Die twee bejaarde vroue, albei 75 jaar oud, was glo al dekades lank lewensmaats.

Hul bure in Krugersdorp se weelderige Featherbrooke Hills-aftreekompleks het hulle as uiters privaat en onafskeidbaar geken.

Die veiligheidsbewuste Nicky van Niekerk, haar vuurwapen altyd byderhand, was die beskermende een.  En die afgelope tyd moes sy sterker as ooit wees vir Lesley Briscoe, wat aan alzheimersiekte gely het.

Daar was sprake dat Lesley eindelik in verswakte sorg sou moes gaan. 

Tog was hulle opgewek toe hulle op Saterdag 13 Februarie in Nicky se wit Mazda met die “Back off, you’re too close”-bufferplakker die pad na Heroldsbaai aan die Tuinroete aanpak, vertel hul buurvrou, Anita Richards (71).

Min het Anita geweet sy sou hulle nooit weer lewend sien nie, en dat hul name by die lys van Voëlkliptragedies gevoeg sou word. 

“Hulle het so daarna uitgesien,” vertel Anita vandag.

“Alles was lank vooruit bespreek. Hulle was baie verlig dat covid-19 dit nie in die wiele kom ry het nie.”

Ná hul aankoms op die skilderagtige kusdorpie het Anita, wat deur die paartjie gevra is om hul plante te versorg, gereeld van hulle gehoor.

“Die weer is super,” sê Nicky in een teksboodskap.

“Ons uitsig oor die strand,” lui die onderskrif by ’n foto wat geneem is van die stoep van die gastehuis waar hulle op 17 Februarie ingeteken het.

Inwoners van die Heroldsbaai-omgewing voel verdeel
Inwoners van die Heroldsbaai-omgewing voel verdeeld oor die nou berugte Voëlklippad, wat onlangs nóg twee lewens geëis het. Foto: Verskaf

Toe, op 20 Februarie, verlaat hulle die gastehuis. Dit was ’n Saterdag en Heroldsbaai se mense het die sonskynweer benut om langs die see te drentel.

Nicky en Lesley se laaste ure bly ’n raaisel: Een inwoner het twee vroue gesien wat aan hul beskrywing voldoen wat koffie gedrink het, en sy onthou hoe een die ander ondersteun het asof sy pyn het toe hulle uitstap.

Dit was vroegaand, maar nog lig buite toe Chris Hattingh (72) en sy kleindogter Danielle Terblanche (21) met hul hond gaan stap het. Hul strandhuis is naby die berugte Voëlklip-uitsigpunt, hoog bo die skuimende branders.

Soos telkens by Voëlklip het Chris aan die 10 tragiese sterftes by hierdie krans die afgelope ses jaar gedink. Veral die dood van die Heroldsbaaise ma Heidi Scheepers (35), wat op 22 Oktober 2019 saam met haar kinders, Hugo (2) en Cozette (6), in hul Volkswagen Caravelle-bussie oor die afgrond is, het die gemeenskap geruk. 

Inwoners van die Haroldsbaai-omgewing voel verdeel
Inwoners van die Haroldsbaai-omgewing voel verdeeld oor die nou berugte Voëlklippad, wat onlangs nóg twee lewens geëis het. Foto: Verskaf

“Ons het eensklaps ’n aardige gevoel gehad,” vertel Chris nou.

Toe hoor hulle twee harde knalle, vinnig ná mekaar bo die gedruis van die branders. En daarna sien hulle die wit Mazda sowat 70 m van hulle stadig teen die skuinste afloop.

“Twee klapgeluide en toe die kar wat so verskriklik stadig daar afry. Dit was baie onheilspellend. Ons het dadelik in daardie rigting begin hardloop,” vertel Danielle, ’n kunsstudent.

Dit was Chris wat ’n stemboodskap op die Heroldsbaaise WhatsApp-groepie gelaat het: “Ek is hier by die punt waar mense al met hul karre in die see ingery het. Hier is so pas ’n wit kar af. Hulp benodig, asseblief. So twee minute gelede hier af. Ek was so ’n entjie weg.”

Die wrak van Nicky van Niekerk en Lesley Briscoe s
Die wrak van Nicky van Niekerk en Lesley Briscoe se wit Mazda wat by die afgrond gestort het. Foto: Verskaf

Maar vir Nicky en Lesley was dit te laat – daar is nou 12 name op die lys van die sogenaamde Voëlkliptragedies. 

Die polisie het kort voor druktyd die voorval en sterftes bevestig, maar wou “weens die sensitiewe aard van die ondersoek” nie nog besonderhede verskaf of die slagoffers se name bevestig nie.

Op ’n foto wat aan Huisgenoot verskaf is van die wit Mazda aan die voet van die afgrond is die “Back off, you’re too close”-plakker duidelik sigbaar.

Sers. Chris Spies, ’n polisiewoordvoerder, bevestig twee rewolwers is in die motor gevind en vir ballistiese toetse gestuur. Om die nek van een van die vroue het die polisie ’n kaartjie gevind met die besonderhede van hul makelaar, Cheryl van Rooyen.

“In geval van ’n noodgeval,” was daarop geskryf.

By Featherbrooke se kantoor is Cheryl ook as die paartjie se enigste “naasbestaande” opgeteken. Cheryl het teenoor Huisgenoot bevestig sy was na aan Nicky en Lesley, dat sy hul persoonlike sake hanteer en dat sy met die polisie in kontak is. Sy wou nie nog uitbrei nie:

“Ek wil in privaatheid rou.”

Op foto's wat aan Huisgenoot verskaf is, word die
Op foto's wat aan Huisgenoot verskaf is, word die persoonlike eiendom van die twee mense op die toneel gesien. Foto: Verskaf

In Featherbrooke, waar die paartjie agt jaar gewoon het, is hul bure en vriende steeds verslae oor die onverwagte dood van die twee vroue wat hier so besonder geliefd was.

Van hul lewe voor hul intrek by Featherbrooke weet die kompleksbewoners niks. Net dat hulle g’n kind of kraai het nie, vertel Anita.

Lea Truward, bestuurder van die landgoed, bevestig die vroue was lewensmaats.

“Hulle is al dekades saam. Hulle het nog in daardie harde tyd, toe mense baie neergesien het en veroordelend was, met hul verhouding begin,” vertel sy. 

“Hulle het altyd na almal omgesien. Hulle het nie gevat nie; net gegee.” 

Op foto's wat aan Huisgenoot verskaf is, word die
Op foto's wat aan Huisgenoot verskaf is, word die persoonlike eiendom van die twee mense op die toneel gesien. Foto: Verskaf

Sy vertel Nicky was altyd gewapen, en soos almal hier ken Lea daardie bufferplakker op die Mazda.

“Maar sy was wetsgehoorsaam en nie gewelddadig nie.”

Yvonne Agterberg (80), nog ’n buurvrou, vertel die paartjie het altyd haar huis opgepas wanneer sy haar kinders oorsee gaan besoek het.

“Hulle het gereeld die tannies hier bank toe gery of my huishulp, Barbara, na die taxihalte, of met my hondjie, Misha, gaan stap.”

Maar die afgelope ruk was albei se gesondheid nie waffers nie.

“Nicky het begin kla sy kan nie meer so ver stap nie weens rugpyn,” vertel Yvonne.

“En Lesley het begin vergeet. Nicky het genoem op lang termyn sal hulle moet uitkyk vir ’n plek vir haar.”

Almal hier het verwag om hulle weer op 22 Februarie te sien. Lea bevestig hulle het dié dag as hul terugkeerdatum in Featherbrooke se vakansieregister aangedui.

“Ons sien jou volgende Maandag!” was hul afskeidswoorde aan haar toe hulle wegry, vertel Anita bedroef.

Later, toe sy hul huisplante water gee, het sy gesien “Back home” is by 22 Februarie op hul kombuiskalender geskryf. Sy het niks vreemds gedink van die twee plastieklêers op die kombuistoonbank nie: een vir Nicky en een vir Lesley.

“Hul sake was altyd agtermekaar.”

Maar op Maandag 22 Februarie herken Yvonne se huishulp, Barbara, toe die bekende Mazda in ’n aanlyn nuusberig.

Heroldbaaiers meen Voëlklip verdien nie sy donker reputasie nie.

“Dis ’n lieflike plek,” vertel Chris, wat ’n strandhuis hier het.

“Maar die werklikheid is dat dit nou ongelukkig ’n soort kultusstatus het weens die publisiteit en emosies oor al die voorvalle hier.”

Die vroue se motor het die kruise wat hier geplant
Die vroue se motor het die kruise wat hier geplant is ter herinnering van Heidi Scheepers en haar kinders rakelings gemis. Foto: Verskaf

Kenneth Field, voorsitter van die Heroldsbaaise huiseienaarsvereniging, sê die pad na Voëlklip is ’n provinsiale pad wat deur privaat eiendom loop. Die eienaar is tans in die buiteland en kon nie vir kommentaar bereik word nie. Die pad is die verantwoordelikheid van die Wes-Kaap, en daar is heelwat veiligheidswaarskuwings.

“Daardie pad is, soos die meeste paaie, ’n baie veilige pad as jy stadig om die draaie ry.”

Die eienaar van die gastehuis waar die paar voor hul dood gebly het, wou nie kommentaar lewer nie, maar volgens ’n bron het hulle met hul vertrek geskryf: “Baie dankie, ons het baie lekker hier gebly.”

Dít, al was hulle glo nog tot die Maandag hier ingeteken.

In Krugersdorp wil Lea nie die bespiegeling glo dat hulle moontlik hul eie lewe geneem het nie.

“Hoekom sal jy so ver ry om ’n einde te maak? Ek weet nie; ek is baie negatief daaroor; ek dink dit kon dalk ’n ongeluk gewees het,” sê sy ferm. 

“Lesley was al ver met die alzheimers, ja, maar Nicky was nog heeltemal orraait. Sy het na Lesley gekyk.” 

Daar was ook nog geen reëlings om Lesley in Featherbrooke se verswaktesorgeenheid op te neem nie. 

“Ek dink Nicky het dit so lank moontlik probeer uitstel. Sy was baie lief vir Lesley, en ek dink nie sy sou haar maklik onder iemand anders se sorg geplaas het nie.

”Die hele Featherbrooke-gemeenskap is in rou,” sê Lee.

“Dis omtrént ’n tranedal hier.” 

VORIGE TRAGEDIES

15 November 2015

Werner Finger (20), MarNic Els (20) en Luandro Jansen (21), almal van George, ry vroegoggend met ’n Toyota Hilux-bakkie van die krans af

22 Oktober 2019

Heidi Scheepers (35) van Heroldsbaai sterf op dieselfde plek saam met haar twee kinders, Hugo (2) en Cozette (6), in ’n Volkswagen Caravelle.

3 Desember 2019

’n Makelaar van George, Zonita Basson (53), stort oor die afgrond sowat 1 km van waar Heidi en haar kinders dood is.

29 Januarie 2020

’n Sakeman (52) van Port Elizabeth, wie se naam weerhou word, ry oor die afgrond.

21 Januarie 2021

’n  Ma (34) en haar dogtertjie (2) sterf toe hul motor oor die afgrond gaan. Hul seun (8) spring betyds uit.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe