Wesley Byrne word gereeld voorgekeer op straat wanneer hy uitgaan saam met sy 28-jarige meisie, Leah Howard-Smith, en selfs by die werk deur mense wat vas oortuig is hy is die rooikop-sanger en smeek vir selfies saam met hom en sy handtekening.

Die 25-jarige spieëlbeeld van Ed kan nie eens in vrede kuier nie, en moes eenkeer sy paspoort vir ’n besope fuiwer wys, wat oortuig was hy is die Grammy-bekroonde ster, en daarop aangedring het dat hy begin sing.

Wesley, van Shaw in Groter-Manchester, sê: “Ek het ’n aanvoeling begin ontwikkel van wanneer dit sal gebeur – en dit gebeur gedurig wanneer ek uitgaan.

“Soos hy beroemder geword het, is ek ál meer op straat voorgekeer en gevra vir foto’s en handtekeninge, veral wanneer ek uitgaan in Manchester. Die meeste mense skree net iets en ek waai dan vir hulle."

“Mense vra foto’s saam met my wanneer ons ook al uitgaan. My meisie het ’n paar keer die meisies aangegluur wat skree en foto’s saam met my soek. Sy hanteer dit nie baie goed nie.”

Wesley, wat leer om die kitaar te bespeel, probeer ongesiens sy gang gaan deur ’n jas en swart hoed te dra wanneer hy uitgaan, maar sê soms maak dit mense nog meer oortuig daarvan dat hy die sanger is.

“Wanneer ek uitgaan, selfs na Asda in gewone klere, keer mense my nog meer voor. Daar is baie tieners wat van oorkant die straat skree: ‘Haai, Sheeran, sing vir ons ’n liedjie.’ "

“Ek wil nie mense teleurstel en hul dag bederf nie; daarom speel ek maar saam. Ek het nie enige handtekeninge uitgedeel nie – mense vra daarvoor, maar ek maak verskoning en gee pad.”

Ten spyte van die ooreenkomste tussen die twee is Wesley ongelukkig nie met Ed se “inspirerende” sangvermoë geseën nie.

“My sangstem is aaklig, maar ek leer myself kitaar speel. Ek het nog nie veel vordering gemaak nie, maar het al geleer hoe om Shape of You te speel,” sê hy.

Wesley sê hy sou graag sy ooreenkomste met die sanger wou inspan en ’n loopbaan daaruit kerf.

“As ek ’n loopbaan daaruit kon maak om Ed Sheeran se ewebeeld te wees, sou ek dit beslis gedoen het. Ek probeer net om al my hare te behou. Daar’s ’n geskiedenis in ons familie van mans wat bles word; so ek moet vasklou aan my rooi hare.”