Die vervaardigers het pas eksklusief aan Huisgenoot bekendgemaak wie in die skoene van Don Steenkamp gaan klim. Sy naam is Alex van Dyk (16), ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Durbanville by Kaapstad. Hy het in Mei verlede jaar lof gekry vir sy rol as die gefolterde Pieter in die rolprent Die Stropers.

Brent en Alex van Dyk (Pieter) in Die Stropers. Foto: Verskaf

Hy het ook by die Cannes-rolprentfees in Frankryk 'n draai gaan maak. Die Stropers, wat op ’n plaas in die Oos-Vrystaat afspeel, was vir pryse benoem.

Nou gaan sy karakter weer op ’n plaas wees en weer speel hy ’n emosioneel uitdagende rol; dié keer die rol van die 15-jarige Don Steenkamp wat in April 2012 op sy familieplaas Naauwhoek sy ouers, Deon (44) en Christel Steenkamp (43), en sy kleinsus, Marthella (14), vermoor het.

Don is in 2014 aan dié gruweldade skuldig bevind. “Dit is onwerklik dat al dié dinge met ons as familie gebeur het. In ’n stadium het dit vir my gevoel soos ’n fliek of iets waarbuite ek staan en daarna kyk,” het Marianna Smith, suster van die vermoorde boer, destyds in ’n onderhoud gesê.

Die Stropers se première was in Mei in Cannes. Foto: Verskaf

Die skokverhaal ontvou nou wel later vanjaar op die groot doek. Die rolprentspan begin op 6 Mei op Hopefield in die Wes-Kaap verfilm “uit respek vir die inwoners van Griekwastad”, vertel een van die vervaardigers, Tim Theron.

Alex sien baie daarna uit om saam met Arnold te werk, vertel hy aan Huisgenoot. “Beslis! Ek is geweldig opgewonde om saam met hom te werk. Dit is soos ’n droom wat waar geword het. Ek het al heelwat van sy flieks gekyk, soos The Mummy, The Mummy Returns, G.I. Joe, Blood Diamond en Odysseus.  

"Ek het nooit in my wildste drome gedink ek sal eendag saam met 'n Hollywoodakteur werk nie – en nou gebeur dit oor ’n paar weke.”

  • Griekwastad se première sal na verwagting in Augustus vanjaar op die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad wees. Dit sal volgende jaar landwyd uitgereik word.