In Maart vanjaar wil Ruan van Deventer (30) langs sy verloofde, Kayleigh van Rensburg (28), staan en trou aan haar beloof.

Dit moes eintlik al in 2019 gebeur het, maar weens 'n ernstige motorongeluk waarin Ruan (30) kort voor hul troudag was, het dit nooit gebeur nie.

Net soos wat Ruan niks van die ongeluk kan onthou nie, kan hy ook nie onthou dat hy vir Kayleigh die eerste keer in 2017 gevra het om te trou nie.

Verlede jaar op haar verjaardag op 6 Julie het hy haar vir die tweede keer om haar hand gevra. Selfs al is die verlowing nog nooit verbreek nie. En weer het Kayleigh ja gesê – ondanks die baie moeilike tye waardeur hulle in die laaste twee jaar is.

“Ek het vergeet hoe ek dit die laaste keer gedoen het,” vertel Ruan.

“Ek het wel op ’n video gesien waar ek haar die eerste keer gevra het.

“My woorde was: ‘Ek het verander en ek sal nie meer dieselfde goed kan doen wat ek voorheen gedoen het nie.’ Ek wou seker maak dat sy wel steeds met my sou wou trou, en gelukkig het sy gesê: ‘Ja! Natuurlik!’,” vertel Ruan verder. 

Ruan het vir Kayleigh verlede jaar vir 'n tweede k
Ruan het vir Kayleigh verlede jaar vir 'n tweede keer gevra of sy met hom sal trou. Foto: Verskaf

“Ek was in ekstase, ek het dit nie verwag nie, maar dadelik weer ja gesê,” vertel Kayleigh. Die twee is al 13 jaar ’n paartjie. 

“Volgens my was dit nie eens nodig dat hy weer vra nie, want ek sou in elk geval steeds met hom getrou het, maar dit het my goed laat voel omdat die herinnering (van die verlowing), nie daar was vir ons al twee nie.”

Die twee beplan om in Maart in Muldersdrift af te haak, by dieselfde trouplek waar hulle aanvanklik beplan het om hul troudag te vier voor die motorongeluk hul planne gekelder het. 

Ruan, wat voorheen as ’n inligtingstegnologie-ingenieur gewerk het, kan niks van die ongeluk onthou nie. 

“Ek weet net dít wat vir my vertel is: dat ek saam met my vriend in die voertuig was, as passasier, toe die voertuig teen ’n boom gebots het,” vertel Ruan. 

Die ongelukstoneel minder as 'n maand voor hul tro
Die ongelukstoneel. Die ongeluk het minder as 'n maand voor hul troudag in 2019 gebeur. Foto: Verskaf

Hy is per ambulans van Evander af vervoer na ’n hospitaal in Trichardt, waarna hy oorgeplaas is na ’n hospitaal in Alberton. 

Ruan het talle beserings in die ongeluk opgedoen – onder meer ’n breinbesering. Hy was vir 10 weke in ’n koma. Hy was daarna vir nog ses weke in ’n gedeeltelike koma terwyl hy in ’n rehabilitasiesentrum was. 

Hy moes sedert die ongeluk ’n reuse-operasie – ’n kraniotomie – ondergaan om drukking op die brein te verlig. Ruan moes verder drie keer rekonstruktiewe chirurgie ondergaan om die breuke aan sy gesig, oogholte en kakebeen te herstel.

Sy senuwees herstel stadig maar seker. Ons sien klaar ’n groot verbetering want sy gesigspiere werk nou beter en beter.

Sy hele neus is in die ongeluk vergruis en daarom moes hy ook neuschirurgie ondergaan. Baie van die senuwees in sy skedel, gesig en neus is beskadig, en Ruan kan daarom nie ruik nie.

Sy regteroor is doof en sy linkeroog is blind.

Die regterkant van sy gesig is ook verlam maar hy het onlangs ’n gespesialiseerde operasie ondergaan waartydens senuwees van sy skouers en nek aan beskadigde senuwees in sy gesig geheg word.

Hy moes ook ’n spesiale prosedure ondergaan om sy regteroog, wat weens die verlamming nie kon knip nie, te help knip met ’n gewiggie in sy ooglid. 

“God is goed en sy senuwees herstel stadig maar seker. Ons sien klaar ’n groot verbetering want sy gesigspiere werk nou beter en beter. Sy gesig is al amper weer simmetries en ons begin al ’n glimlag sien,” sê Kayleigh. 

Ruan en Kayleigh hoop om in Maart te trou. Foto: V
Ruan en Kayleigh hoop om in Maart te trou. Foto: Verskaf

Maar daar lê nog ’n lang herstelpad voor. 

"Ek moes drie keer ’n dag elke dag vir maande lank en steeds gaan vir fisioterapie, spraakterapie en arbeidsterapie,” sê Ruan, wat ook stamselbehandeling ondergaan. En ja, daar is dae wat hy moedeloos raak. 

“Baie dae is dit moeilik. Soms is alles te veel,” erken Ruan. 

“Ek is gefrustreerd omdat ek eenvoudige goed nie kan doen nie. Sport was baie belangrik vir my, eenvoudige goed soos balvang, en dié tipe goed, kan ek nie meer doen nie. My liggaam en my brein wil nie saamwerk nie,” sê hy. 

“Mense wat kla oor klein goedjies wat hulle wel kan doen, dít frustreer my vreeslik. Hulle moet dankbaar wees vir dít wat hulle kan doen, want dit kan enige dag van jou af weggevat word,” sê hy. 

“Ek is ook altyd moeg, en dit is as gevolg van die breinbesering, iets wat ons niks aan kan doen nie. Ek hoop dit sal met tyd beter word.”

Ruan moes sedert die ongeluk rehabilitasie onderga
Ruan moes sedert die ongeluk rehabilitasie ondergaan. Hy kry steeds fisio-, spraak- en arbeidsterapie. Foto: Verskaf

Ruan sê mense verstaan ook nie altyd wat hy sê nie omdat die verlamming aan die een kant van sy gesig sy spraak beïnvloed. 

“Mense luister ook soms nie wat ek sê nie en neem aan hulle het verstaan wat ek sê, maar maak hul eie gevolgtrekkings oor wat hulle dink gesê is. Dan kry jy ook mense wat na ’n mens staar, wat ’n mens ongemaklik laat voel.

“Sommige mense behandel my asof hulle nie kan glo dat ek vir myself kan praat nie, want ek sukkel om te praat en dan word die vrae gestel aan iemand wat saam met my is,” vertel Ruan van sy uitdagings. 

Maar hy hou ook moed, sê Ruan. Hy en Kayleigh is albei baie gelowig en hulle albei meen hul geloof dat God ’n plan met hulle het, hou hulle staande.

Ek staan op in die oggende om te hoor wat God se plan vir my is vir die lewe.

Dit is ook waarom Kayleigh nooit, ten spyte van al die geweldige groot uitdagings, eens daaraan gedink het om Ruan te los nie. 

“Ek het geweet wie Ruan is en geweet hy is lief vir my; hy sou nie opgegee het as ek in dieselfde posisie was nie, so ek het nooit gedink aan tou opgooi nie,” sê sy. 

Kayleigh en Ruan voor die ongeluk. Foto: Kyla Lott
Kayleigh en Ruan voor die ongeluk. Foto: Kyla Lottering Photography

“Ek staan op in die oggende om te hoor wat God se plan vir my is vir die lewe, en om ander hoop te gee. God het my gespaar sodat ek sy naam kan verkondig en ander wat dieselfde oorgekom het kan probeer inspireer om nooit op te gee nie, al lyk dit asof dinge nooit beter gaan nie,” sê Ruan. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe