Dit is nou al 15 jaar gelede dat die misdade van twee advokate van Pretoria Suid-Afrikaners tot in hul siel geskok het. Midde-in dié skandaal was die vrou bekend as “adv. Barbie”, die vrou wat deur haar dominerende minnaar, Dirk Prinsloo, in ’n lewende karikatuur van die speelgoedpop met dieselfde naam omskep is.

Met haar lang blonde hare en kort rompies het sy as adv. Barbie bekend geraak. Hier is sy saam met haar eks, Dirk Prinsloo. Foto: Gallo Images/Cornel van Heerden.

Met die borsvergrotings wat hy haar laat ondergaan het en haar lang, blondgekleurde hare het Prinsloo van Cézanne Visser sy speelding gemaak en haar gemanipuleer om saam met hom aan skokkende seksdade met minderjariges deel te neem.

Dié saak was onlangs weer in die kollig as deel van die VIA-program Huisgenoot: Ware Lewensdramas, waarin van die grootste nuusgebeure van ons tyd herbesoek word.

Prinsloo het in 2005 na Rusland gevlug voor sy verhoor hier sou begin. Hy is in 2009 in Baranowitsji, Belarus, aangekeer nadat hy ’n bank met ’n speelgoedpistool probeer beroof het. Hy is toe in daardie land tot 13 jaar tronkstraf gevonnis.

Maar wat het geword van Cézanne Visser, wat alleen verhoor is en in 2010 tot sewe jaar tronkstraf gevonnis is voor sy in 2013 op parool vrygelaat is.

Waar is sy vandag?

Vra jy mense na aan haar, benadruk hulle: Cézanne (41) het haar straf uitgedien en daarna vir haarself ’n nuwe lewe gebou.

Sy is nog elke dag jammer oor die lewens wat sy help verwoes het, maar sy het met haar lewe aangegaan, sê hulle. Sy het vir Prinsloo én adv. Barbie agtergelaat. Die DD-grootte-borste is lankal verklein, en sy dra haar hare nou in ’n sagte, natuurlike kapsel.

Sy het verlede jaar in die herfs verloof geraak aan die beroepsjagter en taksidermis Isao Smith (43), ’n man wat haar kennisse beskryf as ’n liefdevolle, goeie man wat haar respekteer.

“Sy was nooit Barbie nie; dit is die naam wat Prinsloo aan haar gegee het. Die dag toe hulle uitmekaar is, het sy die naam adv. Barbie agtergelaat en met haar lewe aangegaan,” sê Cézanne se ma, Susan Lemmer.

“Cézanne het haar les geleer,” sê adv. Johann Engelbrecht, wat haar tydens haar verhoor verteenwoordig het.

Johann het gereeld met haar kontak gehad in die tronk.

“Sy het verskeie rehabilitasieprogramme in die gevangenis voltooi. Sy het haar paroolvoorwaardes ook ten volle nagekom,” sê hy.

“Cézanne het erken wat sy gedoen het, was verkeerd. Wat hulle aangevang het, was terwyl sy onder die sterk invloed van Prinsloo was. As ’n mens hom kon wegvat, sou sy vandag ’n suksesvolle advokaat gewees het.”

Cézanne werk nou buite die openbare oog as die bestuurder van haar verloofde se taksidermie-onderneming.

Cézanne werk in Isao se taksidermie-onderneming. Foto: Facebook.

Dirk Prinsloo

Een mens van wie Cézanne nooit weer wil hoor nie, is haar voormalige minnaar, sê iemand na aan haar.

Gerugte het al die ronde gedoen dat Prinsloo in Belarus op parool vrygelaat sou word, maar dit het nog nie gebeur nie.

“Cézanne het nooit weer van hom gehoor nie en wil nie van hom hoor nie. Sy wil net met haar lewe aangaan,” sê Susan.

Kyk ’n mens na foto’s van Cézanne in die sosiale media, is dit inderdaad ’n totaal ander mens as die een wat destyds in skrapse klere gepronk het. Deesdae het sy ’n vroulike, gemaklike voorkoms. ’n Familievriend wat haar goed ken, sê: “Nou dra Cézanne net wat sy wil.”

Nog iets is opvallend: Op die foto’s lyk sy gelukkig.

Cézanne is deesdae lief vir die natuur en om te jag. Dié liefde het sy by Isao geleer. Hy het haar hart gesteel het nadat hulle mekaar in 2015 deur gemeenskaplike vriende ontmoet het. Wanneer dié twee gaan afhaak, is nog ’n geheim.

’n Kennis na aan Isao beskryf hom as “baie privaat en konserwatief”.

Isao is plat op die aarde, welgesteld, ’n veldmens en ’n fris, stewige man met ’n groot hart, vertel dié kennis.

“Hy is ’n wonderlike mens. Hy is so genuine,” vertel die kennis. “Isao en Cézanne is regtig gelukkig saam.”

In Junie vanjaar het haar pa, Johan Visser, ’n foto van haar op Facebook geplaas en geskryf: “Geluk, Cézanne, met jou aanstelling as bestuurder. Mag jy geseën word; jy verdien dit. As daar nou iemand is wat hierdie maatskappy tot die beste in die land kan bring, is dit jy. Verskeie het probeer, maar kon die pyp nie rook nie. Jou pa is trots op jou.”

Haar pa, Johan Visser, het dié foto van een van haar jagtogte op Facebook gedeel.

Toe Cézanne en Isao met ’n verhouding begin, het Isao haar dadelik in sy binnekring betrek, vertel ’n kennis. Voor hy Cézanne aan sy familie voorgestel het, het hy vlugtig vir hulle vertel sy nuwe vriendin het ’n slegte verlede, “maar sy is nie meer dieselfde mens nie”.

“Hulle het ’n kort bespreking gehad, maar nie in te veel besonderhede ingegaan nie,” vertel die kennis. Cézanne praat ook glad nie oor Prinsloo nie.

Wanneer Isao met Cézanne praat, is dit op ’n liefdevolle manier wat van respek getuig, vertel ’n kennis.

Hy is nie iemand vir soetsappige troetelnaampies nie en sal haar net soms “babe" noem.

“Sy’s geseën om ’n man soos hy te hê. Hy het haar aanvaar net soos sy is en het haar lief ten spyte van haar geskiedenis. Hy is vol begrip en geduld,” vertel die kennis.

“Hy behandel haar soos goud en bederf haar graag met blomme, uiteet en reise deur die land.”

’n Kennis na aan die familie vertel: “Hy is die soort mens wat enigiets vir jou sal doen. Hy het ’n passie vir die lewe.”

Cézanne en haar verloofde, Isao Smith. Foto: Facebook.

Cézanne gaan dikwels saam met Isao wanneer hy oorsese kliënte op jagtogte neem. Hulle geniet dit om die land vol te reis en sy het hom verlede November op sy verjaardag met ’n wegbreek in Kaapstad bederf.

Cézanne het ook ’n kits-gesin ryker geword. Isao is ’n geskeide pa van twee tieners, ’n seun en ’n dogter, en hulle kom kuier twee keer per maand by hom.

Wanneer die kinders daar is, gaan hulle gereeld op gesinsuitstappies in die buitelug of besoek natuurreservate.
Cézanne het ’n goeie verhouding met Isao se kinders, asook met hul ma.

“Isao is ’n toegewyde pa en gesinsmens. Hy is gek oor sy kinders en sal enigiets vir sy gesin doen,” sê ’n kennis.

“Hy is die storieverteller in die familie. Hy vertel altyd stories oor sy jagtogte, en dis lekker om na hom te luister.”

Al bou Cézanne aan ’n nuwe toekoms, spook die gebeure van die verlede waarskynlik steeds by haar, meen haar voormalige stiefpa, die seksuoloog prof. Johann Lemmer.

Hy het nie meer so gereeld kontak met Cézanne nie, maar onthou haar as ’n liefdevolle mens.

Waar Cézanne in haar Barbie-dae graag vir foto’s poseer het, is sy nou uiters skugter en beskermend oor haar privaatheid.

“Sy het so twee jaar gelede ’n Facebook-profiel geskep, maar dit was ’n nagmerrie. Die helfte van die mense het haar oor haar verlede aangeval en sleggesê, terwyl die ander helfte by haar probeer aanlê het.

“Sy het toe eerder haarself heeltemal van die sosiale media verwyder,” sê hy.

Tog vertel ’n kennis: “Cézanne is gelukkig. Hulle is gelukkig. Sy is genuinely lucky dat sy Isao se hart verower het.”

Vyftien jaar later het Cézanne die horlosie teruggedraai na haar lewe voor Barbie en is sy net weer Cézanne.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (kanaal 147) uitgesaai en Vrydae om 08:00 en Sondae om 21:00 herhaal.
Cézanne werk in Isao se taksidermie-onderneming. Foto: Facebook.
Haar pa, Johan Visser, het dié foto van een van haar jagtogte op Facebook gedeel.
Die land het haar as adv. Barbie leer ken, maar jare nadat sy vir haar en haar eks se dade geboet het, is sy nou net Cézanne Visser. Foto: Facebook.
Cézanne en haar verloofde, Isao Smith. Foto: Facebook.
Met haar lang blonde hare en kort rompies het sy as adv. Barbie bekend geraak. Hier is sy saam met haar eks, Dirk Prinsloo. Foto: Gallo Images/Cornel van Heerden.