"Toe my kontrak opgeskeur word, het my hart ’n bietjie gesink, maar ek het ’n voorgevoel gehad dat ek uitgestem gaan word en ek het vrede ervaar," vertel Tasha eksklusief aan Huisgenoot. 

Tasha, oftewel Natasha Zaaiman, moes Woensdagaand tydens die sesde episode van dié gewilde werklikheidsprogram op VIA (DStv-kanaal 147), haar droom vaarwel roep om as wenner van ’n kontrak ter waarde van R1 miljoen van die platemaatskappy Coleske Artists gekroon te word. 

"Ek sing al vandat ek baie jonk is en wil van hier af graag my loopbaan verder neem en eendag ’n album uitreik. Dis beslis nie die einde nie," het sy gesê.

Dit is veral haar mentor, Elvis Blue, se ondersteuning wat haar aangespoor het om nie haar musiekdrome te laat vaar nie.

"Ek het dit verskriklik baie geniet om saam met Elvis te werk. Ons verstaan mekaar en is baie dieselfde. Die moeite wat hy gedoen het om my gemaklik te laat voel, maar my terselfdertyd ook te druk, het baie beteken."

Vir haar was die grootste les wat sy by hom geleer het om altyd getrou aan haarself te bly en nooit te verander nie.

"Hy het vir my gesê ek moenie luister na wat ander sê nie en net altyd aanhou om in myself te glo."

Dié jong meisie met die eksentrieke styl en borrelende persoonlikheid het net drie dae voor die program se sluitingsdatum ingeskryf.

"’n Vriendin het my van die program vertel, maar ek was onseker of ek moet inskryf. Drie dae voor die inskrywings gesluit het, het my ma vir my gesê sy dink ek moet inskryf, en toe het ek ’n kans gewaag."

Vir haar was die ervaring "meer as wat woorde kan beskryf".

"Die liefde, omgee en passie tussen die musikante is iets wat ek altyd saam met my sal dra."

  • Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 18:00.
  • Die JOOX-app is die amptelike musiekstroomvennoot van Die Kontrak.