Eindelik het die versagting van die inperkingreëls groter vryheid van beweging en meer ekonomiese aktiwiteite toegelaat. Dit het gelyk of die covid-19-winter van 2020 dalk tog einde se kant toe staan . . .

Maar ons was te gou bly. Die afgelope paar weke het ons bittere koue beleef, en daarmee saam die onwelkome terugkeer van beurtkrag. Nes die pandemie, blyk dit, het Eskom se kwale nog lank nie gewyk nie. Hier op vlak 3 van die inperking moes ons boonop weer vertroud raak met die byt van Eskom se fase 1- en 2-beurtkrag.

Dis nog ’n terugslag vir die ekonomie sowel as die psige van ’n nasie wat al vuisvoos is weens die aanslae van die pandemie. Die bekende ekonoom Mike Schüssler reken fase 1-beurtkrag kos ons ekonomie sowat R250 miljoen per dag – en dit te midde van die grootste resessie in jare. Julius Malema se EFF het selfs vir Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, van korrupsie en nepotisme beskuldig.

Aan die EFF se uitlatings steur hy hom nie, het Jan aan Huisgenoot gesê. “Leë blikke maak die meeste geraas. Ek slaap rustig en met ’n skoon gewete snags, en ek kan God en myself in die oë kyk”.

Maar hoekom dan nou weer beurtkrag, wou ons van Jan weet. Het die afname in ekonomiese aktiwiteite – en dus laer kragverbruik – tydens die streng inperking nie aan Eskom die kans gegee om noodsaaklike opgradering en instandhouding te doen nie?

Jan verseker ons dat hy Suid-Afrikaners se moedeloosheid en woede verstaan. Maar hy vra ook “nog ’n bietjie geduld en tyd” om die nasionale kragvoorsieningsnetwerk behoorlik te laat loop . . .

Jan Oberholzer. Foto: Felix Dlangamandla/ Netwerk2
Jan Oberholzer. Foto: Felix Dlangamandla/ Netwerk24

Jan beantwoord die volgende 10 vrae.

1. HOEKOM BEURTKRAG AS SOVEEL NYWERHEDE NET GEDEELTELIK WERK?

Ons gebruik eintlik nie nou minder elektrisiteit nie. ’n Week gelede, toe dit so koud was, was elektrisiteitsverbruik die hoogste in ’n jaar. In Mei en April was verbruik wel laer, maar dit het nou pragtig opgetel.

2. IS BEURTKRAG TERUG OM TE BLY?

Ek gaan jou met ’n draai antwoord. Die deursnee-ouderdom van ons kragstasies is 38 jaar oud. ’n Kragstasie se lewensverwagting is 50 jaar, en ’n mens kan dit met so 10 jaar verleng. Ek kan dit vergelyk met die menslike liggaam. Die liggaam raak ouer, en as jy nie na jou liggaam kyk nie, gaan jou gesondheid daaronder ly. Die afgelope 10 jaar is ons kragstasies verwaarloos.

Hulle is dus nie betroubaar en voorspelbaar nie. Ons doen roetine-instandhouding, en ons is besig om betroubaarheidsinstandhouding by kragstasies te doen. Maar dit vat tyd. Daar lê dus nog ’n jaar voor waar beurtkrag moontlik kan plaasvind om oor die hond se stert te kom. Dus tot einde Augustus volgende jaar is die risiko van beurtkrag daar.

3. WAT DOEN ESKOM OP KORTTERMYN?

Ons doen deurgaans roetine-instandhouding by die kragstasies. Maar dit is soos om ’n pleister op ’n wond te plak. Ons doen ook betroubaarheidsherstelwerk by die verskillende eenhede van die kragstasies. Dit beteken dat ons eenheid vir eenheid ’n maand of twee van die stelsel moet afhaal en deeglike instandhouding daarop uitvoer om optimale prestasie te verseker wanneer elke eenheid weer aan die stelsel gekoppel word. Ons is tans besig om hard te werk om die ontwerpsfoute by die Medupi- en Kusile-kragstasies reg te stel. Ons het dit onlangs by die Medupi-kragstasie se eenheid drie gedoen, en nou funksioneer hy optimaal.

Ons kry baie ekstra megawatts uit hom uit.

4. VERSTAAN ESKOM DIE IMPAK VAN BEURTKRAG ÉN DIE PANDEMIE?

Mense dink ons is nie sensitief genoeg hieroor nie. Maar ek praat namens die meerderheid van Eskom-werkers as ek sê ons verstaan watter groot rol ons in die ekonomie speel en dat mense se oorlewing van elektrisiteit afhanklik is. Ek beloof ons werk regtig hard om hier uit te kom.

Dit help nie ons sê heeltyd Eskom het 10 jaar lank niks gedoen nie . . . Ons is waar ons is, en nou moet ons dit probeer regstel. Onthou, as ons nie elektrisiteit voorsien nie, kry ons nie geld in nie, en ons (Eskom) is in finansiële moeilikheid. Ons weet ondernemings skep werk wat broodnodig is. Ons verstaan en namens Eskom vra ons verskoning. Ons werk regtig hard om dit te probeer regstel.

5. HOEKOM IS SAKE NA JARE SE KRAGPROBLEME NOG NIE REGGERUK NIE?

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Reuters
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Reuters

Ons het 10 jaar lank ons stelsel verwaarloos. Die regering se beleid was ook dat die ligte ten alle koste moet aanbly, en ongelukkig was dit ten koste van ons kragstasies.

Daar is ook nie aktief probeer om addisionele krag van eksterne kragverskaffers by die nasionale stelsel te voeg nie. Ons kan nie net op Eskom staatmaak vir krag nie; ons moet hernubare krag en ander bronne inbring.

6. MAAR DIE STRENG INPERKING HET TOG VIR ESKOM ’N BLAASKANS GEGEE?

Ons het nie geweet hoe lank die inperking gaan duur nie; ons kon dus nie hele eenhede uithaal en betroubaarheidsinstandhouding doen nie. Ons het wel baie werk gedoen. Ons kon ’n ekstra 2 000 megawatt by die stelsel voeg.

7. ESKOM HET IN MEI GESÊ ONS SAL MIN BEURTKRAGDAE HÊ, HOE DAN NOU? 

Onvoorspelbare kragstasies. Toe ons verlede week die besluit moes neem om beurtkrag te implementeer, is dit nie ligtelik gedoen nie. Ons kan nie al ons noodvoorraad (verwek deur diesel en hidro-elektrisiteit) gebruik nie, want wat as ons dit doen en nog een van ons onvoorspelbare eenhede gee moeilikheid?

Dan het ons ook nie meer noodvoorraad nie. Dan sal ’n mens van fase 1-beurtkrag sommer na fase 4 of hoër moet gaan.

8. WAAROM KAN PRIVAAT KRAG STEEDS NIE DIE NETWERK VOED NIE?

My mening is daar is nie genoeg dringendheid nie. Ek het dit vroeër aan verskeie ministers en pres. Ramaphosa duidelik gestel, spesifiek in Desember 2019, toe ons fase 6-beurtkrag moes implementeer. Ons móét addisionele krag van privaat verskaffers by die netwerk voeg. Maar dit is al agt maande later . . .

9. IS DAAR ’N SILWER RANDJIE?

Daar is altyd ’n silwer randjie. Ons het ongelooflik baie toegewyde mense, maar hulle het die spasie nodig om die harde werk gedoen te kry. Dit is ook belangrik om te sê daar is nuwe mense aan die stuur by Eskom. Diegene wat strooi aangejaag het, is meestal weg. Ons het al baie vermag.

10. HOE LYK DIE PAD VORENTOE?

Ons beweeg in die regte rigting. Ons is toegewyd en ons het ’n plan. Dit gaan nié slegter nie. Ek het dié job gevat om ’n verskil te maak. Ek was onder geen illusie dat dit maklik sou wees nie. Daar is steeds korrupsie in Eskom. Maar ek, André de Ruyter (uitvoerende hoof), en ander bestuurslede is besig om ontslae te raak daarvan. Ons sal die wa deur die drif kry.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe