglike projek vir die bou van ’n buurt in Bloemfontein. Maar die inwoners sit vandag met substandaardhuise sonder water, spoeltoilette of elektrisiteit. Thabo Manyoni, oudburgemeester van Bloemfontein, het Pieter-Louis vertel hy was in 2013 twee keer saam met Magashule by die Gupta-huis. Atul wou glo hê Magashule moes die minister van kommunikasie in Zuma se kabinet word en dat Manyoni dan Magashule as Vrystaatse premier vervang.
  • Tenders vir tjommies Beatrice Marshoff, Magashule se voorganger as premier, het vir Pieter-Louis vertel hoe Magashule “bepaal het wie burgemeester, munisipale bestuurder of hoof van finansies by al die munisipaliteite word”. Magashule het dan glo sy bande met dié mense ingespan “om tenders toe te staan aan dié na aan hom of wie se steun hy benodig”.
  • ’n Raaiselagtige sluipmoord op kontrakteur Igo Mpambani het ’n kontrak van R255 miljoen vir ’n asbes-oudit van die Vrystaatse departement van behuising onder Magashule as premier gekry. ’n Hoop e-posse en bankstate van Mpambani wat Pieter-Louis bekom het, dui op beweerde korrupsie. Mpambani het glo gereeld boodskappe van Magashule se mense gekry om groot betalings aan begunstigdes te maak. Een daarvan was R10 miljoen aan “AM” – glo ’n verwysing na Ace Magashule. Die kontrakteur, wat dikwels groot bedrae kontant by ’n outobank naby Magashule se premierswoning onttrek het, is in 2017 in sy Bentley-spogmotor in Sandton doodgeskiet. Hy het R1 miljoen by hom gehad en was glo op pad Bloemfontein toe.
  • Omkoopgeld Mxolisi Dukwana, ’n gewese Vrystaatse LUR, het op 5 April voor regter Zondo getuig Rajesh (Tony) Gupta het maandeliks omkoopgeld van R1 miljoen aan Magashule betaal in verband met ’n Jagersfontein-mynprojek.
  • Onreëlmatige huurkontrakte Die DA het Magashule ook by Zondo verkla weens nuwe inligting oor “ ’n skema waarin Magashule as premier die toekenning van huurkontrakte vir regeringskantore gemanipuleer het om hom en ’n paar bondgenote te bevoordeel”.

HOEKOM HET HY SOVEEL VASHOUPLEK?

Talle waarnemers meen Magashule is Ramaphosa se magtigste teenstander binne die ANC. As sekretaris-generaal is hy “die baas en bestuurder van die ANC”, sê André.

“As die ANC hom probeer verwyder, kan dit ’n groot breekspul in die ANC afgee wat ook die land kan destabiliseer. Al kaart wat Magashule oorhet, is politieke mag – en hy sal nie skroom om dit vir sy politieke oorlewing te gebruik nie.

“Ek verwag eerder optrede teen Magashule ná die verkiesing. Dit sal wel binne die juridiese raamwerk hanteer word, maar Magashule sal met politieke mag daarop reageer,” meen André.

Dirk beaam: “Magashule is die magtigste ANC-politikus in enige van hul provinsiale strukture. Die ANC se grondwet maak nie werklik voorsiening vir die verwydering van enige van sy topses nie.”

As hulle as party teen Magashule wil optree, “kan die eerste werklike geleentheid in 2022 op hul volgende nasionale konferensie wees”, sê hy. Ook Theo reken die ANC is te verdeeld om binnekort van Magashule ontslae te raak.

“Ofskoon party ANC-lede baie ongemaklik is met Magashule, is daar dalk ewe veel wat geen probleem met hom het nie. Die nasionale vervolgingsgesag is waarskynlik al roete waardeur Magashule sy posisie as sekretaris-generaal kan verloor as hy skuldig bevind word.

“Die beste scenario vir Ramaphosa is dat hy ná die verkiesing ’n nuwe kabinet saamstel wat sy steunbasis in die party konsolideer en die oorblyfsels van die Zuma-era uitskuif.”

Ekstra bronne: News24.com, City Press, Netwerk24.com, Amabhugane.org, Mail & Gaurdian, Gangster state: Unravelling Ace Magashule's web of capture deur Pieter-Louis Myburgh, EWS24.com, City Press, Daily Maverick, ANC1912.org.za, DA.org.za, SAHistory.org.za