Hoewel die omstandighede rondom sy dood volgens die BBC steeds onduidelik is, is daar ‘n sterk vermoede dat dit selfdood is.

Volgens die New York Post is Jeffrey op ’n draagbaar by die Manhatten-korrektiewe sentrum uitgestoot en na ’n hospitaal in New York geneem.  

Bronne het aan die New York Times gesê dat Epstein homself gehang het. 

Die 66-jarige was juis op waarneming geplaas na aanleiding van ’n vorige soortgelyke voorval. Hy is in Julie glo bewusteloos in sy tronksel aangetref met beserings aan sy nek en is toe by ’n nabygeleë hospitaal behandel. 

Só het Huisgenoot in Julie vanjaar oor hom berig.
 

Op die oog af het die Amerikaanse multimiljoenêr ’n glansryke lewe gelei.

As beleggingsbestuurder vir die superrykes kon hy koninklikes soos prins Andrew onder sy vriende tel en daarmee spog dat bekendes soos oudpres. Bill Clinton en die gevalle akteur Kevin Spacey al saam met hom op sy eie Boeing 727 gevlieg het.

Daarby is hy die eienaar van sy eie eiland in die Maagde-eilandgroep sowel as ses luukse woonplekke oor die hele wêreld . . .

Maar mettertyd is die naam Jeffrey Epstein nie net met fabelagtige rykdom en vriende in hoë kringe verbind nie; dis ook gekoppel aan ongure bewerings dat hy jong vroue en minderjarige meisies na sy weeldewonings gelok het sodat hy en ander hulle daar seksueel kon misbruik.

Nou het die 66-jarige finansiële bestuurder se verlede hom glo ingehaal, meer as ’n dekade nadat die eerste klagtes teen hom by die polisie ingedien is.

Epstein
Jeffrey Epstein Foto: Gallo Images/Alamy

Dit het destyds daarop uitgeloop dat hy hom ná ’n omstrede pleitooreenkoms in 2008 – basies ’n raps op die vingers – as seksoortreder moes registreer.

Maar vroeër vandeesmaand het die wiele van geregtigheid begin draai en is hy eindelik van onder meer sekshandel en sameswering daartoe aangekla.

Die hofsaak volg ná ’n 18 maande lange ondersoek deur die Miami Herald waarin meer as 80 vroue beweer hulle is tussen 2001 en 2006 deur Epstein en van sy vriende en kennisse misbruik.

Die seksskandaal wat om sy kop losgebars het, herinner aan onthullings oor die Hollywood-magnaat Harvey Weinstein, waaruit die internasionale #MeToo-beweging gespruit het teen diegene in magsposisies wat ander seksueel uitbuit.

Maar die Jeffrey Epstein-sage is stellig skokkender – nie net oor die aard en omvang van sy wandade nie; ook omdat hy glo toegelaat is om so lank rekenskap daarvoor te ontduik.

Palm Beach
Epstein se herehuis in Palm Beach is agter bome en hoë heinings versteek. Foto: Gallo Images/Alamy
 Little St. James.
Een van sy wonings op sy privaat eiland, Little St. James. Mense in die omtrek noem dit “pedofieleiland”. Foto: Gallo Images/Getty Images

WIE IS JEFFREY EPSTEIN?

Die pierewaaier-finansier, wat nooit getrou het nie, het in ’n middelklasgesin in Brooklyn, New York, grootgeword. Sy pa het tuinwerk vir die stadsraad gedoen en sy ma was ’n tuisteskepper.

Epstein het blykbaar in die vroeë 1970’s wiskunde en fisika studeer, maar nooit graad gevang nie. Tog het hy sy loopbaan as ’n wiskundeonderwyser by ’n elite- privaat skool in Manhattan begin.

Sy slag met syfers het hom ’n pos by Bear Stearns besorg, destyds ’n groot Wall Street-beleggingsbank. Mettertyd het hy die geldbestuurfirma J. Epstein & Co. begin vir kliënte wat $1 miljard of meer gehad het om te belê.

Hy het hulle betaal vir masserings wat tot veel meer gelei het.

Dis nie duidelik presies hoe ryk Epstein is nie, maar hy word as ’n multimiljoenêr beskou. Toe ondersoekbeamptes die naweek van sy inhegtenisneming op 6 Julie ’n klopjag op sy woning van R778 miljoen uitvoer, het hulle glo honderde naakfoto’s van meisies in sy kluis aangetref.

Volgens hofdokumente word hy van die seksuele misbruik van “dosyne” minderjarige meisies, party so jonk as 14, aangekla. Dié dade is meestal by sy huise gepleeg.

Daar het hy hulle glo dikwels betaal vir masserings wat tot veel meer gelei het. Hy het hulle glo ook betaal om ander te werf en sy werknemers aangesê om nog meisies te lok.

Epstein het skuld op die aanklagte ontken. Toe daar tydens sy borgtogaansoek aangevoer is dat hy ’n vlugrisiko is, is die sluier oor sy rykdom gelig.

Hy besit twee privaat vliegtuie en onder meer ’n Bentley, Mercedes Benz-limousine en talle sportnutsvoertuie. Teen druktyd was dit nog nie bekend of borgtog aan hom toegestaan is nie.

Die Boeing met pels

Epstein was vroeër in die nuus oor sy Boeing 727 wat met peperduur pels versier is. Sy ses tuistes is versprei tussen Amerika, waar hy ’n beesplaas, Zorro, in Nieu-Mexiko besit, en Europa, waar hy ’n woonstel in Parys, Frankryk, het.

Sy New Yorkse huis, wat as een van die grootste privaat wonings in Manhattan beskou word, het 40 vertrekke, en selfs ’n verhitte sypaadjie.

Dié woning is, nes die herehuis wat hy reeds in 1990 in Palm Beach, Florida, gekoop het en sy privaat eiland, Little St. James, met sy wandade verbind. Mense in die omtrek het dit tot “pedofieleiland” herdoop.

DIE (EKS-)VRIEND VAN BEKENDES

Mense wat hom al ontmoet het, beskryf Epstein as sjarmant, innemend en snaaks.

Die glansnuuswebtuiste Gawker berig in Epstein se gasteboek wemel dit van bekende name – van pres. Donald Trump, sy eksvrou Ivana, hul dogter, Ivanka, en senator Ted Kennedy tot die akteurs Alec Baldwin en Dustin Hoffman, die rocker Courtney Love en die voormalige New Yorkse burgemeester en miljardêr Michael Bloomberg.

Die omstrede Saoedi-Arabiese kroonprins Mohammad bin Salman, rolprentmaker Woody Allen en kulkunstenaar David Copperfield tel ook onder Epstein se eertydse vriende en kennisse.

Trump en Epstein met meisies
Van links is Donald Trump, sy vrou, Melania, Jeffrey Epstein en sy destydse vriendin, Ghislaine Maxwell, by Trump se Mar-a-Lago-klub in 2000. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins Andrew

Hy en prins Andrew het mekaar in die 1990’s ontmoet deur Ghislaine Maxwell, ’n Britse sosiale vlinder en Epstein se destydse meisie. “Andy” was meer as een keer ’n eregas by partytjies by Epstein se Manhattan-woning.

Dié vriendskap het in 2011 by Andrew kom spook toe Virginia Roberts (nou 35) beweer Epstein het haar as 17-jarige gedwing om seksuele omgang met sommige gaste te hê.

Buckinghampaleis en prins Andrew het nooit ontken dat die prins met hom bevriend was nie, maar die mediaherrie het meegebring dat Andrew sy posisie as Britse spesiale verteenwoordiger vir wêreldhandel laat vaar het.

Donald Trump

Toe Epstein en die toekomstige Amerikaanse president so te sê bure in Florida was, het hulle dikwels dieselfde gesellighede bygewoon. Een opskop het veral opslae gemaak: ’n eksklusiewe partytjie in 1992 by Trump se Mar-a-Lago-klub in Palm Beach.

Benewens 28 skoonhede wat hy laat invlieg het om aan ’n privaat “kalendermeisie-kompetisie” deel te neem, was hy en Epstein die enigste gaste.

Die partytjiebeplanner George Houraney het later vertel hy het Trump teen Epstein gewaarsku: “Ek het gesê: ‘Kyk, Donald, ek ken Jeffrey baie goed. Ek kan nie toelaat dat hy agter jong meisies aanhardloop nie.’ Trump het gesê: ‘Ek plaas my naam hier op die spel, en sal nie ’n skandaal toelaat nie.’ ”

In 2002 het Trump aan die tydskrif New York vertel: “Ek ken Jeff al 15 jaar. Hy’s ’n fantastiese ou. Dis pret om saam met hom te kuier. Daar word selfs gesê hy hou net soveel van pragtige vroue soos ek, en dat baie van hulle aan die jonger kant is.”

Maar toe verslaggewers Trump vroeër vandeesmaand daaroor pols, was sy kommentaar: “Ons het ’n uitval gehad. Ek het 15 jaar laas met hom gepraat. Ek was nie ’n aanhanger van hom nie.”

Daarenteen het Epstein graag oor sy vriendskap met die Amerikaanse president gespog en selfs vertel hy het hom aan sy derde vrou, Melania, voorgestel.

Bill Clinton

Die voormalige Amerikaanse president het vandeesmaand in ’n verklaring gesê hy het in 2002 en ’03 vier keer in Epstein se privaat straler gevlieg vergesel deur van sy personeellede.

Hy ontken dat hy iets van Epstein se “verskriklike misdade” geweet het.

HOE HY BYNA WEGGEKOM HET

Hy het in 2005 die eerste keer wetstoepassers se aandag getrek toe ’n 14-jarige meisie hom daarvan beskuldig het dat hy haar by sy huis in Palm Beach gemolesteer het.

Uit die daaropvolgende ondersoeke het dit geblyk talle ander minderjarige meisies is na bewering deur Epstein misbruik.

Tog het die destydse staatsaanklaer in Florida, Alexander Acosta, in 2008 ’n omstrede pleitooreenkoms aan Epstein toegestaan wat kritici as die “deal of a lifetime” bestempel het.

Ondanks ’n lys beskuldigings van 53 bladsye, waarin 36 minderjariges geïdentifiseer is, het hy op net twee aanklagte – ook nie eens die heel ernstigstes nie – skuld beken.

Hy moes as seksoortreder registreer en is 18 maande tronkstraf opgelê waarvan hy net 13 maande in die privaat vleuel van ’n Palm Beach-gevangenis uitgedien het.

’n Regter het in Februarie vanjaar, ná die Miami Herald se ondersoek, beslis daardie pleitooreenkoms was onwettig.

Die beslissing het die weg gebaan vir die nuwe vervolgingsproses teen hom. Acosta moes pas weens die Epstein-storm om sy kop as Trump se arbeidsminister bedank.

As Epstein skuldig bevind word, kan hy tot 45 jaar tronkstraf opgelê word. Vir sy slagoffers sal geregtigheid dan eindelik seëvier – al moes hulle jare lank daarvoor wag.

Bronne: CNN, MiamiHerald.com, APNews.com, NYTimes.com, NYMag.com, VanityFair.com, Documentcloud.org, Forbes.com, Guardian.com, USAToday.com 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.