“Sê my, sê my, ek weet dis lame verby; toe jy geval het uit die hemel, het jy seergekry? Verlief wees is meer as ’n game vir my . . .” Dit is van die flou optel-sêgoed wat hulle in die liedjie gebruik. “Het jy sonbrand gekry, want jy is so hot vir my,” is nog een.

Die video is by Presley’s in Pretoria deur Gerhard van Rooyen van GVR Productions verfilm. Dit pas by die opgewekte popsnit wat geïnspireer is deur die stigterslid, Hugo Ludik, se eie mislukte pogings om ’n oulike meisie in ’n kroeg raak te loop.

Suna Roberts was vir hul grimering en uitrustings verantwoordelik. “Dit vat lank om so iets te skiet en ons was moeg, maar ek glo mense sal dit geniet omdat die konsep briljant en uitdagend is. Ek speel ’n zef ou wat verlief raak op myself as ’n vroulike karakter,” vertel Reynardt Hugo.

Reynardt Hugo

Reynardt Hugo.

Wat sê die ouens oor hul buiging as smeulende vroue?

 1. Hoe was dit vir jou om in vroueklere te wees en op jouself te hit?

Dit was amazing. Ek het dit gate uit geniet. Ek gaan begin drag shows doen.

2. Wat het deur jou kop gegaan toe jy die beeldmateriaal die eerste keer sien?

It blew my mind. Ek lyk soos 'n Russiese model vir skoenpolitoer.

 3. Dit was seker prettig op die stel. Watter snaakse dinge het gebeur?

Net om vir Hugo (deesdae met 'n baard) as 'n vrou te sien.

4. Wat is die aanhangers se reaksie op die video?

Ek dink tot dusver hou hulle daarvan; nog geen negatiewe kommentaar gehoor nie. Almal sê hulle love dit.

Kyle Grant

Kyle Grant.

1. Hoe was dit om in vroueklere te kerjakker?

As 'n teaterakteur is ek al so gewoond aan dress-up. Ek het al baie comedy drag in my loopbaan gedoen. Dit was maar net nog 'n gig vir my.
“Ons het obviously die twee tonele apart geskiet, so ons kon nie letterlik op onsself hit nie. Ons het ook 'n double-akteur gebruik.

2. Hoe het dit gevoel toe jy die beeldmateriaal die eerste keer sien?

Been there, done that. Maar ek kon nie ophou lag vir Hugo in drag nie. Hy't vir my regtig soos 'n Spaanse weergawe van die White Chicks-fliek se hoofkarakters gelyk.  

3. Was dit prettig op die stel?

Toe Gerhard van Rooyen in 'n stadium agter die kamera so hard vir ons lag dat ons moes ophou skiet, was dit vir my besonders.

4. Wat is die aanhangers se reaksie op die video?

Hulle love dit. Natuurlik gaan jy nou een of twee verkramptes kry wat dit nie verstaan nie en aanstoot neem. Maar ons is nie hier om die verkramptes te vermaak nie. Ons is die nuwe generasie van Afrikaans en ons kan ook 'n bietjie vir onsself lag. En ons ware fans love dit."

Hugo Ludik

Hugo Ludik.

1.  Hoe was dit vir jou om in vroueklere te wees en op jouself te hit?

Dit was baie ongemaklik (die klere). Die make-up was verskriklik en ek het lank laas so baie gesweet. Die video is in 'n split screen geskiet, so ons het nie regtig op onsself gehit nie. Maar ja, oor die algemeen was dit baie vreemd en ongemaklik.

2.  Wat het deur jou kop gegaan toe jy die beeldmateriaal die eerste keer sien?

Ek was geskok oor hoe mooi Kyle as 'n vrou lyk. Reynardt het vir my soos n biblioteektannie gelyk en ek het vir myself soos 'n Spaanse tert in 'n balrok gelyk. 

3.  Was dit vet pret op die stel?

Om op hoë hakke (wat ek nog nooit tevore gedra het nie) te dans, was skreeusnaaks. Ons het baie geval en gelag.

4. Wat is die aanhangers se reaksie op die video?

Tot dusver is die reaksie goed. Die mense vind dit regtig snaaks en absurd (wat ons wou hê). So een of twee mense dink ons doel was regtig om soos hot drag queens te lyk. Maar nou ja, so het almal mos maar 'n eiertjie te lê.

Kyk die video hier:

Sê My was die eerste enkelsnituitreiking van die Sama- en Ghoema-bekroonde trio se jongste album, Bewe, wat van 23 Maart op die rakke en aanlyn beskikbaar is.

“Die tema van die nuwe popalbum is emosionele patriotisme. Dis om deur ’n lens te kyk van iemand wat ’n trotse Suid-Afrikaner is. Ons sing oor ons pragtige meisies, ons pragtige land en ons geskiedenis en toekoms,” vertel Kyle.

“Ons het besluit om ons luisteraars te bederf met 11 splinternuwe snitte en liedjies wat hulle ken," sê Reynardt. "Daar is ’n groei in Adam se styl en ’n volwassenheid wat in ons nuwe musiek deurkom.”