Elaine Marais, ’n onderwyseres en skrywer van Christelike fiksie, se man, Jacques, veg om sy lewe in die Mediclinic Worcester-hospitaal. 

Hy het byna 40 dae gelede positief getoets vir die coronavirussiekte covid-19. Die gesin woon in Worcester in die Wes-Kaap. 

Elaine, die skrywer van boeke soos Liefde vir Lienke en Bont-alarm, het dié roerende getuienis op Facebook gedeel: 

“So baie mense bid, ondersteun, help en hou ons regop op soveel maniere. Dit gee mens krag om elke dag en elke nag deur te sien.

"Die meeste boodskappe probeer ek antwoord, maar vir die wat met opregte belangstelling vra wat aangaan, skuld ek 'n kort verduideliking. Jacques het 36 dae gelede lyfseer en moegheid ervaar.

"Ná 'n besoek aan die dokter is medikasie en bedrus voorgeskryf. Teen dag 8 was ek oortuig dat dit nie verkoue of griep is nie, maar hy het nie die gewone covid-19-simptome van koors, hoes of smaak- en reukverlies gehad nie . . .”

Elaine sê aan Huisgenoot die hospitaalpersoneel het Maandag vir Jacques ’n asemhalingspyp ingesit.

“Hy is onder hewige sedasie omdat hy op die ventilator is. Maar ons is moedig en ons hou aan bid. Ons is dankbaar dat hy ’n ventilator kon kry,” sê sy. 

Die egpaar het drie kinders, twee is nog op hoërskool en hul oudste dogter studeer om ’n prokureur te word, nes haar pa. Jacques het sy eie prokureursfirma op Worcester. 

“Mense moet maar bid. Dit is al wat ons kan vra.

"En wees veilig, en isoleer en wees daar vir die mense wat jou nodig het,” sê sy. 

“Die res van die gesin het nie siek geword met covid-19 nie, al het hy vir ’n tydjie hier by die huis geïsoleer. Ons hou steeds aan isoleer, want ons wil vir Jacques in die hospitaal kan gaan kuier. Ek het hom twee dae gelede besoek. Maar ek gaan myself eersdaags laat toets, want ek moet weer begin skoolgee,” sê sy. 

Elaine gee skool by die HTS Drostdy op die dorp.

“Ek wens ek kon die dae aftel voor hy huis toe kom. Dit voel soos ’n warboel, en ’n mens se hart sit konstant in jou keel, maar ons glo en vertrou Jacques’ie gaan herstel,” sê sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe