Dit was die skandaligste affair van die 20ste eeu. Geskiedkundiges sukkel al jare lank om te verstaan wat koning Edward VIII besiel het om die troon prys te gee om met Wallis Simpson, ’n valerige Amerikaanse vrou, te trou.

Net voor middernag op 20 Januarie 1936 het koning George V gesterf. Hy het skaars sy laaste asem uitgeblaas toe sy vrou, koningin Mary, haar oudste seun se hand neem en dit soen. Edward se broer, Albert, die hertog van Kent, het haar voorbeeld gevolg.

 ’n Gesinsfoto wat in 1935 geneem is. Edward, toe
’n Gesinsfoto wat in 1935 geneem is. Edward, toe die prins van Wallis (heel links), en sy broers, (van links) prins Henry, prins Albert (wat hom as koning opgevolg het ná sy abdikasie) en prins George, sy suster, prinses Mary (links voor), en ouers, koning George V (middel) en koningin Mary. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al het hy besef hierdie vorm van eer­betoon kom hom toe, was Edward ’n oomblik lank verleë.

“Hierdie twee spontane gebare het my herinner ek is nou die koning,” het hy later vertel.

'Dis alles verby'

Hy het begin huil.

Sy skielike onwaardige uitbarsting het sy familie verstom. Hy het sy ma huilend bly vasklou. Het hy oor sy pa getreur of oor die pynlike werklikheid van sy nuwe posisie?

Edward het kort daarna vir Wallis Simpson, sy jare lange geheime minnares, gebel.

“Dis alles verby,” het hy gesê.

“Ek kon aan niks beters dink om te sê as: ‘Ek is baie jammer’ nie,” het Wallis later vertel.

Die nuwe koning het dadelik die tradisie verbreek deur Londen toe te vlieg – die eerste keer dat ’n Britse ­monarg in ’n vliegtuig gereis het – en het howelinge verder verbaas deur vanuit ’n venster in die St. James-paleis na sy eie proklamasieseremonie te kyk.

Wallis en haar man, Ernest, het agter hom gestaan. Terwyl hy die geskiedkundige toneel met stafdraers en trompetspelers in uniform bekyk het, is Edward “deur botsende emosies oorweldig”.

“Daar was ’n flikkering van trots om koning-keiser van die groot en liberale Statebond te word wat ek so goed geken het,” het hy later erken.

“Terselfdertyd het dit gevoel of my verhouding met Wallis skielik ’n betekenisvoller fase binne­gegaan het.”

Met die wegstap het sy na hom gedraai.

“Dit was alles baie roerend,” het sy gesê.

“Maar dit het my ook laat besef hoe anders jou lewe nou gaan wees.”

Edward Windsor was op daardie oomblik die wêreld se hubaarste vrygesel. Met sy goue hare en blou oë was hy beslis die toonbeeld van die sprokiesprins.

Maar hy het net oë vir een vrou gehad. Nadat hy en Wallis mekaar in 1931 ontmoet het, was hy gou smoorverlief – en die feit dat sy reeds getroud was en al voorheen geskei het, het hom nie afgeskrik nie.

Maar wat het hom na dié ietwat vaal Amerikaanse vrou aangetrek?

Hy was nie opgewasse tussen die lakens nie.

Wallis en Edward was albei in ’n mate onseker oor hul seksuele identiteit. En toe hulle dit met mekaar deel, het dit ’n sterk geheime band tussen hulle help smee.

Cynthia Jebb, wie se man tussen 1954 en 1960 die ambassadeur in Frankryk was, het die egpaar tydens hul dekade lange ballingskap in Parys geken. Sy het aan die koninklike biograaf Hugo Vickers vertel die prins het seksuele probleme gehad.

“Hy was nie opgewasse tussen die lakens nie.”

Maar Wallis het glo geweet hoe om sy probleme te hanteer.

Geheime word blootgelê

Sy het ook geen ooglid verroer toe sy die eerste keer by hom in Fort Belvedere, sy plattelandse woning in Surrey, kuier en sien hoe hy op ’n rusbank sit en naaldwerk doen nie. Hy het verduidelik hy het as jong seun by sy ma leer hekel.

“Dis my geheime plesiertjie,” het hy gesê.

Ook Wallis het ’n geheim bewaar wat die wese van haar vroulikheid geraak het. Sy was onvrugbaar en het nooit ge­menstrueer nie. Daar is al bespiegel sy het dalk “seksuele-ontwikkelingsteuring” gehad, ’n moderne beskrywing vir ’n wye reeks seldsame genetiese toestande.

Hoe dit ook al sy, sy was beslis nie die “seksbom” of “slet” waarvoor talle haar uitgekryt het nie.

Sy het vir haar vriend Herman Rogers, wat met haar en Edward se troue in 1937 saam met haar kansel toe gestap het, vertel sy “het nooit seks met enige van haar twee mans gehad nie”. Maar sy het duidelik verborge ­sjarme gehad, en vir Edward was dit onweerstaanbaar.

Wallis en haar tweede man, Ernest Simpson. Foto: G
Wallis en haar tweede man, Ernest Simpson. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op 23 Januarie 1936 het hy saam met sy broers agter die kanonwa aangestap wat hul pa se liggaam na die Westminstersaal geneem het waar hy in staatsie sou lê. Hy het verlore en verward gelyk, verdwerg in ’n swaar, lang oorjas.

Toe Edward VIII die troon bestyg, is hy met geesdrif en hoop begroet.

Sy bewonderende onderdane het geen benul gehad dat hy ál meer afhanklik van mev. Simpson word nie, want die Britse media het ingestem om hul verhouding te ver­swyg. Gerugte het wel oorsee versprei toe die nuwe koning besluit om ’n vakansievaart op die Middellandse See te onderneem. Wallis het natuurlik saamgegaan.

Die seiljagvaart was groot nuus in die buiteland. Vanweë die koerantverslag­gewing het die laggende, skreeuende skare net soveel in Wallis as die koning belanggestel; geen skare in Engeland sou haar in daardie stadium herken het nie.

By elke hawe wat hulle aangedoen het, is hulle uitbundig verwelkom. Wallis en Edward, meegevoer deur die euforie, is deur die duidelike blyke van goedkeuring vir hul sprokiesromanse aangevuur. Oral is hulle afgeneem.

Die onvergeetlikste foto is waarskynlik van die koninklike paartjie wat in ’n bootjie klim. Wallis se hand rus besitlik op die koning se voorarm – ’n verstommende oortreding van protokol – terwyl hy aandagtig na haar oorbuig, elke sening in sy lyf die ene toewyding.

Maar die werklikheid van hul situasie het ná die vakansie tot die paartjie deurgedring.

Die foto wat ’n storm ontketen het: Edward en Wall
Die foto wat ’n storm ontketen het: Edward en Wallis terwyl hulle met vakansie in Joego-Slawië was. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die drie pilare van die Britse establishment – die Kerk, parlement en die howelinge by die paleis – het dit duidelik gestel hulle sou nooit die koning se verhouding met ’n geskeide Amerikaanse vrou aanvaar nie.

Wallis het op die koning se versoek met ’n skeisaak begin. In September het sy paniekerig daaroor geraak om haar huwelik te beëindig. Sy het in ’n brief aan Edward verduidelik sy wil na Ernest teruggaan omdat hul verhouding stabieler is.

“Ons sal net ’n katastrofe veroorsaak as ons saam is,” het sy voorspel.

Maar die koning wou niks weet nie.

Hy het daarop aangedring dat sy by hom in Balmoral, die koninklike landgoed in die Skotse Hoogland, aansluit.

Edward is gevra om die Aberdeen-­hospitaal te open, maar het geweier en gesê hy rou nog oor sy pa.

Op 23 September het die koning egter, pleks daarvan dat hy sy amptelike verpligtings nakom, self gery om Wallis in Aberdeen te ontvang waar sy van die trein sou afklim. Kwalik vermom het hy op dieselfde tyd by die stasie aangekom as sy broer, wat die hospitaal in sy plek gaan open het.

Later die dag het die aandkoerant in Aberdeen twee foto’s op die voorblad gepubliseer: een van die Yorks wat die hospitaal open; die ander van die koning met die onderskrif: “Sy Majesteit in Aberdeen. Verrassings­besoek in motor om gaste te ontvang.”

Dit het Edward onherstelbare skade berokken.

Dinge is in November op die spits gedryf toe sy ­privaat sekretaris, Alec Hardinge, hom in ’n brief waarsku dat die premier, Stanley Baldwin, en senior lede van die regering daardie dag vergader om die regering se moontlike optrede te bespreek in die lig van die situasie oor die koning se verhouding met Wallis.

Alec het Edward gesmeek om Wallis oorsee te stuur, maar hy het geweier. Pleks daarvan het hy Stanley ontbied na ?die Buckinghampaleis, waar hy ver­duidelik het ’n huwelik met Wallis het noodsaaklik vir hom geword, of dit nou as koning of as man is.

Al kon niemand dit toe insien nie, was Edward se begeerte om haar sy vrou te maak eerder as sy minnares inderdaad eerbaar. Dit het hom dronkgeslaan dat dit vir die establishment aanvaarbaarder kon wees dat hy as ’n egbreker bekend is liewer as om openlik te erken sy is die vrou wat hy liefhet en hom toe te laat om hom in die openbaar aan haar toe te wy.

Al was sy denke dikwels beneweld, was Edward sy tyd vooruit wat sy sienings oor die huwelik en egskeiding betref.

Ná sy ontmoeting met Stanley het Edward die nog moeiliker taak gehad om sy ma van sy trouplanne te vertel. Vir koningin Mary was die idee dat haar seun sy plig as koning sou ontduik afgryslik.

Hoewel raadgewers Edward probeer oorreed het om tot ná sy kroning – dit sou in die volgende jaar se lente wees – te wag voor hy die kwessie van ’n huwelik aanroer, het hy geweier om na hulle te luister.

“Ongeag wat dit my persoonlik sou kos,” het hy later gesê, “was ek vas­beslote om – voor ek ’n kroning wou oorweeg – eers eens en vir altyd die kwessie oor my reg om te trou op te klaar.”

Stanley het op 2 Desember vir die ­koning gesê die regering sal nooit sy huwelik met Wallis goedkeur nie – selfs al word dit so gedoen dat sy nooit enige ­titel kry nie. Al het Wallis oor en oor herhaal dat abdikasie ondenkbaar is, het Edward geweier om bes te gee.

Hulle het die volgende oggend wakker geword te midde van ’n publisiteitstorm met koerante wat uitbasuin dat die koning se romanse Brittanje in ’n “grondwetlike krisis” gedompel het.

Toe die bom bars, het Wallis die wyse besluit geneem om die land te verlaat – sy het by vriende in die suide van Frankryk gaan bly.

Die koningsgesin was allesbehalwe simpatiek teenoor haar, en veral haar twee vurigste teenstanders, koningin Mary en die hertogin van York (Elizabeth, die latere koninginmoeder), was oortuig sy het Edward gebreinspoel en dat sy obsessie hom tydelik van sy sinne beroof het.

Dit was die eerste keer in die Britse geskiedenis dat daar vrywilliglik van die kroon afstand gedoen is.

Op 11 Desember is Sy Majesteit se Verklaring van die Abdikasiewet 1936 in die parlement deurgevoer. Daarvolgens is sy broer, ­Albert, as die troonopvolger aangewys; hy sou as koning George VI gekroon word.

Met sy lot verseël, het Edward sy tasse gepak en reggemaak om die land te verlaat.

Toe Wallis hoor hy wil in ’n hotel buite Zürich gaan bly, was sy hoogs ontsteld.

“Jy sal geen privaatheid hê nie. Jy sal tot die dood toe agtervolg word,” het sy vir hom gesê.

Dit was ironies dat dit vir Edward onmoontlik was om na Wallis te gaan – die vrou vir wie hy alles opgeoffer het – tot haar skeisaak afgehandel is. Omdat hy dit bekendgemaak het dat hy met haar wil trou, was dit volgens die argaïese wette van destyds noodsaaklik dat hulle van mekaar af wegbly ingeval dit ’n uitwerking op haar skeisaak sou hê.

Maar Wallis was vasbeslote dat hy nie alleen in ’n hotel gekluister moes wees nie en het gereël dat hy by vriende in hul kasteel in Schloss Enzesfeld naby Wene, Oostenryk, bly.

Voor hy sy geboorteland verlaat het, het Edward hom vir die uitsending van sy afskeidsboodskap voorberei.

Vir party parlementslede in Westminster het dit glad nie aangestaan dat die koning ’n epiloog vir die drama lewer nie. Koningin Mary het ook haar seun probeer afraai, maar hy was vasbeslote om te praat.

Edward het op 11 Desember om 22:00 sy laaste toespraak aan die nasie by die Windsorkasteel gelewer.

“Ek het hierdie besluit, die belangrikste een van my lewe, geneem op grond van ’n enkele gedagte oor wat op die ou end vir almal die beste sou wees,” het hy gesê.

Ná ’n afskeidsdrankie saam met sy sibbes het hy teen middernag vertrek.

Edward se abdikasiebrief. Foto: Gallo Images/Getty
Edward se abdikasiebrief. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy regsadviseur en vriend, sir Walter Monckton, het later vertel toe Edward oor sy broer se hand buig, het hy gesê: “God seën jou, sir. Ek hoop jy sal geluk­kiger as jou voorganger wees.”

En met daardie laaste woorde het hy die nag in verdwyn.

Die nuwe koning, George VI, bleek en afgerem, het nege uur ná sy broer se vertrek aangekondig sy eerste taak sou wees om ’n hertogdom aan sy broer toe te ken.

Al is Windsor sedert 1917 die familienaam van die regerende koningshuis van die Verenigde Koninkryk, was daar nog nooit ’n Windsor-hertogdom nie.

In die maande daarna het Edward ?se gemoedstemming gewissel van uitermatige vreugde by die gedagte aan sy ?huwelik met Wallis tot uiterse selfbejammering. Namate die skreiende werklikheid van sy nuwe situasie tot hom deurgedring het – dat hy ’n uitgeworpene van sy familie en land was – was hy ?tot woedeuitbarstings en bitterheid ­geneig.

Edward het blykbaar nooit besef abdikasie sou permanente ballingskap beteken nie.

“Mense kan sê wat hulle wil, of hulle dit goedkeur of afkeur, ek gee nie om nie, maar een ding is seker: Ek het te goeder trou opgetree. En ek is bleddie sleg behandel,” het hy later teenoor die koninklike biograaf James Pope-Hennessy gekla.

Omdat Edward nog baie gewild was onder sy voormalige onderdane, het ?George VI en sy howelinge bedreig gevoel deur sy moontlike terugkeer.

Owen Morshead, die koninklike bi­bliotekaris by die Windsorkasteel, het Kersfees 1936 saam met die nuwe koning en koningin by Sandringham deur­gebring. Hy onthou die “enigste onderwerp van bespreking was die nuwe hertog van Windsor”.

Al het die koningin sy “unieke talente” besing, was sy bekommerd, want dit “sou gevaarlik wees om so ’n magtige en magnetiese persoonlikheid te hê wat rondhang en niks doen nie”.

“Jy sien, jy kan nie twee konings hê nie,” het koningin Elizabeth, George se vrou en die ma van Elizabeth en Margaret, jare later verduidelik.


Edward en Wallis se besluit om Duitsland in 1937 a
Edward en Wallis se besluit om Duitsland in 1937 as gaste van Adolf Hitler te besoek het tot gissings gelei dat hulle die Nazi’s simpatiek gesind was. Foto: Gallo Images/Getty Images


Edward het sy broer oorval met telefoonoproepe, ongevraagde raad aangebied, hom lastig geval vir geld en gedurig gepleit Wallis moet in die koninklike kring aanvaar word. Maar ­koningin Mary en Elizabeth het met die howelinge se steun ’n senuagtige George oorreed dat dit verder tot oneer van die monargie sou strek as hy Wallis as ’n familielid sou erken.

Op die ou end het hy opgehou om sy broer se telefoonoproepe te aanvaar. Ná ’n gekibbel het die koning ingestem dat die hertog ’n jaarlikse toelae van £25 000 (’n stewige bedraggie in daardie dae) sou ontvang op voorwaarde dat hy Brittanje nie sonder die koning se toestemming mag besoek nie.

Wallis se egskeiding is eindelik op 3 Mei toegestaan, en sy en Edward is herenig. Vriende het vir hulle gratis verblyf met ’n volle personeel by die Château de Candé in die Touraine-­streek van Frankryk aangebied.


Die paar is in 1937 op ’n privaat plegtigheid in
Die paar is in 1937 op ’n privaat plegtigheid in Frankryk getroud. Foto: Gallo Images/Getty Images


Daar het Edward net meer as ’n week later aangekondig hy gaan na die regstreekse BBC-uitsending luister van sy broer se kroning.

Terwyl hy luister, het hy vir Wallis ’n blou trui gebrei. Sy het later onthou hy het tydens die seremonie na die kaggel gestaar.

Die kroning van Edward se broer koning George VI i
Die kroning van Edward se broer koning George VI in die Westminsterabdy in 1937. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die woorde by die diens het soos ’n oorweldigende golf oor my ­gespoel,” het sy gesê.

“Ek het elke gedagte hard probeer onderdruk, maar die prentjie in my kop van wat kon en moes gewees het, het heeltyd bly vorm, verbrokkel en weer in my kop gevorm.”

Edward het later haar vrese probeer besweer.

“Jy moet oor niks spyt wees nie,” het hy vir haar gesê. “Ek is nie.”

Edward en Wallis se begin en einde
  • Die paartjie is in Junie 1937 tydens ’n privaat plegtigheid in Frankryk ge­troud.
  • Met koning George VI se dood in 1952 is Edward toegelaat om terug te keer vir die begrafnis, maar dis duidelik gestel sy vrou is nie welkom nie.
  • Hulle het die res van hul dae in Parys geslyt.
  • Edward (77) is in 1972 aan keelkanker oorlede.
  • Wallis (89) is 14 jaar ?later dood en is langs hom in die koninklike begraafplaas by Frogmore naby die Windsorkasteel begrawe.
’n Geredigeerde uittreksel uit Untitled: The Real
’n Geredigeerde uittreksel uit Untitled: The Real Wallis Simpson, Duchess of Windsor deur Anna Pasternak (William Collins).

Die boek Untitled: The Real Wallis Simpson, Duchess of Windsor deur Anna Pasternak is beskikbaar by takealot.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.