Die sakeman Adar Poonawalla is die hoof van die ma
Die sakeman Adar Poonawalla is die hoof van die maatskappy Serum Institute of India – een van die wêreld se grootste entstofvervaardigers. Foto: Gallo Images/Getty Images

Teen die begin van 2020 was Adar Poonawalla se maatskappy Serum Institute of India die grootste entstofvervaardiger ter wêreld wat volume betref.

By sy moderne kampus van 40 ha in die stad Pune, 150 km oos van Moembai, het dit jaarliks 1,5 miljard dosisse entstowwe teen siektes soos polio, tetanus, witseerkeel en hepatitis B vervaardig.

Sowat twee derdes van alle kinders op aarde is met een of meer van hul produkte ingeënt. Op 39 was Adar inderdaad die “entstofprins” (sy pa was bekend as die koning) nie net van Indië nie; ook van die wêreld, met ’n stralerjakkerleefstyl en ’n glansryke vrou daarby. En toe kom die coronaviruspandemie.

“My onmiddellike reaksie was dat ons op ’n manier ’n beduidende en deurslaggewende rol moes speel en ons vermoë moes gebruik om entstowwe aan die wêreld beskikbaar te stel,” sê Adar (40) vir my oor Zoom. Hy sit in ’n luukse wit leerstoel in ’n uitgediende Airbus A320, wat hy in ’n deftige kantoor met ’n sitkamer, raadsaal en slaapkamer omskep het.

Hier het hy onlangs gasheer gespeel vir Indië se premier, Narendra Modi, en ’n virtuele toespraak vir die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gelewer.

Hy het nie gewag dat entstowwe ontwikkel word nie. Pleks daarvan het hy sy vervaardigingsgeriewe drasties uitgebrei sodat dit gereed sou wees sodra ’n entstof goedgekeur is.

“Die alternatief was om net ses maande te wag om te kyk watter entstowwe werk en om dan in kapasiteit te belê,” sê hy. “Talle lewens sou verlore gegaan het.”

Hy het sowat R5,6 miljard van sy maatskappy se geld belê, en nog R6,3 miljard van die Bill en Melinda Gates-­stigting, om Serum se vervaardigingskapasiteit van 1,5 miljard tot 2,5 miljard dosisse per jaar te verhoog.

Hy het reusagtige 4 m hoë 4 000 L-bioreaktore teen sowat R31,5 miljoen elk uit Europa ingevoer en ook masjiene wat 500 glasflessies per minuut kan vul. Hy het sy arbeidsmag van 6 000 met 700 nuwe rekrute versterk.

En tydens die wêreldwye inperking verlede April, lank voor hy geweet het of en wanneer ’n entstof gereed sou wees, het hy ingestem om 1 miljard dosisse te vervaardig van waarmee die navorsing­span van die Universiteit van Oxford-­AstraZeneca ook al vorendag sou kom.

“Dit was ’n groot waagstuk – groot, groot, groot . . . Mense het gesê ek is mal of dom om op daardie tydstip so ’n groot kans te waag,” vertel Adar.

Selfs nadat entstowwe getoets is, is die kans dat hulle gelisensieer word net meer as 30%, sê hy. Om sy risiko te verminder, het hy soortgelyke ooreenkomste met drie ander vervaardigers van covid-­19-entstowwe aangegaan: Novavax, SpyBiotech en Codagenix.

Die sakeman Adar Poonawalla is die hoof van die ma
Die sakeman Adar Poonawalla is die hoof van die maatskappy Serum Institute of India – een van die wêreld se grootste entstofvervaardigers. Die maatskappy poog om teen dié tyd volgende jaar die helfte van die planeet van ’n covid-entstof te voorsien.Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het slapelose nagte gehad terwyl die Oxford-span hul ontwykende doel probeer bereik het.

“Ek weet nie hoeveel hare ek verloor het nie – waarskynlik meer as in die afgelope vier jaar,” sê hy met ’n laggie.

Tog het hy verlede September nog ’n groot kans gewaag toe die Oxford-­entstof nog in ’n vroeë stadium was. Hy het dit begin vervaardig in die hoop dat dit gelisensieer sou word en het reeds minstens 50 miljoen dosisse opgegaar.

Sy waagstuk het gelukkig vrugte afgewerp. Dis reeds goedgekeur en word nou in lande reg oor die wêreld toegedien.

Brittanje het aan die begin van Desember begin met hul inentingsprogram met Oxford/AstraZeneca-entstowwe wat in Nederland en Duitsland vervaardig is.

Suid-Afrikaners het ’n sug van ver­ligting geslaak oor die aankondiging dat die regering 1,5 miljoen dosisse van die spelveranderende entstof van die Serum Institute of India verkry het en hoop om teen Februarie gesondheidswerkers in die voorste linie (sowat 1,2 miljoen mense) in te ent – ’n groot tree vorentoe in ons stryd teen die virus.

Dis dalk 90% doeltreffend. Maar 90% van die wêreld sal dit nie kan gebruik nie weens die prys en omdat dit teen -70 °C geberg moet word.

Intussen gaan Adar voort met sy plan om 100 miljoen kosbare dosisse per maand te vervaardig in ’n poging om “die virus uit te wis”.

Hy hoop ook om die Novavax-­entstof in Maart te begin vervaardig en die ander twee teen die einde van 2021.
Dit pla hom nie dat die Pfizer-entstof eerste goedgekeur is nie.

“Hulle kan ’n goeie entstof hê,” sê hy. “En dis dalk 90% doeltreffend. Maar 90% van die wêreld sal dit nie kan gebruik nie weens die prys en omdat dit teen -70 °C geberg moet word.”

Daarteenoor is die Oxford-entstof maklik om te berg en te versprei – en goedkoop. Hy het met AstraZeneca ooreengekom om dit te vervaardig vir 67 ontwikkelende lande in die wêreldwye alliansie vir in­enting en immunisering (Gavi), waaronder Indië en die grootste deel van Afrika.

Sy algehele ambisie is verstommend – om covid-19-entstowwe sonder versuim aan die helfte van die wêreld se 7,5 miljard mense te lewer.

“As jy dié tyd volgende jaar met my praat, sal ons waarskynlik al die mikpunt bereik het of op pad daarheen wees,” sê hy.

Hy hou vol sy grootste motivering is nie om geld te maak nie, maar om lewens te red. En dis nie net beeldpoetspraatjies nie, voeg hy by. Vir die duur van die pandemie sal die Serum Institute die AstraZeneca-entstof meestal teen sowat R45 per dosis verkoop, wat nouliks die koste sal dek.

Vir maksimum doeltreffendheid be­nodig elke mens wat ingeënt word twee dosisse wat tussen vier en 12 weke uitmekaar toegedien word. Om in die vraag te voorsien, moes Adar die vervaardiging van ander soorte entstowwe vir Europa en Amerika op­skort, wat hy teen tot R450 per dosis sou kon verkoop het.

“Jy kan die opoffering sien,” sê die man wat hoop om die mensdom van die ellende van die pandemie te verlos.

Die opkoms van die Serum Institute of India is ’n merkwaardige verhaal van visie, ondernemingsgees en van die bordjies verhang. In die 19de eeu het ’n verlangse voorvader van Adar as “biljartmerker” in ’n Britse offisiersklub in Poona, soos Pune in die koloniale tyd bekend was, gewerk. Hy het balle herwin, die telling gehou en glase volgemaak.

Hy het danksy die kontakte wat hy onder koloniale administrateurs opgebou het boukontrakte gekry en eindelik so ’n groot grondeienaar geword dat mense hom “Poonawalla” genoem het – die man van Poona.

Adar Poonawalla het geen idee of die verhaal waar is of nie. Sy voorouers het beslis eiendom besit, maar sy oupa was een van 14 sibbes, en sy pa, Cyrus, het net 40 ha geërf. Dit het hy vir die teel van perde en perdewedrenne gebruik.

Sy pa het nie veel van ’n toekoms vir die stoetplaas in die besonder, en vir perde­wedrenne oor die algemeen, in Indië ná onafhanklikheid gesien nie. Vir ’n ekstra inkomste het hy perde aan ’n regeringsinstituut in Moembai begin verkoop. Daar is hul bloedserum gebruik om ’n teenmiddel vir tetanus en ’n teengif vir slangbyte te maak.

Cyrus het toe besluit om “hoër teen die waardeketting te vorder”, sê Adar. “Hy het gesê: ‘Waarom moet ons die perde aan hulle verkoop? Waarom doen ons dit nie self nie?’ ”

Sy pa het in 1966 die Serum Institute gestig in ’n tyd toe die meeste entstowwe uit die buiteland ingevoer en hopeloos te duur vir honderdmiljoene doodgewone Indiërs was. In dié tyd het talle nuwe entstowwe beskikbaar geraak en die onderneming het floreer.

Cyrus Poonawalla (76) is nou die sesde rykste man in Indië met ’n fortuin van sowat R180 miljard, kort agter die Hinduja-broers, en hy het die staal­magnaat Lakshmi Mittal verbygesteek.

Teen die 1990’s was hy ryk genoeg om sy enigste seun na die St Edmund’s-skool in Canterbury, Engeland, te stuur. Daar was die jong Adar twee jaar lank tenniskaptein, maar sy punte was gemiddeld. Daarna het hy sy vriende na die Universiteit van Westminster gevolg waar hy ’n tweedeklassakegraad behaal het.

“Ek was nooit so goed met akademie nie,” erken hy, maar hy het gou gewys hy het ’n aansienlike sakevernuf.

Met sy terugkeer na Indië in 2001 het Adar by die Serum Institute se verkoopspan aangesluit en in die land rondgereis om die sakebedrywighede te leer ken. Daarna het hy ’n internasionale mark begin ontwikkel, die prys van entstowwe verlaag deur dit in groot hoeveelhede te vervaardig en op ontwikkelende lande gefokus wat deur die groot Westerse farmaseutiese maatskappye geïgnoreer is.

Kort voor lank, sê hy, “kon ons nie voorbly met die aanvraag nie”.

In 2011 het hy die uitvoerende hoof van die Serum Institute geword en daaraan begin werk om die produksiekapasiteit te verdubbel, veral ná ’n TED-toespraak van Bill Gates in 2015. Daarin het die medestigter van Microsoft gewaarsku dat ’n pandemie ’n veel groter bedreiging as ’n kernoorlog vir die mensdom inhou omdat die wêreld so onvoorbereid daarop is.

Uitbreiding op daardie skaal was ’n groot kans wat Adar net kon waag omdat die maatskappy in privaat besit was met geen aandeelhouers of beleggers wat hom aan bande kon lê nie – net sy pa, wat soms ’n bietjie oorreding nodig gehad het.

Toe ’n wêreldwye pandemie eindelik verlede jaar toeslaan, was die Serum Institute vyf keer so groot as toe Adar in 2001 daarby aangesluit het. Dit het toe reeds entstowwe aan 170 lande verkoop en ’n jaarlikse inkomste van meer as R12 miljard gehad.

Dit was ook ’n vennoot van die Wêreldgesondheidsorganisasie en het al miljoene lewens gered. “Die bydrae wat dit tot wêreldwye gesondheid lewer, is merkwaardig,” sê Bill.

Adar geniet nou taamlik onbeskaamd alles wat met groot rykdom gepaardgaan.

“Ons geniet graag die lewe, want ons is nie bang vir vergelding of dat enigeen ons kan bevraagteken nie, want ons het ons rykdom wettig en eties verdien,” sê hy.

“Baie mense in Indië was nog altyd bang om hul geld te geniet, want miskien het party van hulle dit nie werklik op die regte manier verdien nie.”

Adar saam met Catherine, die hertogin van Cambridg
Adar saam met Catherine, die hertogin van Cambridge, in 2016 by ’n galadinee in Moembai, Indië. Die spoggerige geleentheid is deur ’n rits Bollywood-sterre en groot name in die sakewêreld by­gewoon. Hulle het ’n tafel gedeel met die akteur en vervaardiger Shah Rukh Khan (regs). Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het sy eie stoetplaas van 80 ha met ’n stylvolle plaashuis naby die Serum Institute se Pune-kampus en teel baie van Indië se voorste renperde.

Hy is besig om Lincoln House – die voormalige maharaja van Wankaner se uitgestrekte paleis langs die see in Moembai en die latere Amerikaanse konsulaat – teen R1,6 miljard, ’n rekordprys vir ’n Indiese residensiële eiendom, te koop.

Hy gaan na die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, vaar op ’n seiljag aan die Franse Riviera, woon die Grand Prix by en beskou die prins van Wallis as “ ’n hegte en baie dierbare vriend”.

Hy het privaat vliegtuie en ’n helikopter waarin hy tussen Pune en Moembai reis. Hy besit skilderye van
Picasso, Dalí, Rembrandt en Rubens. Hy het 35 klassieke motors waaronder die antieke Silver Cloud en Phantom Rolls-Royces tel.

“Ek hou meer van dié motors as moderne Ferrari’s en Lamborghini’s, waarvan ek ook ’n paar het, maar ek geniet hulle nou skaars omdat hulle so algemeen is.”

Adar het sy vrou, Natasha, in 2001 in Goa by ’n Oujaarspartytjie van Vijay Mallya, ’n Indiese sakemagnaat, ontmoet. Hulle het twee seuns. Natasha is ’n fotogeniese gunsteling van Indië se glans­tydskrifte.

Sy was ’n Vogue-voorbladmeisie en meng met Bollywood-sterre en ander glansrykes, Priyanka Chopra en Nick Jonas tel onder haar beste vriende, en sy gaan na die beste partytjies toe – en speel soms gasvrou daarvoor.

Sy dra die jongste ontwerpersklere en is deur die tydskrif Elle as “Indië se merkwaardigste vrou” bestempel.
Maar sy is meer as net ’n mooi gesig. Kort nadat Adar sy beskeie graad aan die Universiteit van Westminster behaal het, het sy ’n meestersgraad aan die Londense skool vir ekonomie verwerf.

“Sy is meer bekwaam om die Serum Institute te bestuur as ek,” sê hy.

Natasha bestuur trouens die Villoo Poonawalla-stigting, die Serum Institute se liefdadigheidsarm, wat na Adar se oorlede ma genoem is. Dit wil Pune, met sy bevolking van 6 miljoen, in ’n Indiese modelstad omskep.

Adar by sy vrou, Natasha. Hy spot dat sy meer bekw
Adar by sy vrou, Natasha. Hy spot dat sy meer bekwaam is as hy om sy onder­neming te bestuur. Foto: Gallo Images/Getty Images


Dit finansier sewe skole en ’n hospitaal, verskaf op 35 plekke skoon drinkwater en het honderde voltydse werknemers, gerugsteun deur 250 vragmotors wat vullis uit die strate versamel om in biogas omgeskakel te word.

Adar, wat in 2016 deur die Indiese GQ as Indië se filantroop van die jaar aan­gewys is, sê hy stort jaarliks sowat R375 miljoen in die stigting.

“Ek voel ons moet op ’n groot skaal ’n impak maak, anders het dit geen sin nie.”

Maar hy is die trotsste daarop dat die Serum Institute entstowwe aan die wê­reld se armes voorsien.

“Dit is die grootste enkele faktor wat my elke dag motiveer as ek wakker word en traag voel om kantoor toe te gaan,” sê hy.

“Almal hier by Serum ken daardie doel, en ek dink wat ons die afgelope paar jaar voortgedryf het, is die wete dat jy ’n ver­skil in mense se lewe maak en elke jaar miljoene lewens red.”

Hy verwag dat hulle nog vyf of 10 jaar of langer covid-­19-entstowwe sal vervaardig, veral omdat mense dalk versterkende inspuitings sal moet kry, en omdat vandag se kinders, wat grotendeels immuun teen die virus is, as volwassenes kwesbaarder sal wees.

Adar werk ook met ’n ander Oxford-­universiteitspan saam aan ’n baan­brekende entstof vir malaria wat in die laaste fase van toetsing is, en saam met ander navorsers aan entstowwe vir denguekoors, meningitis en menslike papilloomvirus, wat baarmoedernekkanker by vroue veroorsaak.

Die vervaardiging van entstowwe was eens ’n nisbedryf. Dis nou van kardinale belang vir die mensdom se toekoms, en danksy covid-19 besef regerings reg oor die wêreld dit eindelik. Adar beplan daarom om die Serum Institute se vervaar­digingskapasiteit binne drie jaar met nog ’n miljard dosisse te verhoog.

“Ons het geen keuse nie,” sê die man van wie die grootste deel van die wêreld vir hul toekomstige welstand afhang. “As ek glo wat ek sê oor toekomstige pan­demies en die groter aanvraag na entstowwe, sal ek dwaas wees om nie ál my kapitaal daarin te herbelê nie.”

Hy verwag dat wêreldwye pandemies algemener sal word namate die menslike bevolking aangroei, dierehabitatte binne­dring en meer reis, en namate klimaatsverandering toestande skep wat siektes vinniger laat versprei.

“Dit is ’n smeltkroes, ’n roerpot, wat net wag om meer van hierdie soort ver­skriklike virusse op te lewer,” sê hy.

Ten spyte van die gebeure van die af­gelope jaar glo hy dat ons dit “gelukkig” getref het met covid-19.

“Kan jy jou indink as ebola so aan­steeklik soos die coronavirus was?” vra hy. “Dan sou ons waarskynlik nie hierdie  gesprek gehad het nie. Een van ons sou waarskynlik nie meer geleef het nie.”

© The Times Magazine\News Licensing
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe