En die volgende dag moes hy hoor Laingsburg in die Karoo hét weggespoel, vertel die 71-jarige Gerald Burger, ook bekend as Die Siener. Minstens 100 mense het destyds hul lewe in daardie verwoestende ramp in die Karoo verloor, en tientalle liggame is nooit gevind nie.

Baie mense dink dit moet wonderlik wees om te weet wat die toekoms inhou, maar dis nie altyd so maklik nie, vertel Gerald wat in Kemptonpark woon.

Hy werk al die afgelope 38 jaar voltyds as heldersiende en help mense ook om van bonatuurlike verskynsels in hul huise ontslae te raak.

Eers is hy op skool as “spookkind” gespot omdat hy met die helm gebore is, en vandag word hy geteister deur visioene van tragedie en natuurrampe wat hom, soos met die Laingsburg-vloed, magteloos laat.

Om nie eens te praat van die poltergeeste wat hom voortdurend treiter met hul geklop en geslaan nie.

Tog kon hy ’n loopbaan maak uit sy talent van heldersiendheid.

Mense uit alle vlakke van die samelewing besoek hom gereeld om vir hulle lesings te doen.

Hy kan nie ’n deursneekliënt beskryf nie; selfs ’n predikant het hom onlangs geraadpleeg.

Maar nes sielkundiges, beraders en dokters het hy ’n vertrouensverhouding met sy kliënte en mag hy hulle nie identifiseer nie.

Hy het bekendheid onder radioluisteraars verwerf met twee programme.

Van 2009 tot 2011 het hy Gerald die Waarsêer op die stasie OFM aangebied en inbellers met sy akkurate voorspellings verstom.

Baie mense dink dit moet wonderlik wees om te weet wat die toekoms inhou, maar dis nie altyd so maklik nie, vertel Gerald wat in Kemptonpark woon.

Luisteraars kon bel en hom regstreeks raad vra met probleme, en hy het volgens hulle telkens die spyker op die kop geslaan.

Van 2012 tot 2017 is hy gereeld gehoor op The Scenic Drive, Rian van Heerden se laatmiddagprogram op Jacaranda FM.

Nou kan kykers vanaf 24 April op kykNET (DStv-kanaal 144) se nuwe werklikheidsreeks Die Siener vir Gerald in aksie sien en uitvind wat sy gawe en sy werk behels. Skeptici kry ook kans om sy geloofwaardigheid te toets.

Huisgenoot het gewonder: wie presies is Gerald Burger? Vandag kuier ons saam met dié skraal ongetroude gryskop man in sy huis in Kemptonpark...

Hy het eintlik bitter arm en onder moeilike omstandighede grootgeword, vertel Gerald in sy sagte stem.

Hy was maar ses jaar oud toe sy pa oorlede is en hy en sy twee broers in pleegsorg in Pretoria geplaas is.

Drie jaar later het sy ma weer getrou en die drie seuns is na haar toe terug waar sy en haar nuwe man saam met sy vyf kinders in Boskop, ’n klein nedersetting net buite Potchefstroom, gewoon het.

Geld en kos was daar nie juis nie, vertel Gerald. Hy onthou een van sy opdragte in daardie tyd was om vis in die Boskopdam te vang sodat hulle darem iets op die tafel kan kry.

Gerald Burger
Foto: Fani Mahuntsi

“Ons was ook maar van die welsyn en ander donasies afhanklik vir dinge soos klere. Ek het klere gedra wat duisende kinders voor my gedra het. Ek was 15 toe ek my eerste skoene gekry het.”

Op skool is hy geboelie en verstoot omdat hy “anders” was.

“Ek kon nog altyd die geesteswêreld om my sien. Ek sien die spoke en ander verskynsels soos wat jy mense om jou sien.

Dan koes ek as iets in my pad verskyn, of ek spring weg.

Op skool het ek vir die kinders geskree om te pasop as ek sien hulle gaan in ’n spook vasloop, want ek wou nie hê die spook moet seerkry nie.”

Die kinders het hom “die spookkind” genoem en hom eenkant toe gestoot.

“Niemand wou iets met my te doen gehad het nie. Dit was traumaties vir my. Ek was ’n alleenkind. Net my ma het my verstaan.”

Die kinders het hom “die spookkind” genoem en hom eenkant toe gestoot.

Selfs sy stiefpa het hom een aand, onder die invloed, uit die huis gesluit en hom toegesnou: “Jy is mos die donnerse spookkind.”

Ná skool het hy homself as verpleër bekwaam, want hy “wou nog altyd net ander mense help”.

In daardie tyd het hy al lesings vir van sy pasiënte en ander mense gedoen en het vanaf 1981 voltyds as heldersiende gewerk.

Dan vertel hy van “daardie verskriklike visioen” wat hy in 1981 gekry het. Hy het die aand op sy stoep gesit en skielik het ’n “intense hartseer” hom oorval.

Gerald Burger
Foto: Fani Mahuntsi

Toe speel ’n toneel in sy geestesoog af waar ’n massa water ’n klein dorpie oorstroom.

“Ek kon niks doen nie. Net kyk. Ek het gesien hoe stukke meubels en liggame voor my verbydryf. Agter die dorp was ’n koppie. Die naam Laingsburg was teen die koppie in wit klippe uitgepak.”

Toe die visioen verby is, bel hy ’n kennis wat by ’n koerant gewerk het en vertel hom dat Laingsburg gaan wegspoel.

Die kennis het die volgende dag teruggebel en gesê: “Laingsburg hét weggespoel.”

Vroeg in 1987 het hy ’n visioen gehad van ’n “minister wat hom gaan skiet”. ’n Maand later breek die skoknuus dat die lyk van die minister omgewingsake John Wiley met ’n kopwond aangetref is.

Ja, dis vir hom erg om sulke visioene te kry, erken Gerald.

Ja, dis vir hom erg om sulke visioene te kry, erken Gerald.

“Ook om die spoke permanent om jou te sien. Soms val spoke jou aan. Ek kan fisiek voel hoe hulle my slaan. Al wat jy dan kan doen, is om te bid. Toe ek jonk was, het ek baiekeer die Here gevra hoekom ek hierdie vermoë het. Dit is nie altyd maklik nie.”

Sy ma het hom lank gelede verduidelik dit is ’n Bybelse begrip dat elkeen ’n gawe het. En dié is sy gawe, moes hy aanvaar.

Sy dagboek is vandag vol bespreek met mense wat lesings wil hê om hul verlede, toekoms en huidige situasie te analiseer.

Voor elke lesing bid hy eers, sê Gerald. “Ek moet toestemming vra. Dan vra ek ook die Here om die regte woorde in my mond te lê. Alles kom van Hom af.”

Maar soms voel dit vir hom asof hy misluk, erken hy.

Gerald Burger
Foto: Fani Mahuntsi

Soos die beroepspersoon wat onlangs talle sessies met hom gehad het, maar elke keer wanneer hy uit die rehabilitasiesentrum, waar hy vir alkoholisme behandel is, ontslaan word, weer van die wa afval.

Kort voor die man homself met ’n geweer geskiet het, het Gerald aan sy vrou gesê dié geval sal met ’n selfmoord eindig.

“Ek het net nie geweet dit gaan so gou gebeur nie.”

Kan hy dan spesifieke datums voorspel? Nee, ’n mens kan nie tyd bepaal nie, antwoord Gerald. “Net God kan.”

Hy sal nooit daardie dae as honger skoolkind vergeet toe hy toebroodjies van die ander kinders gesteel het net om iets te ete te kry.

Vandag gebruik hy 60% van sy inkomste om elke maand vir 70 behoeftige kinders aan die Oos-Rand kos te koop.

“Ek voel dit is die kos wat ek destyds nie gehad het nie; daarom gee ek dit nou vir ander.”   

Sy ma was 94-jaar oud toe sy twee jaar gelede oorlede is, vertel Gerald. Sy oë raak skielik rooi toe hy aan haar dink, maar hy praat voort.

Hy onthou dat sy kort voor haar dood nog vir hom gesê het sy is so bly dat hy as swartskaap in die familie iewers gekom het . . .

Gerald gee ’n lesing vir Huisgenoot-joernalis

(Hy het geen vooraf kennis van my persoonlike lewe nie, en ek het ook niks daarvan gedurende ons onderhoud of tydens die lesing met hom gedeel nie.)

Ons sit in twee stoele oorkant mekaar in ’n groot vertrek in sy huis.

Op die tafeltjie tussen ons lê ’n kristalbal, min of meer so groot soos ’n tennisbal.

Dit is in hierdie einste vertrek waar Gerald sy kliënte van raad bedien en dis ook hier waar die grootste gedeelte van die TV-reeks Die Siener verfilm is.

Gerald vra dat ek my hande oor die bal plaas. Dan sit hy sy hande oor myne en maak sy oë toe in gebed voor hy begin praat.

Hy sê daar is ’n “virus” in my liggaam waarvoor ek twee jaar gelede behandeling ontvang het. “Maar daar is steeds stukkies van die virus oor. Jy moet teruggaan vir ’n mediese ondersoek.”

(Ek het 13 maande gelede ’n taamlik pynvolle operasie ondergaan en was ’n maand met siekverlof.)

Hy vertel hy sien baie alleenheid om my, maar net ek kan dit verander deur die verlede te verwerk en dit agter my te sit.

“Ek kan sien jy het daardie vermoë. Doen dit en ontsluit die potensiaal binne-in jou. Daar is dié jaar ’n moontlike verhouding op jou horison.”

(Wanneer ek nie werkafsprake het nie, voer ek ’n gelukkige kluisenaarsbestaan.)

Gerald voel ook daar is iets fout met my longe waaraan ek aandag moet gee.

(My pakkie sigarette is in my boonste hempsak.)

Wat gaan in sy kop aan terwyl ’n kliënt voor hom sit?

Soos alle sieners of heldersiendes wat nie van fisiese hulpmiddels gebruik maak nie luister hy na die stem in sy kop wat hom vanaf ‘n hoër dimensie adviseur wat om te sê.

Op die eenvoudigste manier kan dit dalk verduidelik word as jy voor jou koskas staan en ‘n inkopielysie in jou kop saamstel.

Jy “hoor” dan in jou gedagtes wat alles benodig word.