Met sy wilde blonde hare en omstrede uitsprake is die 54-jarige Britse politikus Boris Johnson al vergelyk met Amerika se pres. Donald Trump.

Trump het op sy beurt al na die eksentrieke voormalige burgemeester van Londen verwys as “my groot vriend”.  

Hy het sy landgenote destyds in hul oggendkoffie laat stik toe hy soggens opgemerk is waar hy as burgemeester met ’n wapperende wit kuif deur die strate fietsgery het werk toe om die verkeer vry te spring, en sy streke en uitlatings haal dikwels die nuus. 

Boris is die voorloper in die stryd om die leierspos van die Britte se Konserwatiewe Party (die Tories) en ook die Britse premierskap by Theresa May oor te neem wanneer sy in Julie uittree. 

Wie is die man wat dan die eilandnasie deur die rowwe vaarwaters van Brexit sal moet stuur wanneer dit die Europese Unie (EU) op 31 Oktober vanjaar verlaat? 

Die Groot Appel

Alexander Boris de Pfeffel Johnson is op 19 Junie 1964 in Manhattan, New York, gebore. Sy naam kom van ’n Russiese immigrant wat sy ouers eens geken het. 

Hy was vyf toe sy Britse ouers, Stanley en Charlotte, na Engeland teruggekeer het. 

Hy het tot in 2016 dubbele burgerskap gehad toe hy om “belastingredes” sy Amerikaanse paspoort prysgegee het.

Die Johnsons

Sy bevoorregte kinderjare het hy op die famileplaas in Exmoor, Engeland, deurgebring. Daar was hy en sy broers, Jo en Leo, en suster, Rachel, dol oor vasvraspeletjies en tafeltennis. In die vroeë 1970’s het die gesin Brussel, België, toe getrek, waar Stanley by die Europese Kommissie gaan werk het. 

Kosskool en toe Eton

In 1973 is die Johnson-egpaar geskei en hul blonde bloedjie is na ’n kosskool, Ashdown House in Oos-Sussex in Engeland, gestuur. Hy het ’n beurs na die spogskool Eton verwerf, waar prinse William en Harry later skoolgegaan het.

brexit,skool,eton
Boris het ’n beurs na die spogskool Eton verwerf, waar prinse William en Harry later skoolgegaan het.

Slim, stoute student

Boris het klassieke letterkunde studeer aan Oxford, waar prinses Diana se broer Charles Spencer en die voormalige Britse premier David Cameron sy medestudente was. Die 19-jarige student was behep met politiek en het sy vaardighede hier begin slyp. Hy is verkies tot die gesogte en berugte Bullingdon Club, wat glo plaaslike restaurante verniel het tydens luidrugtige partytjies. Ná die tyd het hulle net ’n tjek gegee om vir die skade te vergoed. 

Eerste liefde

In 1987 het Boris met Allegra Mostyn-Owen, sy medestudent aan Oxford en ’n deeltydse model, getrou. Albei was 23. ’n Operasanger en strykkwartet het by die troue in ’n herehuis opgetree. Die verstrooide Boris het binne ’n uur sy trouring verloor, en binne drie jaar was die paartjie van mekaar vervreem. 

boris johnson,brexit
In 1987 het Boris met Allegra Mostyn-Owen, sy medestudent aan Oxford en ’n deeltydse model, getrou.

Afgedank

In die 1980’s is Boris as koerantjoernalis by The Times afgedank omdat hy in ’n storie oor ’n argeologiese opgrawing ’n aanhaling versin het. Hy wou die storie “opkikker”, het hy later probeer verduidelik. Hy is later in sy loopbaan telkens weer van “opkikkering” verdink.

Tweede liefde

Boris en sy eerste vrou, Allegra, se egskeiding is in 1993 ­afgehandel, en in dieselfde jaar is hy toe getroud met Marina Wheeler, ’n prokureur en voormalige skoolvriendin van hom. 

brexit,boris johnson
Nadat Boris en sy eerste vrou se egskeiding in 1993 ­afgehandel is, het hy in dieselfde jaar met die prokureur Marina Wheeler getrou. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hulle het vier kinders saam: Lara Lettice (26), Milo Arthur (24), Cassia Peaches (22) en Theodore Apollo (20).

Sy opgang in mediakringe

Ondanks sy opgemaakte aanhaling het die koerant The Daily Telegraph Boris as korre­spondent en politieke rubriekskrywer aangestel. Ander joernaliste het beweer hy versin stories om die Europese Kommissie te diskrediteer, maar dit het hom nie gestuit nie en hy het redakteur van die politieke tyd­skrif The Spectator geword. 

Weer afgedank

Boris was van 1999 tot 2005 redakteur, en hoewel The Spectator se sirkulasie met hom aan die stuur toegeneem het, was dit ’n stormagtige tyd met kritiek van sy kollegas, bewerings dat sy aandag nie aldag by die werk is nie en die een herrie ná die ander oor sy omstrede uitlatings en die ­inhoud in die tyd­skrif. 

Hy is eindelik as redakteur afgedank, maar het teen daardie tyd reeds as skrywer naam gemaak – onder meer van ’n roman oor ’n politikus. Hy het ook bekendheid verwerf as die aanbieder van twee gewilde televisiereekse oor die geskiedenis.

Sy dwalende oog

In 2004 is onthul dat die getroude Boris vier jaar lank ’n affair gehad het met die skrywer en sosiale vlinder Petronella Wyatt, wat hy glo deur sy doen en late by The Spectator ontmoet het.

boris johnson,politek
In 2004 is onthul dat die getroude Boris ’n affair gehad het met die sosiale vlinder Petronella Wyatt. Foto: Shutterstock

Haar ma, lady Verushka Wyatt, het destyds aan The Mail on Sunday vertel Boris het haar dogter swanger gemaak en sy het ’n aborsie laat doen. Boris het dit ontken, maar is afgedank as die Konserwatiewe Party se ondervoorsitter en skaduminister van kuns.

'n 'Mallerige' burgemeester

Boris is al in 2001 as Tory-parlementslid verkies, maar toe hy in 2008 die burgemeester van Londen word, het sy politieke loopbaan begin spoed optel. 

Hy is toe “The Mad Mayor” gedoop omdat hy soggens op sy trapfiets werk toe gery het. Dit was deel van sy projek om pendelaars te kry om leen- of huurfietse van die stadsraad te gebruik eerder as motorvervoer. 

boris johnson,brexit
Hy is destyds as “The Mad Mayor” gedoop omdat hy soggens op sy trapfiets werk toe gery het. Foto: Shutterstock

In 2012 is hy vir ’n tweede ­termyn van vier jaar verkies. Maar toe word hy later in dieselfde jaar, tydens die Olimpiese Spele in Londen, daarvan beskuldig dat hy lugbesoedeling probeer verbloem het.

In die parlement

In 2016 is hy as Tory-LP weer terug na die nasionale parlement. Hy is kort daarna aangestel as Theresa May se minister van buitelandse sake. ’n Besoek aan Turkye later daardie jaar was effens ongemaklik toe dit aan die lig kom Boris het ’n paar maande tevore ’n kompetisie gewen om ’n beledigende gedig te skryf oor die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan. 

Brexit sonder brieke

Boris was uit die staanspoor ’n voorstander van Brexit. Hy steun ’n “harde” Brexit, oftewel ’n algehele wegbreek van die EU en sy verdrae, eerder as ’n “sagte” Brexit, ’n gedeeltelike wegbreek met die behoud van sekere lidmaat­skapsvoordele. 

Voor haar bedanking het Theresa se teenstand teen ’n harde Brexit Boris gereeld die harnas ingejaag. Hy het verlede jaar saam met vier ander ministers as minister van buitelandse sake uit haar kabinet bedank uit protes teen haar benadering. En nou lyk dit asof hy haar opvolger kan word.

Regsprobleme

Tydens sy 2016-veldtog vir Brexit het hy gesê Engeland betaal die EU elke week £350 miljoen (toe sowat R6,7 miljard) en dat dié geld eerder vir openbare gesondheid gebruik kan word. Nou sleep ’n privaat aanklaer, Marcus Ball, hom hof toe omdat hy glo kiesers mislei het.

Tog het Boris se pa, Stanley, gesê: “Dit sou lagwekkend wees om hom nie as ’n ernstige opvolgkandidaat vir Theresa May te beskou nie.”

Rokjagter

Activist Carrie Symonds takes part in an anti-whal
Boris se huidige meisie is Carrie Symonds. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Boris en Marina is sedert verlede jaar vervreem weens sy rokjagtery. Sy huidige meisie is Carrie Symonds (31), ’n voormalige Tory-beeldpoetser. 

Hy het wat gesê?
  • Oor Hillary Clinton in 2007: “Sy het gekleurde blonde hare, tuitlippe en ’n staalblou kyk in haar oë . . . nes ’n sadistiese verpleegster in ’n psigiatriese hospitaal.”
  • Oor sy tennistalent: “Ek het ’n passie vir tennis. Ek het Boris Becker uitgedaag vir ’n wedstryd. Hy het gesê hy sien kans, maar my nooit gebel nie. Ek is seker ek sal hom laat rondhardloop.”
  • Tydens sy 2004-verkiesingsveldtog: “As jy Tory stem, sal jou vrou groter borste kry en jy ’n beter kans hê om ’n BMW M3 te besit.”
  • Nadat die Londen-begroting in 2013 gepubliseer is, het Boris tydens ’n vergadering na sy politieke teenstanders verwys as “groot protoplasmiese invertebrate jellies”. 
  • In Julie 2013 het Boris op die bekendstelling van die Wêreld- Islamitiese Ekonomiese Forum in Londen gesê hy dink dat Maleisiese vroue “universiteit toe gaan om mans te kry”. Vroue wat die forum bygewoon het, was woedend oor sy aanstoot­like aanmerking. 
  • Met die uitreiking van sy 2014-biografie oor die voormalige Britse premier Winston Churchill het Boris homself in die boek ’n paar keer met Churchill vergelyk. 
  • In 2017, kort ná sy ministeriële besoek aan die oorloggeteisterde Libië, het Boris laat val: “Dis ’n fantastiese land; daar is baie potensiaal vir dinge om te verbeter ... hulle moet net eers al die lyke optel.”

Bronne: Dailymail.co.uk, theguardian.com, indy100.com, vanityfair.com, bbc.co.uk, Wikipedia.org, biographyonline.net, wikiquote.org, netwerk24.com, telegraph.co.uk, lbc.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.