In die hele Afrika is daar net een vrou wat die titel president voor haar naam kan skryf.

Sahle-Work Zewde het pas geskiedenis gemaak toe sy Ethiopië se eerste vroulike staatshoof geword het.

Die stylvolle 68-jarige ma en ouma se prestasie is merkwaardig gegewe die patriargale samelewing van dié staat in Oos-Afrika.

Volgens ’n studie wat deur die Verenigde Nasies gedoen is, maak vroue die helfte van die land se werkmag uit, maar die meerderheid van hulle word nie betaal nie, meestal omdat hulle op plase werk.

Met ’n vrou as president is daar nou nuwe hoop dat die winde van verandering selfs sterker sal waai in dié land wat drie dekades gelede nog die toonbeeld van ellende was.

’n Foto van kinders in 1984 in ’n noodsentrum spreek van Ethiopië se destydse hongersnood.

Sedertdien het Ethiopië uit hongersnood, armoede, ’n vlaag menseregteskendings en onrus verrys tot ’n baken van hoop en vooruitgang.

Vandag spog die voorheen gefolterde land met een van die hoogste ekonomiese groeikoerse – sowat 10% – wêreldwyd en met die winsgewendste lugredery in Afrika, Ethiopian Airlines.

Daarenteen lyk dié kleintjies, laas jaar in Addis Abeba, gelukkig en gesond.

Dis genoeg om Suid-Afrika groen van jaloesie te maak – ons ekonomiese groeikoers vir 2018 word op 0,7% geskat, en ons nasionale lugredery was pas weer in die nuus toe in die parlement geredekawel is oor of die skuldbelaaide lugdiens gesluit, verkoop of in vennootskap bestuur moet word.

In “die Nuwe Ethiopië”, soos oudpres. Thabo Mbeki al ’n paar jaar gelede na dié land verwys het, kan ook vroue nou na ’n nuwe era uitsien.

“As die verandering ewe veel deur mans en vroue aangevuur word, kan ons die momentum behou en ’n voorspoedige land vry van diskriminasie skep,” het Zewde met die intrapslag gesê.

“As julle dink ek het nou genoeg oor vroue gepraat, is julle verkeerd. Ek het nog net begin,’’ het sy bygevoeg.

Dit is ook geen geval van een swaeltjie wat die somer moet maak nie. Kort voor die parlement haar einde verlede maand eenparig verkies het, is vroue in die helfte van die kabinetsposte aangestel. Al is Zewde Afrika se enigste vrouepresident – en dit van die naasgrootste nasie op die vasteland (ná Nigerië) – is sy nie die eerste nie.

In Liberië was Ellen Johnson Sirleaf van 2006 tot 2018 president, en in Malawi was Joyce Banda van 2012 tot 2014 die staatshoof.

Zewde is nie haar land se uitvoerende hoof nie – in Ethiopië is die politieke mag merendeels in die hande van die premier, Abiy Ahmed.

As president sal sy take verrig soos om die parlement te open, ambassadeurs aan te stel, verhoudings te bevorder en die vrede te help bewaar in dié land wat eers in Julie vanjaar amptelik vrede verklaar het ná ’n oorlog van 1998 tot 2000 en byna twee dekades van voortslepende wrywing met sy buurland Eritrea.

Tog meen kenners soos die menseregteaktivis Selam Musse haar aanstelling is “ ’n groot simboliese deurbraak”.

“Om ’n vrou as staatshoof te hê gaan ons almal aanvuur,” voorspel sy.

“Die feit dat sy die eerste vroulike Ethiopiese president geword het, sal ’n wonderlike teken wees dat ’n glasplafon afgebreek is en vroue hoë poste kan beklee,” beaam Abebe Aynete, ’n navorser van die Ethiopiese Instituut vir Buitelandse Betrekkings.

Ook die Ethiopiese premier se personeelhoof, Fitsum Arega, is positief. “In ’n patriargale samelewing soos ons s’n normaliseer die aanwysing van ’n vroulike staatshoof dit dat vroue besluitnemers in die openbare lewe is,” het hy getwiet.

DIE VROU AGTER DIE TITEL

Zewde is Ethiopië se eerste vroulike staatshoof sedert keiserin Zewditu in die vroeë 1900’s oor hierdie nasie op die Horing van Afrika regeer het.

Sy is in die Ethiopiese hoofstad, Addis Abeba, gebore as die oudste van die vier dogters van ’n leëroffisier wat groot waarde aan goeie onderwys geheg het en het haar skoolloopbaan aan die Franse internasionale skool Lycée Guébré-Mariam in haar geboortestad voltooi.

Op 17 het sy met ’n beurs in Frankryk gaan studeer, waar sy ’n graad in natuurwetenskappe aan die Universiteit van Montpellier behaal het.

Sy het opgang gemaak as haar land se ambassadeur in Frankryk, Senegal en Djiboeti en was die eerste vrou wat as hoof van die Verenigde Nasies se kantoor by die Afrika-unie aangestel is.

Sy was ook by verskeie vredesprojekte in Afrika betrokke.

DIE JARE VAN ELLENDE EN STORMS

Anders as baie Afrikalande is Ethiopië nooit gekoloniseer nie, buiten vyf jaar tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe Italië onder Benito Mussolini hierdie Afrikakoninkryk van Haile Selassie I beset het.

Britse en Statebondsmagte het die Italianers help verdryf, en Haile Selassie het in 1941 weer die troon bestyg.

Nadat hy in die vroeë 1970’s in ’n staatsgreep ontsetel is, het ’n donker era in die Ethiopiese geskiedenis aangebreek. In hierdie jare van droogte en hongersnood is foto’s van verhongerde Ethiopiërs gereeld oor die wêreld heen gepubliseer.

In 1974, dieselfde jaar waarin die dodetal weens hongersnood in Ethiopië tot ’n geraamde 200 000 gestyg het, het genl. Tafari Benti homself tot staatshoof verklaar. Selassie het die jaar daarna raaiselagtig in aanhouding gesterf.

In 1977 is Benti vermoor en deur kol. Mengistu Haile Mariam, ’n Marxis, vervang. Tydens sy skrikbewind het derduisende teenstanders van die regering gesterf, en hongersnood het in die vroeë 1980’s verwoesting gesaai toe hy ’n kollektiewe landboustelsel gevestig het.

In 1991 het Mariam voor die Volksrevolusionêre Demokratiese Front landuit gevlug en in Zimbabwe gaan skuil. Daarna het grenskonflikte tussen Ethiopië en hul buurstaat Eritrea in ’n volskaalse oorlog van 1998 tot 2000 ontaard.

Die lande het in 2000 ’n skietstilstand ingestel, maar vrede is eers 18 jaar later, in Julie vanjaar, verklaar.

WINDE VAN VERANDERING

Ethiopië se nuwe leiers wil hulle nou vir vrede en eenheid beywer – met die hulp van die vroue in hul geledere.

Met die onlangse kabinetskommeling is ’n vrou as hul minister van verdediging aangewys.

’n Vrou staan ook nou aan die hoof van die voorheen gevreesde intelligensieagentskap wat tot die “Ministerie van Vrede” herdoop is. “Waar daar nie vrede is nie, word vroue eerste geviktimiseer,” het Zewde opgemerk.

Die land se ligging maak hom ’n ideale handelspoort na byvoorbeeld die naasgrootste en derde grootste ekonomieë ter wêreld – China en Japan.

Sedert die laat 1990’s het Ethiopië ook erns gemaak met die verbetering van vervoerinfrastruktuur.

Sy fokus op beleggings in openbare infrastruktuur en vervaardiging het grootliks daartoe bygedra dat die Wêreldbank hom later kon prys vir sy gemiddelde ekonomiese groei van 10,9% in die dekade tot 2015.

Ethiopië wil hom as Afrika se vervaardigingspilpunt vestig en het in onlangse jare toenemende beleggings van China gelok. Maatskappye van 10 ander lande benewens China het byvoorbeeld ook belê in die land se reusagtige Hawassa-nywerheidspark wat 140 ha van fabrieke behels en na verwagting eindelik 60 000 werkgeleenthede kan verskaf.

Beleggers sê hulle kies Ethiopië oor sy groot bevolking (sowat 105 miljoen), jong, groeiende werkmag, stabiele arbeidsmark, bekostigbare produksiekoste en sy stabiliserende politieke situasie van die afgelope jare.

Ethiopië het sedert 2010 werk gemaak van hul “Groei-en-transformasieplan”. Die plan, in sy tweede fase, se hoofpunte was die aansporing van buitelandse beleggings, die uitbreiding van infrastruktuur en ’n enorme toename in die land se kragopwekkingsvermoë en getal selfoon- en internetgebruikers.

Projekte soos die Groot Renaissancedam wat hidroëlektriese krag aan die land en sy bure sal verskaf, en die nuwe Ethiopië-Djiboeti-spoorlyn van sowat 750 km, wat vervoertyd van en na hawens beduidend verkort, is toonbeelde van die vordering.

Intussen is Ethiopian Airlines, die Afrikaredery wat die meeste roetes op ons vasteland en oorsee bedien, een van die snels groeiende rederye wêreldwyd.

Nou is dit mense soos Zewde se taak om die volgende hoofstuk in Ethiopië se verhaal van hoop en vooruitgang te help skryf.

BRONNE: UN.ORG, BBC, ADDISSTANDARD.COM, AWIB.ORG.NET, THECONVERSATION.COM, NYTIMES.COM, REUTERS, AL JAZEERA