Dis ’n resep vir ’n sukses, maar sonder die gewone bestanddele wat van ’n videospeletjie ’n treffer maak. Die Mario-broers is nie superhelde, sluipmoordenaars, gode of soldate nie, maar piepklein loodgieters.

Tog het hul destydse bekendstelling in die arkadespeletjie Donkey Kong die wonderwêreld van videospeletjies op sy kop gekeer – en toe Mario Bros. presies 35 jaar gelede hul eie videospeletjie kry, het hulle wêreldwyd bekend geword.

Om hul 35-jaar-herdenking te vier, kyk ons terug na die wel en wee van dié loodgieters – en na wat in die toekoms wag. 

Super Mario
Die Super Mario-speletjie.

Held word gebore

Mario was oorspronklik ’n skrynwerker genaamd Jumpman in Donkey Kong, ’n arkadespeletjie wat in 1981 deur die Japannese videospeletjieontwerper Shigeru Miyamoto vir die videospeletjiemaatskappy Nintendo geskep is.

Super Mario
Donkey Kong.

In dié speletjie moes die ou met die snor en rooi klere van platform na platform spring om die karakter Pauline van ’n reusegorilla, Donkey Kong, te red.

Shigeru het aan CNN vertel hy het destyds die beskikbare tegnologie gebruik om “’n karakter met ’n kenmerkende voorkoms uit ’n klein aantal pieksels te skep”.

Mario het later ’n loodgieter geword, want “ons wou hê hy moes iemand wees wat naby jou kon woon, geen superheld nie”.

Hy is eers van Jumpman na Mario herdoop toe die speletjie in Amerika uitgereik is.

Die rede vir sy naam? Hy het vir die Amerikaanse Nintendo-span gelyk nes die eienaar van die gebou waarin hulle toe gewerk het, en dié se naam was Mario. 

’n Nuwe manier van speel

Toe die videospeletjie Super Mario Bros., Mario en Luigi se eerste alleenstaande speletjie, in 1985 in Amerika en ook wêreldwyd uitgereik is, het die loodgieters se gewildheid die hoogte ingeskiet.

“Mense het toe nog nooit ’n speletjie soos Super Mario Bros. gesien nie,” vertel Frank Cifaldi, ’n mededirekteur van die Video Game History Foundation.

Super Mario
Die Super Mario-speletjie in 1985.

Tevore was videospeletjies daarop gemik om ’n hoë puntetelling te kry, maar ten spyte van die tegnologiese beperkings het Super Mario Bros. spelers op ’n avontuur geneem wat hulle enduit wou beleef.

“Dit was ’n epiese avontuur in ’n massiewe wêreld. Dag verander in nag namate jy vorder. Jy steek brûe na nuwe plekke oor,” vertel Frank oor die karaktertjies se vordering aan die hand van mense wat die speletjie gespeel het.

Shigeru Miyamoto
Shigeru ­Miyamoto Foto: Gallo Images/Getty Images

Roem en rykdom

Verskeie nuwe weergawes van die speletjie is die afgelope drie dekades uitgereik en die Super Mario Bros.-reeks is steeds ’n treffer. Die franchise is byna R500 miljard werd.

Dit is een van die top-10- welvarendste handelsname ter wêreld van speletjies en reekse, met Pokémon, Hello Kitty, Winnie the Pooh, Mickey Mouse en Star Wars die topvyf.

Elke Mario-speletjie wat Nintendo uitgereik het, is steeds ’n reusetreffer – selfs die oues. Verlede jaar het ’n skaars, verseëlde eksemplaar van die oorspronklike Super Mario Bros.-speletjie vir die NES-konsole uit 1985 ’n volle R1,7 miljoen op ’n veiling gehaal – ’n rekordbedrag vir ’n videospeletjie.

Die vorige rekord was R1,5 miljoen – vir ’n ander eksemplaar van dieselfde speletjie.

Immergroen in ’n nuwe wêreld

Bemarkers droom daarvan om ’n handelsnaam soos Mario te skep, skryf Kim Bhasin in Business Insider.

“Hy het alles: Hy word oral herken, het ’n positiewe reputasie en bowenal toegewyde aanhangers wat aanklank vind by die karakter en dit wat hy verteenwoordig.”

Mario se aantrekkingskrag lê daarin dat hy nie veel van ’n persoonlikheid het nie, skryf Jeff Ryan in sy boek Super Mario: How Nintendo Conquered America.

“Met ’n Mario-speletjie kan jy voorgee jy’s ’n mollige, middeljarige ou wat tot op ’n skilpaddop hop. Wat? Geen superheld, soldaat of towenaar nie? Watter soort goedkoop manier is dit om wense te vervul?” vra Jeff.

Maar dan voeg hy by: “Sy saai karakter is deel van sy aantrekkingskrag: Hy is ’n held vir elke smaak.”

Mario is altyd . . . wel, Mario. Van die een speletjie tot die volgende bly die storie basies dieselfde, al het die grafika en ontwerp al aansienlik verbeter. Hy red altyd die prinses uit die skurk se kloue.

“Ons is (Mario): Sy frustrasie wanneer hy ’n sprong mis, is ons eie; sy vreugde as hy ’n muntstuk gryp, is ook ons s’n,” skryf Jeff. “Daarom voel sy konflik (of enige ander speletjiekarakter s’n) in ’n storie selde vir ons emosioneel eg: Dis eerder soos ’n blaaskans, ’n rustydvertoning.”

Sy transformasie

Mario het sy debuut in ’n blou hemp, ’n rooi oorpak en ’n rooi hoed gemaak. Dit het later in Super Mario Bros. ’n oranje oorpak en bruin hemp geword voor hy dit vir sy nou bekende blou oorpak en rooi hemp verruil het.

In New Super Mario Bros. is hy van kop tot tone in rooi uitgevat.

Super Mario
Foto: Dr. Mario World

Op die groot doek en kassie

Mario het in 1993 sy debuut op die silwerdoek gemaak, met wyle Bob Hoskins as Mario, John Leguizamo as Luigi en wyle Dennis Hopper as die bose Bowser. Soos die meeste fliekverwerkings van videospeletjies is dit nie goed deur die gehore, kritici en selfs die sterre ontvang nie.

“Die ergste ding wat ek ooit gedoen het? Super Mario Bros.,” het Bob jare later gesê. “Dit was ’n nagmerrie.”

Mario het van die laat 1980’s tot die vroeë 1990’s in drie animasietelevisiereekse verskyn: Super Mario World, The Super Mario Bros., Super Show! en The Adventures of Super Mario Bros.

Nintendo het vandeesmaand aangekondig hulle werk saam met Shigeru, die skepper van Mario, aan ’n nuwe Super Mario Bros.-animasiefliek. Dit sal na verwagting in 2022 uitgereik word. 

Die Mario-span

Mario het in Brooklyn grootgeword, maar woon nou in die Mushroom Kingdom. Hy is ’n loodgieter, maar is meestal besig om Princess Peach van sy aartsvyand, Bowser, te red.

Super Mario
Super Mario.

Luigi is Mario se jonger, langer broer. Hy’s skugter, maar goedhartig en word nie so gou kwaad soos sy broer nie.

Luigi.
Luigi. Foto: Mariowiki.com

Princess Peach is die monarg van Mushroom Kingdom en Mario se beste vriendin. Sy word gereeld ontvoer.

Princess Peach
Princess Peach. Foto: Mariowiki.com

Toad is ’n humanoïed-sampioen en Princess Peach se beskermer, maar nie baie knap nie.

Toad.
Toad. Foto: Mariowiki.com

Bowser is die skurk wat altyd die Mushroom Kingdom probeer oorneem. Hy is ook die leier van die skilpadagtige Koopas.

Bowser
Bowser. Foto: Mariowiki.com

Yoshi is ’n vrolike dinosourus en Mario en Luigi se helper. Hy laat hulle toe om gevegte op sy rug binne te ry.

Yoshi
Yoshi. Foto: Mariowiki.com

DIE SYFERS

R500 miljard: Die waarde van die Mario-franchise.

R1 700 000: Die koste van die duurste eksemplaar van Super Mario Bros.

600 miljoen: Die getal speletjies wat al verkoop is sedert Mario se eerste verskyning in Donkey Kong.

200: Die getal videospeletjies waarin Mario al verskyn het.

15: Die aantal lande waarin Mario se speletjies gespeel word.

BRONNE: CNN.COM, TECHRAPTOR.COM, THEWEEK.CO.UK, ESQUIRE.COM,  BUSINESSOFAPPS, VIDEO GAME STATS, THE GUARDIAN, WASHINGTON POST, BUSINESS INSIDER, CNBC, PEOPLE; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, MARIOWIKI.COM, SKERMGREPE
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe