Dis vroeg in die 1990’s en ’n groep Amerikaanse tieners bespreek hul toekomsdrome. Een van hulle, lank en atleties, draai na sy vriend en sê: “Ek wil die wêreld aanraak.”

Sy naam was George Floyd, destyds net 17 jaar oud, en hy het gepraat van naam maak as voetbalster.

George Floyd as voetbalster.
George Floyd as voetbalster.

Talentvol was hy gewis, want hy het ’n universiteitsbeurs losgespeel. Sodoende het George die eerste in sy familie geword wat ná skool verder studeer. Maar hy kon nooit voorsien dat hy 30 jaar later die wêreld weens sy dood sou aanraak nie.

Die skokkende video van ’n pleitende George met ’n polisieman se knie op sy nek het die wêreld geruk. Sy woorde “I can’t breathe” en “Mama, Mama” het ’n vlaag van openbare protes teen rassisme en eise om ware verandering ontketen.

Sy naam sal vir altyd vereenselwig word met die soeke na maatskaplike geregtigheid onder die #BlackLivesMatter-beweging. Soos sy broer Philonise Floyd op ’n roudiens gesê het: “Konings en koninginne weet nou wie my broer is.”

Aanvanklik het die polisie en woedende betogers ná George se dood op 25 Mei in Minneapolis in sommige Amerikaanse stede gewelddadig gebots. Maar in ander stede het polisiemanne eerbiedig op een knie voor juigende aktiviste neergesak om hul respek en steun vir #BlackLivesMatter te toon. En gou het die protes na Brittanje, Europa, Nieu-Seeland en Suid-Afrika oorgespoel.

Die beskuldigdes: Dié vier polisiemanne is ná die voorval in hegtenis geneem. Van links is Derek Chauvin, wat van moord aangekla word, en Tou Thao, J. Alexander Kueng en Thomas Lane, wat van medepligtigheid aangekla word.

En in party Amerikaanse state en polisiedepartemente is beleidsveranderings ten opsigte van wetstoepassing reeds aangebring. Vir Philonise is dit ’n mate van vertroosting. “Ek wou George nie net op ’n T-hemp sien soos die ander ouens nie,” sê hy met verwysing na ander swart Amerikaners wat ook weens polisievergrype gesterf het. “Ek wou hê iets moet daaruit kom.”

Die staat Kalifornië het die polisietaktiek om verdagtes met ’n knie op die nek te bedwing verbied. In Kansas City, Missouri, het die burgemeester ingestem dat elke polisieskietvoorval deur buitestanders soos die FBI, die Amerikaanse federale speurdiens, ondersoek word.

In Kentucky is daar nou strenger vereistes vir die uitreik van lasbriewe wat polisiebeamptes toelaat om by huise in te bars. In die Amerikaanse Kongres gaan Demokratiese lede die Wet op Geregtigheid in Polisiëring indien. Dit sal die polisie verbied om wurggrepe te gebruik en ’n nasionale databasis vir polisievergrype skep.

En in Minneapolis, waar een polisieman van George se moord aangekla is en nog drie van medepligtigheid, is daar ook verandering.

Die polisiehoof, Medaria Arradondo, het aangekondig dat die stad se polisiedepartement hom onttrek aan ooreenkomste met polisievakbonde as ’n eerste stap om wetstoepassing te hervorm. Die ooreenkomste met vakbonde beperk die departement se magte om oortreders af te dank.

“Ras is onlosmaaklik deel van die Amerikaanse polisiestelsel,” het Arradondo gesê. “Ons beroep kan nie vorentoe beweeg as ons dit nie trompop aanpak nie. Die geskiedenis word nou geskryf, en ek is vasbeslote dat ons aan die regte kant van die geskiedenis sal wees.”

Gianna Floyd (6), George se dogter, het haar pa se nalatenskap opgesom terwyl sy op die skouers van die voormalige basketbalspeler Stephen Jackson gesit het: “Pappa het die wêreld verander.”

George het in ’n arm buurt bekend as die Third Ward in Houston, Texas, grootgeword. “As jy swart was, was jy arm. Dis net hoe dit was,” het ’n vriend uit sy kinderjare aan die koerant The Telegraph gesê. Hy was die oudste van vyf kinders wat deur hul enkelma, Larcenia, oftewel “Miss Cissy”, grootgemaak is. Sy het by ’n kitskosrestaurant gewerk.

“Ons sou daarheen gaan sodat hy kon seker maak sy is oukei,” onthou nog ’n vriend, Herbert Mouton. Op sy broer se roudiens het Philonise vertel hulle het piesang-en-mayonnaise-toebroodjies geëet wanneer die koskaste leeg was. “Ons het nie veel gehad nie,” het nog ’n broer, Rodney, beaam. “Maar ons het in ’n huis vol liefde grootgeword.”

’n Familie in rou: George Floyd se dogter, Gianna, saam met haar ma, Roxie Washington, by ’n gedenkdiens in Texas.

George was ’n lang kind; hy was oor die 1,83 m teen die tyd dat hy hoërskool toe is. Hy het die bynaam Big Floyd gekry en het in voet- en basketbal uitgeblink. Hy het sy naskoolse studie aan die Texas A&M-universiteit opgeskop en ’n rapper geword vir ’n hip-hop-groep, Screwed Up Click.

In die jare daarna het hy met die gereg begin bots en eindelik vier jaar tronkstraf vir gewapende roof en huisbraak gekry. Toe hy in 2013 parool kry, was hy vasbeslote om sy lewe reg te ruk. Hy het in 2014 na Minneapolis verhuis en twee werke tegelyk gedoen: bedags ’n vragmotorbestuurder en snags ’n veiligheidswag by ’n Latyns-Amerikaanse restaurant.

’n Tannie van George, Angela Harrelson, hou ’n foto vas van hom as baba.

“George was dol oor drukkies van gereelde restaurantklante,” het iemand op Facebook geskryf. “Hy was vies as jy hom nie groet nie, want hy het eerlikwaar daarvan gehou om almal te sien en te kyk hoe almal pret het.” Toe hy uit die tronk kom, is George “as ’n gemeenskap-ikoon gesien”, vertel sy vriendin Tiffany Cofield. “Hy was ’n rolmodel in die buurt. Hy het altyd iets positiefs gehad om te sê. Hy het baie tyd daaraan gewy om iets terug te gee.”

’n Ruk lank het George ook as ’n veiligheidswag gewerk by die Heilsleër se sentrum vir haweloses in Minneapolis, waar hy as “iemand met ’n gelykmatige geaardheid” beskou is. “Dit verg ’n spesiale mens om in skuilings te werk,” het Brian Molohon van die Heilsleër aan die koerant The New York Times gesê. “Elke dag word jy met hartseer en gebrokenheid gekonfronteer.”

’n Emosionele Philonise Floyd, een van George se broers.

Maar dit was aan sy ma wat hy die meeste toegewy was. Tiffany onthou George het Miss Cissy liefdevol gehelp om fisioterapie te doen nadat sy jare tevore ’n beroerte gehad het. Hy het met haar in haar rolstoel gedans. “Hy was baie teer met sy ma,” sê Tiffany. “Hy het geweet hy is sterk. As hy ooit wou, kon hy waarskynlik ernstige skade aangerig het. Maar dit was nie sy houding nie. Dit was nie sy gees nie.”

George was gebroke toe sy ma, wie se naam op sy maag getatoeëer was, twee jaar gelede gesterf het. “Hy het nooit werklik oor haar dood gekom nie,” sê ’n vriend. “Daardie vrou het vir hom die wêreld beteken.”

’n Emosionele roudiens: Die kisdraers met George se kis tydens die diens. Die oudbokser Floyd Mayweather het die koste van die rou­diens gedek. Die diens is regstreeks op televisie uitgesaai.

En die hele wêreld het hom na haar hoor roep terwyl ’n polisieman se knie op sy nek die lewe uit hom gedruk het. George se vermeende “misdaad” was dat hy met ’n vals geldnoot vir ’n pakkie sigarette wou betaal.

Wat volgende met hom gebeur het, was een van die grootste aanklagte teen wetstoepassing en rassegeregtigheid in die onlangse geskiedenis van Amerika. Wat dit nog skreiender maak, is dat die vier polisielede wat hom op die teer neergegooi het, voor een sy knie op George se nek geplaas en met sy volle gewig daar gehou het, duidelik nie omgegee het dat omstanders hul aksies op selfone vaslê nie. Tog het George se dood mense van alle rasse verenig.

“Ek het nooit gedink ek sal jong wittes sien betoog soos hulle nou betoog nie,” het die menseregteaktivis Al Sharpton op George se roudiens gesê. Dit is regstreeks op televisie uitgesaai.

“Wêreldwyd sien ek hoe standbeelde van slawemeesters deur die kleinkinders van slawemeesters omgetrek word. Ek sien wit mense wat sê swart lewens maak saak. God gebruik altyd onwaarskynlike mense om sy wil te doen.”

Joe Biden, die Demokratiese kandidaat in November se Amerikaanse presidentsverkiesing, sê “die tyd vir rasgeregtigheid is nou . . . Wanneer daar geregtigheid vir George Floyd is, sal ons werklik op pad na rasgeregtigheid in Amerika wees. “En dan, Gianna, sal jou pappa die wêreld verander het – nes jy gesê het. 

BRONNE: TODAY.COM, PEOPLE.COM, TELEGRAPH.CO.UK, NEWS.SKY.COM, NYTIMES.COM, ALJAZEERA.COM
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/REUTERS, BEEM/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA