As sy haar storie goed wil vertel, het Natasha Gregson Wagner geweet een man se getuienis sou bowenal saak maak. Maar ná ’n ure lange gesprek voor die kameras in haar huis in Los Angeles het die inligting wat sy nodig gehad het nog ontbreek.

Natalie Wood. Foto: Gallo Images/Getty Images
Natalie Wood. Foto: Gallo Images/Getty Images


Daardie man is die akteur Robert Wagner, die man wat sy vandat sy kon onthou “Daddy Wagner” genoem het, die man wat op 90 haar steeds elke dag bel en wat sedert sy 11 was, geteister word deur bewerings dat hy op ’n verskriklike aand 39 jaar gelede woedend en besope haar ma, die aktrise Natalie Wood, aan die kus van Suid-Kalifornië vermoor het.

Daar word beweer Natalie se man, ­Robert Wagner, h
Daar word beweer Natalie se man, ­Robert Wagner, het haar oorboord gegooi. Foto: Gallo Images/Getty Images


Jare lank het Natasha (49) weggeskram van die bewerings teen haar stiefpa, selfs toe dit met hernude openbare belangstelling en die heropening van die polisieondersoek duidelik word ander is nie so oortuig van sy onskuld soos sy nie.

Dat sy self nou ’n ouer is, het tot haar besluit bygedra om standpunt in te neem.

“Om my dogter se onthalwe wil ek die nalatenskap van my ma se loopbaan en die gissings oor haar dood opklaar. Ek wil nie hê daardie las moet op my dogter se skouers val nie,” sê sy.

Daarom het sy die vervaardiger en aanbieder van ’n nuwe HBO- dokumentêre rolprent, Natalie Wood: What Remains Behind, geword.

“Ek het ’n narratief van my pa en my ma en die aand toe sy dood is wat nie dieselfde narratief is waaroor baie ander mense al gedink het nie,” sê sy uit haar 100 jaar oue houthuis langs ’n meer in Michigan. Daar wag sy, haar akteurman, Barry Watson, en hul dogter, Clover (8), tot die pandemie verby is.

Sy lyk soos ’n plattelandse vrou in ’n verbleikte blokkieshemp, maar daarby dra sy ’n delikate blou lasuursteen-skoenlapperhalssnoer wat haar ma vir haar nagelaat het.

As kind wou sy glad nie oor haar ma se dood dink nie.

“Dit was te pynlik,” skryf sy in haar memoires, More Than Love, wat verskyn het om met die rolprent saam te val.

“Ek het nie omgegee hoe sy dood is nie. Ek het net omgegee dat sy dood is. Ek het geweier om dit te ontleed of om dit met enigeen te bespreek. Dit was te verpletterend.”

Mettertyd het sy daarmee vrede gemaak en die ondersoek se bevinding aanvaar: dat een helfte van een van die beroemdste egpare in Amerika op 43 in ’n aaklige ongeluk verdrink het.

Baie ander mense, onder wie haar ma se jonger suster, Lana, het nooit dieselfde berusting gevind nie.

Toe Natasha aan What Remains Behind begin werk, het sy en die regisseur Laurent Bouzereau besluit hul doel sou wees om haar ma terug te eis uit die raaisel wat haar dood omring.

Die Natalie Wood wat hulle uit tuis­rolprente en foto’s asook dagboekinskrywings, beeldmateriaal en onderhoude met vriende buite en binne die rolprentbedryf – onder wie Robert Redford, Mia Farrow en Elliott Gould – laat herrys het, is ’n Hollywoodbaanbreker wat van haar grootste vreugdes weg van haar werk gevind het.


’n Geslag rolprentgangers het met Natalie grootgeword, van haar deurbraak as ’n agtjarige in Miracle on 34th Street tot tienerrolle in Rebel without a Cause en The Searchers en uitdagende hoofrolle in mylpaalrolprente soos Splendor in the Grass en West Side Story.

As haar ma vandag nog geleef het, “sou sy baie dinge gedoen het”, sê Natasha, wie se biologiese pa Natalie se tweede man, wyle Richard Gregson, ’n Engelse rolprentvervaardiger, agent en draaiboekskrywer, was.

Sy sou ’n “wonderlike vervaardiger”, ’n skrywer en regisseur gewees het. Sy sou ’n reeks op Netflix gehad het, soos Jane Fonda.

“Sy sou baie van e-pos en Instagram en selfone gehou het, want sy wou altyd met almal in aanraking bly. Sy sou waarskynlik ’n groot aanhanger van botoks gewees het.”

Natasha wou nie hê die rolprent moes ’n “liefdesbrief” wees nie, soos sy aan Laurent gesê het. “Ek wil nie hê dit moet ’n lofsang wees nie. Ek wil al die verwarring en wanvoorstellings takel oor die nag toe sy dood is.”

Daarvoor het sy haar geliefde Daddy Wagner nodig gehad. Maar hy het nog nooit tevore ’n onderhoud oor haar ma se dood toegestaan nie.

“Ons albei het geweet as die onderhoud niks sou oplewer nie, het ons nie ’n rolprent nie,” sê Laurent. Hulle het die gesprek tussen Natasha en haar stiefpa oor twee dae by haar huis verfilm.

Haar gevoelens was kompleks terwyl sy haar vir die onderhoud voorberei het. “Ek is beskermend teenoor hom, en ek vra hom om uit sy gemaksone te tree. En tog het ek geweet ons moes daardie vrae vra.”

In die familie (wat al dekades lank van Lana Wood vervreemd is) is die nag
van Natalie se dood “geensins ’n taboe-­onderwerp nie”.

Natasha het al voorheen gesprekke daaroor met Robert gevoer, formeel in ’n terapeut se kantoor en informeel in die motor.

“Daar is ’n gesegde: ‘Jy is so siek soos jou geheime.’ Ons het nie geheime in my familie nie,” sê sy.

Natalie se dogter Natasha Gregson Wagner hoop haar
Natalie se dogter Natasha Gregson Wagner hoop haar dokumentêr sal ’n einde aan dié bewerings bring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tog het die eerste dag van die onderhoud nie die emosionele intensiteit opgelewer waarop hulle gehoop het nie.

Daarna het hulle wegneemkos vir aandete bestel en ’n glas wyn saam gedrink om te ontspan. Stiefpa en -dogter was albei uitgeput.

“Ek het hom in die bed gesit,” vertel sy. “Hy het reggemaak om te slaap, en ek het net gesê ek voel ek moet hom die volgende dag ’n bietjie verder druk. My pa is die soort ou wat ’n glas as halfvol sien. En ek het gesê: ‘Ons moet oor die dele van ons lewe praat toe die glas halfleeg was.’

“Toe ons die volgende oggend begin, was alles anders.”

Natalie se lyk is teen 07:30 op 29 November 1981 gevind. Sy het met haar gesig na onder in die vlak branders by Blue Cavern Point op Catalina-eiland gedryf. Sy het net ’n nagrok, ’n rooi donsbaadjie en blou sokkies aangehad.

Daar is steeds vele vrae oor wat in 1981 gebeur he
Daar is steeds vele vrae oor wat in 1981 gebeur het toe Natalie Wood van die luukse jag Splendour afgeval en verdrink het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is die vorige aand laas sowat 1,5 km daarvandaan aan boord van die Splendour, haar en Robert se jag van 15 m, gesien. Die jag se opblaasbootjie het naby haar uitgespoel, die aansitsleutel op “af” gestel, die rat in neutraal en die roei­spane in ’n geslote posisie.

’n Paar dae later het Thomas Noguchi, hooflykskouer van Los Angeles, vir verslaggewers gesê hy het geen bewyse van ’n misdaad gevind nie. Natalie se bloed­alkoholvlak het aangedui sy was dalk “effens aangeklam”. Sy het ook ’n slaappil gedrink.

“Baie drankies vir ontspanning” is daardie aand deur die vier mense op die Splendour geniet: Natalie, Robert, die vaartuig se dekhulp, Dennis Davern, en Christopher Walken, die aktrise se mede­ster in haar nuwe rolprent, Brainstorm.

Daar was ’n “niegewelddadige rusie” tussen Robert en Christopher, het die lyk­skouer bygevoeg.

Hy het te kenne gegee Natalie het waarskynlik gegly terwyl sy in die bootjie probeer klim het en toe in die water geval. Hy het nie verklaar waarom sy van die jag probeer wegkom het nie.

Oppervlakkige kneusplekke aan haar arms, bene en een wang kon weens die val gewees het.

“Dit was nie moord nie. Dit was nie selfmoord nie. Dit was ’n ongeluk,” het hy afgesluit.

Die uitspraak het glad nie ’n einde aan die gissings gemaak nie. Dié is verder aangevuur deur latere berigte dat Robert jaloers was op Christopher (wat geweier het om met Laurent te praat) en tydens ’n heftige gesprek vroeër daardie aand ’n bottel wyn stukkend gegooi het.

In 2011 het Los Angeles se polisie­departement die ondersoek heropen en nuwe getuienis as rede aangevoer. Dit was ná ’n petisie wat deur Marti Rulli georganiseer is.

Sy en Dennis het kort tevore ’n boek geskryf waarin Splendour se dekhulp beweer hy het in 1981 vir die polisie gelieg deur ’n rusie wat Natalie en Robert glo daardie aand gehad het te verswyg.

Duane Rasure, die oorspronklike polisiebeampte wat die saak ondersoek het, het gesê hy meen “Dennis Davern oordryf die hele voorval om sy boek te verkoop”.

In 2013 het lykskouingsbeamptes die oorsaak van dood van “onopsetlike verdrinking” tot “verdrinking en ander onbekende faktore” verander. (Natasha sê die veranderde bewoording weerspieël bloot “regulasies wat nog nie ten tyde van my ma se dood gegeld het nie”.)

Die jag se opblaasbootjie is later gekry waar dit
Die jag se opblaasbootjie is later gekry waar dit naby die aktrise se liggaam in die see dryf. Foto: Magazine Features


In 2018 het die polisie in ’n spesiale televisieuitsending op ’n Sondagaand vars leidrade gevra. Daarin sê lt. John Corina van Natalie: “Sy het op ’n manier in die water beland, en ek dink nie sy het self in die water beland nie.”

Hy bevestig dat Robert as die laaste mens wat haar lewend gesien het ’n “persoon van belang” in die saak is. Dit is ’n term vir iemand wat vermoedelik inligting het wat ondersoekers kan help, maar nie noodwendig ’n verdagte is nie.

Ander mense het nie doekies omgedraai nie. Lana Wood (74) het al oor haar vermoedens oor Robert uitgewei in televisieverskynings, op die CrimeCon-­waremisdaadkonferensie en as gas in ’n podsending in 12 dele oor haar suster se dood.

“Sy het letterlik my pa daarvan beskuldig dat hy my ma vermoor het, terwyl dit die verste ding van die waarheid is,” sê Natasha in die dokumentêr (waarin Lana ook geweier het om te verskyn).

Suzanne Finstad, ’n glansbiograaf en waremisdaadskrywer, het met sowat 400 mense onderhoude gevoer vir haar biografie Natasha: The Biography of Natalie Wood. (Natalie is as kind Natasha genoem.)

In ’n bygewerkte uitgawe wat vanjaar uitgegee is, skryf Suzanne Natalie se dood was “geen ongeluk nie” – sy hou Robert, Christopher en Dennis vir die verdrinking verantwoordelik.

Sy beweer ook Robert en Natalie se eerste huwelik het geëindig nadat sy hom “op heterdaad” met hul Engelse butler, David Cavendish, betrap het.

Natasha wil niks hiervan weet nie, en ’n mens kan verstaan waarom.

Daddy Wagner het in haar lewe gekom toe sy skaars ’n jaar oud was “en het daar gebly”, skryf sy in More Than Love. “Vir my was hy ’n sonbruin man wat skynbaar warmte uitgestraal het.”

Robert en Natalie saam met (van links) sy dogter,
Robert en Natalie saam met (van links) sy dogter, Katie, Natasha en haar suster, Courtney. Foto: Gallo Images/Getty Images


Hy is steeds. ’n Breë glimlag spoel oor haar gesig wanneer sy vertel van die man wat op 90 nog tequila drink en dagga rook. “Hy sal enigiemand onder die tafel in drink en die volgende oggend opstaan en halfsewe gaan gholf speel.”

Sy beskou dit as verregaande om te dink dat buitestanders dalk ’n skerper perspektief op hom kan hê as sy.

“Toe ek as kind die poniekoerante in die winkel gesien het, het ek geleer om die geraas uit te doof. Al die inligting is hoorsê en skinderstories.”

Afgesien van die paar dae net ná Natalie se dood toe hy te hartseer was om uit die bed te klim, was Daddy Wagner dwarsdeur haar lewe vir haar ’n rots.

Toe haar eerste huwelik in 2008 verbrokkel, het hy in Malibu by haar ingetrek. Toe sy in 2014 weer trou, is hy en Barry se pa as geestelikes georden sodat hulle die diens kon lei.

Ek vra oor die butler, en sy bars uit van die lag. “Ek ken my pa al amper 50 jaar lank. Hy is die mees heteroseksuele man. Hy het nog altyd baie gay vriende gehad, maar dit is verregaande.

In al my ma se dokumente en alles wat ek al gelees het, het hul eerste huwelik duidelik verbrokkel omdat sy opgang gemaak het in haar loopbaan en my pa s’n agteruitgegaan het. My pa het toe baie gedrink. Daar was nooit ’n derde party nie.”

Sy het sedert die 1990’s geen kontak met haar tante nie.

“Ek is jammer oor die frustrasie wat Lana ervaar omdat sy nie ’n skurk kon aanwys wat vir my ma se dood verantwoordelik was nie,” skryf Natasha. “Maar soms is daar geen skurke nie. Ongelukke gebeur.”

Toe Lana gebore is, was Natalie reeds besig om ’n ster te word. Hul ouers, Maria en Nikolai Gurdin, was arm Russiese immigrante wie se gesinne in hul kinderdae van die revolusie gevlug het.

Natalie het haar silwerdoekdebuut op vier gemaak – met ’n nuwe silwerdoeknaam – en was op 12 die gesin se hoofbroodwinner. In 1955 toe sy die rol van Judy, die heldin in Rebel without a Cause, gespeel het, het sy ’n kortstondige verhouding met haar medester Dennis Hopper gehad.

Natalie saam met James Dean in die 1955- fliek Reb
Natalie saam met James Dean in die 1955- fliek Rebel without a Cause. Hulle het bevriend geraak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het ook met James Dean bevriend geraak, wat weke voor die rolprent uitgereik is in ’n motorongeluk dood is.


Maar op Robert Wagner was sy al sedert haar tienerjare heimlik verlief. Hy was aantreklik, agt jaar ouer as sy en ’n moontlike ster van die toekoms.

Hul eerste afspraak was in 1956, en die jaar daarna is hulle getroud. Die Los Angeles Times het hulle die paartjie genoem “wat die meeste afgeneem, bespreek en beny is sedert Wally Simpson en Edward VIII”.

Nadat hul huwelik op die rotse beland het, het Natalie vir psigoanalise gegaan, ’n verhouding met Warren Beatty gehad en ’n oordosis slaappille gedrink.

Toe trou sy met Richard Gregson, kry Natasha en is kort voor lank weer enkellopend.

Tydens die maak van die dokumentêr was die grootste openbaring vir Natasha om te ontdek hoe broos haar ma was. Sy het haar as “magtig” en “in beheer van alles” onthou, maar hierdie bestendigheid het eers ná haar geboorte gekom toe sy terug is na Robert toe.

Die twee het in 1972 op see aan boord van ’n boot, Ramblin’ Rose, weer getrou en hul wittebrood op Catalina-eiland deurgebring. Natasha se jonger suster, Courtney, is in 1974 gebore.

“Vir my ma was kinders kry ’n kans om vir haar dogters die kinderjare te gee wat sy misgeloop het.”

In 1975 het die egpaar die Splendour gekoop en baie vakansies en naweke daarop deurgebring. Maar toe Natalie voor die Dankseggingsnaweek in 1981 haar kinders vra of hulle saam met haar, Robert en Christopher na Catalina wil gaan, het hulle nee gesê.

Natasha wou na ’n oorslaappartytjie gaan. Die weer was aaklig, sy het aan skeidingsangs gely en haar ouers gevra om nie te gaan nie. Haar ma, geklee in ’n pastelkleurige angoratrui, het haar omhels.

“Ek weet jy wil nie hê ek moet gaan nie,” het sy gesê. “Maar ek belowe jou ek gaan oukei wees.”

Sy het haar nooit weer lewend gesien nie.

Op die tweede dag van haar onderhoud met Daddy Wagner het albei gehuil. Toe Robert die oomblik beskryf dat hy hoor hulle het sy vrou se lyk gekry, begin sy gesig, sterk soos ’n rots, verbrokkel. Sy stem word hoër.

“Alles het net onder my weggeval.”

Met moeite kyk hy na sy stiefdogter. “Daardie nag het al soveel keer deur my gedagtes gegaan.”

Hulle stem saam Natalie het waarskynlik gegly toe sy uitgegaan het om die bootjie weer vas te maak. Haar dogter onthou dit “het haar altyd tot raserny gedryf” wanneer dit snags teen die kant van die boot gekap het.

“Sy was baie sensitief vir geraas.”

Hoe voel Robert daaroor dat hy ’n “persoon van belang” genoem word, vra sy. “Ek gee nie baie aandag daaraan nie,” antwoord hy. “Ek weet wie ek is.”

Sy trek haar asem diep in. “Maar dit is vir my belangrik dat mense aan jou dink soos ek weet jy is. En dit pla my dat enigiemand ooit sou dink jy kon betrokke wees by wat met haar gebeur het, want jy sou jou lewe vir my ma gegee het.”

“Dis waar,” sê hy. “Ek sou. Ons almal sou.”

Die gevoel toe hulle klaar geskiet het, was een van bevryding, sê sy, ’n “innerlike euforie”.

“Ek voel asof ons ’n berg uitgeklim het. Ons het die kruin bereik en dit voel goed.”

Vir Natasha was dit “ongelooflik louterend en helend” om die rolprent te maak en die memoires te skryf.

En terwyl sy dit gedoen het, het sy ’n openbaring gehad: “Ek het nie hierdie lewe in ’n droom geskep nie. Dit was my kinderjare. Ek het nie hierdie magiese mens uitgedink- nie. Sy het werklik bestaan.”

More Than Love: An Intimate Portrait of My Mother,
More Than Love: An Intimate Portrait of My Mother, Natalie Wood deur Natasha Gregson Wagner.

Natalie Wood: What Remains Behind is op Showmax beskikaar. More Than Love: An Intimate Portrait of My Mother, Natalie Wood deur Natasha Gregson Wagner word deur Simon & Schuster uitgegee. R539 by takealot.com.

Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

© The Times Magazine/News Licensing
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe