Ons praat oor: Die coronavirus en die olieprys

Dalk het jy in die nuus gehoor dat die olieprys die afgelope tyd baie gedaal het en dat die prys selfs in ’n stadium negatief was. Dit beteken dit het minder as R0 gekos!

Wat beteken dit, en hoekom is die olieprys belangrik?

Ruolie word gebruik om petrol en diesel van te maa
Ruolie word gebruik om petrol en diesel van te maak en speel dus ’n belangrike rol in die wêreld-ekonomie. Foto: Reuters

Wat is die olieprys?

Die olieprys is die prys per vat vir ruolie. Daar is 158 L in een vat en die prys word gewoonlik in Amerikaanse dollar gegee. Ruolie word gebruik om petrol en diesel van te maak, en omdat so baie fabrieke, vervoermiddels en masjinerie dit nodig het om te werk, speel dit ’n belangrike rol in die wêreldekonomie. Wat ook al met die olieprys gebeur, beïnvloed byvoorbeeld hoe duur of goedkoop dit is om dinge by ons land te laat in- en uitvoer.

Wie verkoop die olie?

Lande waar ruolie natuurlik onder die grond voorkom, verkoop dit aan ander lande as hulle nie alles self kan gebruik nie. Die vyf lande wat die meeste ruolie lewer, is die VSA, Saoedi-Arabië, Rusland, Kanada en China. Suid-Afrika het geen ruolie nie en ons moet dit van ander lande invoer.

Hoekom het die olieprys geval?

Die coronaviruspandemie het veroorsaak dat ons wêreld baie anders werk as gewoonlik. Baie fabrieke moes toemaak, minder vliegtuie vlieg omdat mense nie mag of wil reis nie, en mense ry baie minder met hul motors rond omdat hulle moet tuisbly. Dit beteken minder olie word gebruik. Hoe minder mense iets wil koop, hoe goedkoper maak die verkoper dit omdat hy mense wil aanmoedig om dit te koop.

Gewoonlik maak die mense wat olie verskaf ál minder olie as hulle sien die wêreld gebruik minder daarvan. Maar twee groot olie-produsente, Saoedi-Arabië en Rusland, het in Maart geweier om dit te doen omdat hul ekonomie te veel van olie afhang – en aangehou om baie olie te maak. Daarom was daar nóg meer olie beskikaar en het dit nóg goedkoper geraak.

Opul (sien onder) kon hulle sedertdien oorreed om wel minder te produseer, maar toe het die prys reeds ver geval.

Wie is OPUL?

Dit staan vir die Organisasie van Petroleumuitvoerlande en is ’n groep van 14 van die grootste lande wat olie uitvoer – met ander woorde hulle produseer meer olie as wat hulle kan gebruik.

Opul (Opec in Engels) sê vir sy lidlande hoeveel olie uitgevoer mag word en wat die prys moet wees om seker te maak die oliemark bly taamlik stabiel.

Opul (Opec in Engels) sê vir sy lid­lande hoeveel
Opul (Opec in Engels) sê vir sy lid­lande hoeveel olie uitgevoer mag word en wat die prys moet wees om seker te maak die oliemark bly taamlik stabiel. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hoe kan iets minder as R0 kos?

Dit maak ’n mens baie deurmekaar om te hoor iets het ’n negatiewe prys. Die probleem is dat die olieprodusente net ’n sekere hoeveelheid bêreplek het vir ruolie (sowat 900 miljoen vate). As jou bêreplek vol is, gaan dit jou baie geld kos om nog stoorplek te kry of te huur.

Daarom het party produsente besluit om eerder olie weg te gee (met ander woorde gratis) of selfs mense te betaal om olie by hulle te vat (dis die negatiewe prys). Waar hulle gewoonlik die olie inruil vir geld, het hulle nou die olie én geld verloor – net om meer plek te maak in hul store.


Nuus van oor die wêreld

VSA

Trump stel inspuiting met ontsmetmiddel voor

President Donald Trump. Foto: Getty Images/Gallo I
President Donald Trump. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het mense kwaad gemaak deur te sê ’n “inspuiting” met ontsmettingsmiddel kan dalk help om die coronavirus te keer.

Dis ’n gevaarlike ding om te sê omdat ontsmettingsmiddels baie skadelik is as ’n mens dit op enige manier inneem, en mense sê dis onverantwoordelik vir ’n president om sulke onwetenskaplike en gevaarlike raad te gee.

Nadat dokters en ander wetenskaplikes Trump erg in die media gekritiseer het, het hy skielik gesê hy het dit nooit as werklike mediese raad voorgestel nie en net sarkasties bedoel.

THAILAND 

Seeskilpaaie broei uit

Leerskilpaaie is die grootste seeskilpaaie ter wêr
Leerskilpaaie is die grootste seeskilpaaie ter wêreld en is tans ’n bedreigde spesie in Thailand. Foto: Getty Images/Gallo Images

Met so min toeriste wat tans in Thailand is weens die coronaviruspandemie, gebruik leerskilpaaie die kans om hul eiers op die leë strande te lê. Daar is sedert November 11 nuwe neste ontdek – die meeste die afgelope 20 jaar. Leerskilpaaie is die grootste seeskilpaaie ter wêreld en is tans ’n bedreigde spesie in Thailand.

ANTARKTIKA

Plastiek in ys gevind

Wetenskaplikes het klein stukkies plastiek in die
Wetenskaplikes het klein stukkies plastiek in die seeys in Antarktika gevind. Foto: Getty Images/Gallo Images

Wetenskaplikes het vir die eerste keer klein stukkies plastiek in die seeys in Antarktika gekry. Plastiek is al voorheen in die water en sneeu gekry, maar die navorsers sê die nuwe ontdekking wys hoe ver plastiekbesoedeling al versprei het. Hulle is veral bekommerd hieroor omdat kril – piepklein seediertjies – die alge in die ys eet en dus nou moontlik plastiek ook inneem. Die stuk ys is al in 2009 gekry deur diep in Antarktika se ys te boor en is toe in Australië gebêre en ondersoek. Die navorsers het 12 stukkies plastiek vir elke liter water gekry.

Goeie nuus

Koalabere, Australië

’n Hele paar koalas wat in 2019 in veldbrande in A
’n Hele paar koalas wat in 2019 in veldbrande in Australië beseer is, is weer in die natuur vrygelaat. Foto: Getty Images/Gallo Images

’n Hele paar koalas wat in 2019 in veldbrande in Australië beseer is, is weer in die natuur vrygelaat. Die koalas is in ’n koalahospitaal – die enigste een in die wêreld – behandel. Een van die koalas, Anwen, het wêreldwyd bekend geword toe foto’s van haar op die internet versprei het. Sy het brandwonde aan 90% van haar lyf gekry, maar het herstel en is ook weer vrygelaat.

Slegte nuus

Bloumese, Duitsland

Bloumese in Duitsland. Foto: Getty Images/Gallo Im
Bloumese in Duitsland. Foto: Getty Images/Gallo Images

Weens ’n geheimsinnige siekte is meer as 11 000 voëls – meestal Duitse bloumese – die afgelope twee weke in Duitsland as dood of siek aangemeld. ’n Bewaringsorganisasie in Duitsland sê die voëls sukkel om asem te haal, eet nie meer nie en probeer nie wegkom wanneer mense naby hulle kom nie. Die eerste toetse wys dis ’n infeksie wat deur bakterieë veroorsaak word, maar wetenskaplikes ondersoek dit nog.

Het jy geweet? Die klomp mane van Saturnus Saturnus is die planeet in ons sterrestelsel met die meeste mane – daar is 82. Dit was altyd Jupiter, met 79, maar Saturnus het hom verbygesteek toe Amerikaanse navorsers verlede jaar nog 20 mane rondom die planeet geïdentifiseer het.

TEGNOLOGIE

Robotte lewer kos af

Robotte word tydens die inperking gebruik om kos en kruideniersware af te lewer op Milton Keynes, ’n dorp in Engeland. Die maatskappy Starship Technologies toets die robotte al sedert 2015 op verskeie plekke in Amerika en Brittanje.

6,4km/h. Dis hoe vinnig die Starship-robotte kan r
6,4km/h. Dis hoe vinnig die Starship-robotte kan ry. Foto: Reuters

“Mense is ernstig daaroor om nie uit hul huise te gaan nie, so iets soos die robotaflewerings is ideaal omdat mense iets kan bestel en kry sonder om uit te gaan,” het Sam Crooks, die burgemeester van Milton Keynes, gesê.

Die elektriese robotte is omtrent so groot soos ’n koelboks en het ses wiele. Dis ontwerp om by sypaadjies op en af te kan ry, maar kan nie by trappe opry nie.

Inwoners van Milton Keynes moet ’n app aflaai om gaar kos en klein pakkies by ’n supermark te bestel, wat dan in die robot gelaai word en tot by hul blyplek gevat word.

Woord van die week

Immigrasie

Sê dit so: i-mi-graa-sie

Dit is die proses van na ’n nuwe land trek om permanent daar te bly. As jy immigreer, beteken dit jy kuier nie net ’n rukkie nie – jy beplan nie om weer terug te gaan na jou eie land toe nie.

Moenie deurmekaarraak met die woord “emigrasie” nie – dit is wanneer jy jou eie land verlaat. Jy moet eers emigreer (weggaan uit jou eie land) voor jy kan immigreer (inkom in ’n nuwe land).

Tel dit op 

  • 11: Dis hoeveel jaar Benjamin Netanyahu al premier van Israel is – die langste tyd in die geskiedenis van die land. Hy word van korrupsie aangekla, maar het pas ’n ooreenkoms met sy grootste teenstander, Benny Gantz, gesluit. Dit sê Netanyahu gaan nog ’n jaar en ’n half premier wees voor Gantz oorneem. Netanyahu was ook van 1996 tot 1999 premier (oftewel eerste minister).
Benjamin Netanyahu. Foto: Getty Images/Gallo Image
Benjamin Netanyahu. Foto: Getty Images/Gallo Images
  • 250 miljoen: Dis hoeveel mense volgens die Verenigde Nasies se Wêreldkosprogram kan honger ly weens die coronaviruspandemie. Die organisasie het die skatting gemaak en gesê lande wat reeds swaarkry weens oorlog, ekonomiese krisisse en aardverhitting gaan die ergste getref word. Hulle sê daar is tans 135 miljoen mense wêreldwyd wat honger ly.
  • 5,7 mjd.: Dis hoeveel Amerikaanse dollar Facebook in Jio, ’n Indiese internetmaatskappy, belê het. Facebook het in ’n verklaring gesê meer as 388 miljoen mense in Indië het al deur Jio internettoegang gekry. Facebook besit nou byna 10% van Jio.
Mark Zuckerberg, die stigter van Facebook. Foto: G
Mark Zuckerberg, die stigter van Facebook. Foto: Getty Images/Gallo Images

Kyk net hier!

Rose ly ook onder corona

Japannese beamptes het duisende rose afgeknip om te keer dat mense daarna gaan kyk en die coronavirus versprei. Dis nou lente in Japan, en mense stroom gewoonlik na blomparke oor die land vir feeste.

Rose ly ook onder corona. Foto: Getty Images/Gallo
Rose ly ook onder corona. Foto: Getty Images/Gallo Images

In Sakura, ’n ander dorp, is meer as 100 000 tulpe ook afgesny nadat ’n klomp mense die regering se versoek om ver van mekaar te bly geïgnoreer het. Teen druktyd was daar 12 000 COVID-19-gevalle in Japan, met 300 sterftes.

Kan jy dit glo?

’n Skaap in Australië het uit die bloute teruggekeer na haar eienaars se plaas nadat sy sewe jaar gelede tydens veldbrande gevlug het. Omdat haar wol so lank nie geskeer is nie, is sy nou vyf keer so groot en lyk soos ’n groot bol watte!

Prickles die skaap.
Prickles die skaap.

Sy sou kort ná ons druktyd geskeer word. Haar eienaars het mense laat skat hoe swaar Prickles se wol gaan wees en het al meer as R120 000 vir die Verenigde Nasies se vlugtelingeorganisasie ingesamel. Die wêreldrekord vir die swaarste vrag wol wat op een slag geskeer is, is 40,45 kg.

Foto van die week

Dié foto wys die Lyrids-sterrereën oor ’n kerkie i
Dié foto wys die Lyrids-sterrereën oor ’n kerkie in Oostenryk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dié foto wys die Lyrids-sterrereën oor ’n kerkie in Oostenryk. ’n Sterrereën gebeur wanneer die aarde deur die rommel beweeg wat ’n komeet in sy wentelbaan agterlaat. Dit lyk soos ’n klomp verskietende sterre, maar is eintlik meteore wat onskadelik in die atmosfeer uitbrand. Die foto wys een so 'n verskietende ster. Die Lyrids-sterrereën gebeur een keer per jaar in April, maar is slegs in die Noordelike Halfrond sigbaar.

Hierdie week in die geskiedenis

10 Mei 1994 Nelson Mandela word as president ingehuldig

Nelson Mandela is op 10 Mei 1994 as president van
Nelson Mandela is op 10 Mei 1994 as president van Suid-Afrika ingehuldig. Foto: Getty Images/Gallo Images

Toe Nelson Mandela in 1994 ingehuldig is, het hy die eer- ste swart president van Suid-Afrika geword. Die verkiesing – twee weke voor sy inhuldiging – was ons land se eerste demokratiese verkiesing omdat almal die eerste keer in die land se geskiedenis kon gaan stem, maak nie saak watter ras hulle was nie.

Daar het 22 miljoen Suid-Afrikaners gestem, en die ANC, waarvan Mandela die leier was, het die verkiesing met ’n groot meerderheid gewen.

In sy inhuldigingstoespraak het Mandela onder meer gesê: “Nooit, nooit en nooit weer sal dit gebeur dat hierdie mooi land die onderdrukking van een deur ’n ander beleef nie.”

Mandela was vyf jaar lank president voor hy in 1999 deur die volgende leier van die ANC, Thabo Mbeki, opgevolg is. Hy is in 2013 oorlede.

Bronne: bbc.com, the guardian.com, ­nytimes.com, edition.cnn.com, time.com, kids.britannica.com, smithsonianmag.com, forbes.com