Maande nadat die Valke bevestig het die moorddossier van Natasha Mans is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys en dat hulle in spanning wag op ’n beslissing om te hoor of daar genoeg bewyse is om ’n verdagte in hegtenis te neem, het die saak nou moontlik ’n doodlooppunt bereik.

“As die ondersoekbeampte nie nou iets kry nie, het ek nie ’n antwoord nie,” het ’n betroubare bron met insae in die ondersoek, vertroulik aan Huisgenoot gesê.

Op ’n navraag aan die polisie oor die vordering, nadat die dossier glo deur die NVG terug na die Valke vir verdere ondersoek verwys is, het die woordvoerder Woensdag sy skouers opgetrek.

“Dit is nou ’n koue saak," was kapt. Christopher Singo, Vrystaatse woordvoerder van die Valke, se antwoord. "Daar is geen inligting beskikbaar nie.”

 Natasha en haar vriend Dennis Casten.
Natasha en haar vriend Dennis Casten.

Toe Huisgenoot hom verder pols het hy gesê: “As daar enige inligting is wat noodsaaklik is om te kommunikeer, sal ons amptelike mediaverklarings uitreik. Ek het nie enige inligting in die verband met betrekking tot ’n arrestasie of dokumente van die NVG nie.”

Hy het nie verdere vrae beantwoord nie.

Natasha het op 31 Mei 2018 aanvanklik spoorloos verdwyn. Die ontwikkelaar Dennis Casten, haar kêrel by wie sy in daardie stadium gebly het, was glo die een wat beweer het sy het met ’n vuurwapen en haar dogter, Noeline Koekemoer (15), wat drie jaar tevore vermoor is, se as verdwyn.

Die as is later in die huis gevind en Natasha se lyk aan die buitewyke van die einste erf van die Groenvlei-hoewe waar die twee van hulle gewoon het.

Langs Natasha se lyk was ’n vuurwapen. Daar was ’n skietwond in haar bors.

Maar die vreemdste deel was die feit dat Natasha se lyk glad nie ontbind was nie, al was sy twee weke lank vermis.

Dit was yskoud, asof sy in ’n yskas gehou is.

Polisiebeamptes en die staatslykswa staan op die t
Polisiebeamptes en die staatslykswa staan op die toneel in Groenvlei, buite Bloemfontein, waar Natasha Mans se lyk in Junie gevind is. Foto: André Damons/Volksblad

Dennis het nog nooit ’n onderhoud toegestaan nie en nog nooit ’n woord gerep oor die raaiselagtige omstandighede waaronder sy vriendin eensklaps daardie Donderdagoggend verdwyn het nie.

Al wat die polisie werklik bevestig het, was dat dit nie selfmoord was nie, maar moord.

’n Sluier van geheimhouding word egter sedert die aanvang van die saak oor die saak getrek. Die polisie het nog nooit veel inligting beskikbaar gestel nie. Haar familie ook nie juis nie. Alles was privaat, haar verassing en gedenkdiens inkluis.

Een familielid, wie se identiteit Huisgenoot weerhou om hulle te beskerm, sê daar is selfs ’n Facebook-blad ter herinnering van Natasha begin. Dit is ook intussen verwyder.

Natasha se begrafnisbrief. Foto: Verskaf
Natasha se begrafnisbrief. Foto: Verskaf

“Ek weet nie deur wie of hoekom nie . . .”

Op ’n vraag of Natasha se moord hulle ontstel het die persoon geantwoord: “Wat kan ons doen? Dis net nie vir my reg dat mense daarmee wegkom nie.”

Die persoon het bevestig hulle het ook geen kontak met Dennis nie.

“Ons kommunikeer glad nie met hom nie.”

Op ’n vraag oor hoe hulle al die vrae drie jaar later hanteer, sê die persoon: “Die waarheid sal seker nog een of ander tyd uitkom.”

In argiefberigte van die Volksblad met die moord van haar dogter, was Natasha se stem nooit stil nie.

Die volle waarheid van haar kind se wrede einde het later in die hof uitgekom, en haar moordenaar het haar selfs om vergifnis gesmeek. 

“So help my God, maar ek sal jou nooit vergewe nie,” het sy hard en duidelik in die Vrystaatse hooggeregshof teen haar dogter se aanvaller van destyds, Moses Maoka (toe 37) getuig.

 Natasha se dogter, Noeline Koekemoer, is in 2015
Natasha se dogter, Noeline Koekemoer, is in 2015 in die naburige Bainsvlei gevind nadat sy verkrag en vermoor is. Foto: Facebook.

Sy het getuig hoe sy in April 2015 die dag van die werk gekom het en eers gedink het haar dogter speel net toe sy by haar koue lyk buk. 

“Ek kon nie registreer wat ek sien nie.”

Natasha moes die stille getuienis van haar dogter se laaste oomblikke aanskou. Haar geswelde oë, die bloed aan haar neus en mond. Noeline is ook verkrag.

In ’n hard bewoorde brief wat sy ter strafverswaring teen haar dogter se moordenaar ingedien het, het sy geskryf:

“Noeline, my enigste blommemeisiekind, se onverwagse, wrede dood het my aarde en bestaan geruk.

“Ek het die meeste skoologgende haar pragtige dik, lang hare gevleg. Ek kan dit nie ophou mis nie, om nie te praat van hoe ek haar lyfie mis om teen my vas te druk nie.”

Min het sy geweet oor wat die toekoms inhou toe sy skryf: “Ek pak my dae aan met vrees vir ander mense, en onsekerheid oor wat om die volgende draai vir my wag . . .”

Die vrae oor wie Natasha ingewag het, net om haar te vermoor, is nog onbeantwoord.

En Huisgenoot se bron is nie meer so seker of daardie vrae ooit beantwoord sal word nie.

“Die saak ís koud.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe