Dit is ’n lofgesang van rubber op teer. ’n Deuntjie wat enige reisiger sal bekoor – soveel te meer nou in die tyd wat ons deur die coronaviruspandemie as gyselaars tuisgehou word. Die bevryding van die oop pad is soos balsem vir die siel.

Die ruit is op ’n skrefie oopgedraai en die koue winterlug stroom by die kar se kajuit in. Mick Jagger sing oor die radio van hoe jy nie altyd kan kry wat jy wil hê nie, maar as jy mooi vra, kry jy wat jy nodig het. En ek het mooi gevra en gekry. Ná vyf maande van vasgekluister wees in my woonstel het ek weer die geleentheid gekry om die land en sy mense te sien. Dit is ware doepa vir my kajuitkoors.

Ek deurkruis die Noord-Kaap en Noordwes om te sien hoe ver die coronavirus se tentakels strek. Ken die platteland die pandemie, en is die reuk van ontsmettingsmiddels en die anonimiteit wat maskers gebring het ook op dorpe soos Coligny, Vryburg, Van Zylsrus en Kenhardt die nuwe normaal?

Die gestroopte mielielande flits verby. Ek draai af by Ventersdorp. Die lang pad vra vir Red Bull en chilli bites, en Ventersdorp se biltong is altyd tops. Toe ek die slaghuis instap, word my temperatuur geneem en moet ek my hande ontsmet.

Die slagter, wat net as Ernie wil bekendstaan, skep vir my R50 se chilli bites en gesels oor hoe die pandemie ’n dorp soos Ventersdorp raak.

“Ons het maar net gehoor van al die siektes in Johannesburg. Dit het ons nie regtig gepla tot onlangs nie. Dit raak nou real. Dis nou close to home. Ons begin ál meer hoor van mense op die dorp of kennisse op naburige dorpe wat die virus kry.”

Hy sê sake by die slaghuis is nog goed. “Dit gaan goed met die rooivleisbedryf. Die ding is mense kan nou nie meer drank koop nie, so dan koop hulle meer vleis . . . Maar hierdie ding is aaklig. Ons het die ander dag ’n baie goeie kliënt aan die virus verloor.”

Op pad uit stop ek by die Pompeii-restaurant vir ’n koppie boeretroos. Ek is al een in die restaurant. Ligte klaviermusiek en die reuk van geroosterde koffiebone dryf by die deur uit. Die eienaar, Francois Brits (42), sit die koffie voor my neer. Hy en sy kelner dra albei maskers.

“Die virus roei ons uit,” sê hy. “Ek moet belaglik baie ysters in die vuur hê om my kop bo water te hou.”

Sy restaurant is grafstil weens die inperking, verduidelik Francois, wat al 15 jaar op die dorp woon. “Ons kry eenvoudig nie voete nie. As dit nie vir die dekorkant van my onderneming was en die feit dat ek meubels restoureer nie, sou ek nie oorleef het nie.”

Hy doen die dekor van ’n paar huise op die dorp en koop ou meubels aan wat hy nuwe lewe gee voor hy dit weer verkoop. Die mure in sy restaurant is versier met van Francois se eie skilderye, die gesigte van welbekende maar afgestorwe kunstenaars. In die eetsaal staar Vincent van Gogh met sy rooi boskasiebaard vir jou van die muur af. Op ’n esel staan ’n skildery van die Mexikaanse kunstenaar Frida Kahlo met haar twee ruie rye wenkbroue.

“Ek dink dit is die enigste ding wat my in hierdie moeilike tye sane hou. Om te skilder. Kreatiwiteit seëvier.”

Foto’s: Jacques Myburgh, Sharon Seretlo, Verskaf
’n Skildery van Frida Kahlo waarmee Francois besig is. francois brits

Terug op die pad tussen Ventersdorp en Coligny sien ek ’n grondpad wat afdraai. ’n Ou trekker staan op paalstellasies met ’n naambord daarby: “Tough metal toys.” Dié maatskappy word deur Annatjie Eisel (72) en haar seun, Bertus (40), besit en bestuur. Hulle vervaardig duursame metaalspeelgoed hier op hul stukkie grond neffens die N14.

Hier is enige speelding waaraan ’n mens kan dink: van plaasimplemente en veetrokke tot ’n Massey Ferguson-trekker, Vaaljapie en Casspir – alles word met moeite en liefde gemaak. “Ons het twee maande verloor wat ons nooit weer gaan terugkry nie,” sê Bertus. Nie hy of Annatjie dra ’n masker nie, maar hulle hou hul afstand.

Speelgoed is nie tydens vlak 5 van die inperking as noodsaaklik geklassifiseer nie; daarom was daar twee maande lank geen bron van inkomste vir die Eisels nie. Tough Little Toys is in 2001 deur Annatjie se oorlede man, Okkie, begin en verskaf speelgoed aan koöperasies oor die hele land – “van noord na suid”, sê Bertus. “Ons versprei tot in Namibië.”

Foto’s: Jacques Myburgh, Sharon Seretlo, Verskaf
Bertus Eisel en van die speelgoed. Hulle kon in vlak 5 van die inperking glad nie speelgoed verkoop nie. Foto: Jacques Myburgh

Hy sê hulle moes noodgedwonge aansoek doen vir werkloosheidsversekering, maar dit sukkel maar en hulle wag nog vir Junie en Julie se uitbetalings aan hul vyf werknemers.

“Ek voel daar word te veel van ’n bohaai oor hierdie virus gemaak,” sê Bertus. “Dit is maar soos ’n griep. Hy slaan jou net baie harder. Intussen is ons ekonomie aan flarde.”

Foto’s: Jacques Myburgh, Sharon Seretlo, Verskaf
Van die trekkers wat jy by Though Little Toys kan koop. Foto: Jacques Myburgh

Voor ek vertrek, wil Annatjie eers vir my hul museum wys. Ons stap na die baksteengeboutjie oorkant hul huis. Die woorde “Okkie se Museum” is op ’n groot bord bo die deur aangebring. Binne-in staan glasvertoonkaste met items uit ’n vorige eeu: ou selfone, ’n versameling Bic-aanstekers, ’n ou broeikas wat met paraffien gewerk het, Dunlop-buitebandasbakkies – soos wat in elke oom en tannie se huis was – en selfs ’n oranje tronkuniform wat ’n bewaarder aan Okkie geskenk het.

“Dit is dalk nie ’n museum soos jy dit ken nie. En dit is dalk items wat ander mense sou weggooi, maar Okkie was ’n versamelaar. Hy het hierdie plekkie so omskep. Dit was sy manier om af te skakel en te onthou.”

Foto’s: Jacques Myburgh, Sharon Seretlo, Verskaf
Ou Bic-aanstekers in ’n vertoonkas in Okkie se Museum.

Ek vra vir Annatjie of ek ’n foto van haar in Okkie se onthoukamer kan neem. “Nee, maggies. Ek gaan waarskynlik doodgaan sonder dat daar foto’s van my agterbly. Ek haat foto’s. Hulle moet nie eens ’n foto van my op my begrafnisbrief sit nie. Ek hou niks daarvan nie. Ek draai altyd ’n begrafnisbrief om as daar ’n foto op is.”

Op Coligny lyk die prentjie nie veel anders as in die stede nie. Hier loop inwoners met maskers op, en voor jy by ’n winkel ingaan, moet jy maar weet jy gaan jou hande met ontsmettingsmiddel moet spuit.

Ek klop aan by Diana Swart (48). Dié vrou het in 2017 alles verloor toe oproeriges haar huis met al haar troeteldiere daarin afgebrand het. Die betogings het ontstaan nadat twee plaaslike boere daarvan beskuldig is dat hulle ’n 12-jarige seun vermoor het. Hulle is sedertdien skuldig bevind, maar gaan teen die uitspraak appelleer.

Ons ontmoet mekaar by ’n klein dobbelhuisie waar sy ’n vriendin uithelp. “Dit was darem maar ’n verskriklike tyd in my lewe om alles so te verloor,” sê sy met ’n gesigskerm oor haar gesig. “Maar ek het sterker daaruit gekom.”

Sy moes eers in haar seun se buitekamer op die dorp gaan bly, maar kon weer die stukkies van haar lewe herbou. “Die government het gelukkig vir my ’n RDP-huisie gegee. Dit is klein, maar dit is myne, en dit gaan regtig goed met my.”

Foto’s: Jacques Myburgh, Sharon Seretlo, Verskaf
Diana Swart met haar gesigskerm op. Foto: Jacques Myburgh

In die hoek van die vertrek speel ’n jong vrou ’n dobbelspeletjie op die rekenaar. Die stilte word kort-kort verbreek deur die piepgeluid soos sy die dobbelmasjien op die skerm bewerk.

Hoe voel Diana oor die virus? “Ag, weet jy, die lewe moet aangaan. Ons kan nie net stilsit nie. Ek is nie bang vir die virus nie. Ek is deur veel erger as dit, maar ek dink nie hierdie ding gaan sommer net weggaan nie. Dit gaan nog lank saam met ons bly. Ek wens net ons kon ietsie koop om te drink.”

Ek groet vir Diana en kies verder koers op die N14, verby Delareyville. Ek hou nie stil op die dorp nie – die inwoner met wie ek wil praat, mag my in elk geval nie sien nie en ons gesels later telefonies.

Nadia Odendaal (35) klink uitgeput toe sy antwoord, asof sy hygend na haar asem soek. “Ek sal bitter graag met jou wil praat, maar ek is ongelukkig nog in isolasie. Ek het byna by die dood omgedraai.”

Nadia, ’n haarkapper van Delareyville, se wêreld is op sy kop gekeer toe sy in Junie positief getoets is vir covid-19. “Ek was by drie dokters en in vier hospitale,” sê sy, haar sinne kort en afgemete. “Ek is oortuig dat die pad wat ek met die virus gestap het, gebeur het sodat ek kon opstaan en praat oor my ervaring en getuienis kan lewer.”

Haar ouers het op Vadersdag by haar kom eet, en sy het toe begin siek voel. “Ek was moegerig, maar ek het die Maandag régtig begin siek voel. Ek het nie gedink dit is die virus nie. Ek het nooit hoë koors gehad nie.

“Ek het die Maandag my pa gebel, en hy het dadelik gery om my te kom haal. Ek was te swak om self te bestuur.” Nadia sê sy het glad nie die simptome van ’n seer keel gehad nie, en haar smaak was ook nie aangetas nie.

“Ek het net hierdie geweldige moegheid gehad. Ek kon niks vir myself doen nie.”

Foto’s: Jacques Myburgh, Sharon Seretlo, Verskaf
Nadia Odendaal, ’n haarkapper van Delareyville, het by die dood omgedraai weens covid-19. Foto: Verskaf

Sy is in die Anncronhospitaal in Klerksdorp opgeneem, maar haar suurstofvlak het bly daal. “Ek het ’n suurstofmasker gedra, dan het dit orraait met my gegaan, maar as ek dit afgehaal het, het ek weer gesnak na asem. Een van die dokters daar het aanbeveel ek moet dadelik na die intensiewesorgeenheid geskuif word.”

Nadia sê sy kan nie veel onthou van die tyd in intensiewe sorg nie. “Ek onthou net die dokter se mooi lang wimpers. En ek onthou ek is daar gestabiliseer en uitgeskuif na ’n ander saal net om weer in die ICU teruggeskuif te word – en ek weet van die masjien waaraan hulle my gekoppel het.”

Sy sê in hierdie tyd is sy gedurig deur gedagtes aan die dood gekonfronteer. “Ek het baiekeer gelê en huil, en dan dink ek ek kan nie meer nie. Ek het begin dink of ek genoeg gedoen het om hemel toe te gaan.

“Daar was een gedagte wat heeltyd by my opgekom het: Gaan ek hierdie ding oorleef en eendag ’n mamma wees? Dit was nog altyd een van my grootste drome.”

Sy vertel sy sou nooit kon dink dat sy die virus sal kry nie. “Ek het niemand persoonlik geken wat die virus opgedoen het nie, en toe gebeur dit met my.

“Of jy glo in die virus of nie: Bou jou immuunstelsel op. En as jy enigsins sukkel met asma, kry dit onder beheer. Ek het self asma. ’n Mens besef eers die genadige waarde van asemhaling as jy die dag afhanklik is van ’n masjien om dit vir jou te gee.”

Op Vryburg rek ek weer my bene. In die hoofstraat berispe ’n vrou haar kind toe dié weier om ’n masker aan te sit. Sy swets in Tswana en sit dan woedend maar behendig die masker vir die kind aan.

Maar verder gaan die lewe voort op hierdie dorpie in Noordwes. In die hoofstraat langs die munisipale gebou staan ’n uitgebrande minibustaxi. Twee kinders – vry weens die skole wat gesluit is – speel waaghalsig bo-op die dak van die wrak.

“Dit gaan alles oor politiek,” vertel ’n vrou wat neffens my staan en sien ek neem foto’s van die wrak. Haar masker sit ook stewig op haar gesig. “Hier is verskeie faksies op die dorp, en almal baklei nou oor wie hulle wil hê munisipale bestuurder moet word. Hulle het so ’n paar dae terug die taxi uitgebrand en ook buitebande aan die brand gesteek. In hierdie tyd is daar nul social distancing.”

Ek bel vir Ammiël Smith (28), geliefde onnie van die dorp, wat die sosiale media gaande gehad het oor sy koddige dansvideo saam met sy leerders. Hy stem in om my later te ontmoet en daag toe in sy oefenklere en masker op.

Die jong onderwyser bly optimisties – ondanks hierdie frustrerende tye. “Dit is seker nog die langste vakansie wat ek al gehad het. Ons trek nou al op vier en ’n half maande,” lag hy.

Maar daar skemer tog erns in sy stem deur. “Baie van ons mense is maar bang vir die virus. Daar is al mense op die dorp wat positief getoets het, en daar het onlangs ’n kind by ons skool positief getoets.”

Ammiël gee liggaamlike opvoeding aan die Laerskool Vryburg. Hy stem nie saam met die regering se onlangse besluit om die skole weer vir sowat vier weke te sluit nie. “Die skool is ’n geweldige ondersteuningstelsel vir ons kinders. Baie van die kinders is afhanklik van die voedingskema, en ek weet van ’n paar kinders wat honger gaan slaap in die aande.”

Een so ’n geval het Ammiël se hart gebreek. “Ek het vir hierdie betrokke leerder tydens die inperking gevra wat eet hy in die oggende. Hy het gesê hulle drink net koffie. In die middag sal hulle vleis en rys eet, maar in die aand drink hulle weer net koffie. Daar is eenvoudig nie genoeg geld of kos om hulle drie keer per dag te laat eet nie.”

Verder vrees hy ook wat hy as liggaamlike opvoeder gaan teëkom wanneer hy weer kan klas gee.

“Die kinders raak couch potatoes. En die ouers het my al gevra of ek nie net asseblief saam met hulle wil oefen nie, want hulle weet nie meer wat om met die kinders te doen nie.

“Dit help ook nie ek stuur vir hulle oefenprogramme nie, want hulle soek die menslike interaksie.”

Ons groet met ’n Cyril-groet, so met die elmboog.

Later steek ek die vuur aan. Ek luister na Gert Vlok Nel wat sing oor treine wat van spore verwissel en staar na die dansende vlamme – dankbaar vir die voorreg om weer ’n slag vrylik te reis en te sién hoe dit in die land gaan. Môre sal ek verder die binneland in ry, diep die Kalahari in om te sien of verafgeleë dorpe soos Van Zylsrus ook die virus vrees.

  • Lees in volgende week se uitgawe van Huisgenoot die tweede aflewering van Jacques Myburgh se reis deur die platteland in die tyd van die pandemie.