Soos iets uit die eindtye doem die enorme staalfabriek teen die Weskus-horison op. Hoe nader ons daaraan kom, hoe rooier raak die landskap.

Osbloedrooi, die kleur van ystererts se stof. Dan sien jy die woedende betogers: Meer as honderd van hulle staan al sedert vroegoggend voor die hekke van ArcelorMittal se staalaanleg op Saldanha.

Dié werkers het 10 dae tevore gehoor die aanleg, waar baie van hulle al meer as twee dekades lank hul brood en botter verdien, gaan toemaak. Die gideonsbende voor die hoofhek is vurig oor die vooruitsig dat hulle teen die einde van Februarie volgende jaar sonder werk gaan sit.

Die polisie se eenheid vir openbare orde is ook hier; trouens, hier is meer polisielede as betogers. Selfs die brandweer hou ’n wakende oog.

“Hoekom is die brandweer hier? Seker om ons af te koel,” laat val ’n betoger met moedige humor.

Die staalaanleg was die ekonomiese slagaar van die streek en het deur die jare duisende werkgeleenthede geskep.

Benewens die byna 600 poste by die fabriek wat nou afgeskaf gaan word, is daar nagenoeg 900 kontrakteurs wie se werk in gedrang kom en meer as 2 000 mense se lewe wat deur die sluiting geraak word, sê Marius Koen, die dorp se burgemeester.

My hele familie gaan hul jobs verloor. Dis ’n tragedie.
Foto: Corrie Hansen
Die staalaanleg was die ekonomiese slagaar van die streek en het deur die jare duisende werkgeleenthede geskep. Foto: Corrie Hansen

“Dis ’n baie moeilike tyd. Niemand behoort daardeur te gaan nie,” sê Tracey Peterson, ArcelorMittal se plaaslike woordvoerder. Sy verduidelik die stygende koste van ystererts en elektrisiteit het die maatskappy geen keuse gelaat as om sy werksaamhede te begin afskaal nie.

“Die maatskappy het koste besnoei wat in hul beheer was om doeltreffendheid te verbeter en kontant te genereer,” vertel Tracey. Maar die fabriek is net nie volhoubaar in die huidige klimaat binne die maatskappy se wêreldwye rol in die staalbedryf nie.

Nie ver van die hoofhek af nie spog ’n groot bord wat lui: “Zero impact on nature.” Maar wat nou van die verwagte impak op die mense?

Foto: Corrie Hansen
Marius Koen, die dorp se burgemeester. Foto: Corrie Hansen

“Ons het getoitoi om die fabriek hier te kry; nou betoog ons om dit hier te laat bly,” sê Jacobus Murray (38) ’n paar meter van die aanleg waar hy 12 jaar lank IT-bestuurder was.

“Dié plek is die brood en botter van derduisende mense,” sê hy. Hy het sy werk in 2017 verloor, maar kon daarna sy eie onderneming begin. ArcelorMittal Suid-Afrika, die multinasionale maatskappy wat die Saldanha-staalaanleg besit, is een van sy kliënte – wat hy nou waarskynlik met die fabrieksluiting gaan verloor.

Foto: Corrie Hansen
Foto: Corrie Hansen

Agter die hekke, in die maag van die “staalmonster”, vertel hy, werk sy broer William (51) as toringbestuurder. En Jacobus se vrou, Desiree (41), is ’n kontrakteur wat ’n karwassery by die fabriek bedryf.

“Weet jy hoe baie kompetisie hier buite is,” vra hy bekommerd oor die groot verlies van inkomste wat sy gesin in die gesig staar.

Hulle het drie kinders, Matt (10), Scott (7) en Noah (2), en die egpaar het gehoop hul spruite sou ook eendag hul heil by die fabriek kon vind.

“Ek het my M.B.A. klaargemaak en gedink ek sou die een of ander tyd deel van die bestuur wees,” vertel Jacobus. “Nou gaan die fabriek glo leeg staan tot die mark weer reg is.”

Nog iemand wat ’n ver pad saam met die aanleg kom, is Atmore Rodgers. Hy staan nader en stel hom voor as hoofman van die Cochoqa, ’n plaaslike Khoisanstam.

 Foto: Corrie Hansen
Die Cochoqa-stam hoof, Atmore Rodgers, verteenwoordig die Khoisan wat by die aanleg baat vind. Foto: Corrie Hansen

Sy mense word deur die sluiting geraak; daarom is hy een van die organiseerders van vandag se protes. “Ek het baie werk met my kaal hande gedoen,” vertel hy en wys na die reuse-geboue wat verrys uit die aarde wat hy help omdolwe het.

Hy was self sewe jaar by die fabriek betrokke, eers met die bouwerk en later met instandhouding. “As jy my handewerk wegvat, sal daai hele plant inmekaarsak.”

Ook Paulina Mila (66) onthou haar aandeel in die ontstaan en vertel: “Ons het die grond skoongemaak vir die fabriek.”

Sy en 19 ander vroue het in 1994 ná die sluiting van drie visfabrieke “die flora en fauna netjies uitgehaal en die diere oorgedra na die koppie toe – skilpaaie, bokkies en reptiele saam met ’n professionele slangvanger”.

Gina Korah (45), een van die vroue wat saam met Paulina die perseel skoongemaak het, onthou hoe hulle in 1994 opgewonde betoog het vir die oprig van die staalaanleg wat nuwe werkgeleenthede sou bied: “We want steel! We want steel!”

Foto: Corrie Hansen
Kinders en onderwysers van die Witteklip-dagsorgsentrum op Vredenburg, wat deur die staal­aanleg geborg word. Foto: Corrie Hansen

Sy werk nou al 25 jaar daar en was onder meer teemaker en skakelbordoperateur. “Ek was dáár toe die eerste staal uit die oonde gekom het,” vertel sy. Sy is nou ook ’n eiendomsagent en kry navrae van mense wat hul huis wil verkoop omdat hulle nie meer hul verband kan bekostig nie.

Haar drie seuns werk by die aanleg. Leslo Julies (32) het pas vir hom ’n kar gekoop, wat hy eersdaags nie meer sal kan bekostig nie. Elton Korah (28) staan op trou – dalk. En Ferline Korah (30) is ook permanent aangestel.

Gina se dogter, Cindy-Kay Papier (25), het ’n maand gelede by die fabriek se kafeteria begin werk.

“My hele familie gaan hul jobs verloor. Dis ’n tragedie.”

Saam met haar vandag is ’n spannetjie kinders van die Witteklip-dagsorgsentrum op Vredenburg, wat deur die aanleg geborg word. Gina sê daar is sowat 80 kinders in dié sentrum. “Waarheen gaan hulle as die skool saam met die fabriek toemaak?” sug sy moedeloos.

“Almal gaan dit voel. Mense wat meen hul ondernemings gaan nie daardeur getref word nie, weet nie waarvan hulle praat nie,” sê Corr Vermeulen (49), wat sedert 2009 sy kroeg, Ancorr, op die dorp bedryf.

Foto: Corrie Hansen
Corr Vermeulen, eienaar van die kroeg Ancorr, bekommer hom oor hoe die sluit van die aanleg sy onderneming gaan raak. Foto: Corrie Hansen

Die naam kom van encore, ’n toegif – nog ’n dop. Maar dit gebeur ál minder dat iemand nog ’n dop soek.

“Ek voel dit in my till, waar daar nou byna die helfte minder inkom,” vertel Corr, wat pas pa geword het. Volgens hom het van die kontrakteurs al vier maande gelede die dorp verlaat.

Op voorwaarde dat hy anoniem kan bly, want hy wil nie sy moontlike skeidingspakket benadeel nie, praat ’n 42-jarige werker op die aanleg met ons.

“Ek het gelukkig twee ambagte – elektrisiën en instrumentmaker. Maar van my kollegas het vaardighede wat hulle net by ’n staalfabriek kan gebruik,” voeg hy by. “As hierdie ding nie reg hanteer word nie, sal die hele Saldanhabaai in ’n depressie verval.”

Eugene Petzer van die onderdelevervaardiger Hansing Engineering is ook bekommerd oor hul sake wat gaan opdroog.

Foto: Corrie Hansen
Eugene ­Petzer, mede-­eienaar van Han­sing Engineering. Foto: Corrie Hansen

“Daar is reeds mense wat nie die huur van hul werkwinkels kan bekostig nie. Daar is geen nuwe werk van die aanleg se kant af nie. Slegs bestaande bestellings word afgehandel. Die masjiene wat ons moes strip, word nie weer aanmekaargesit nie,” verklap Eugene.

Die kontrakteurs by die aanleg wat al hul meubels en yskaste en ander huisraad by hulle kom koop het, het dit nou weer aan hulle terugverkoop, vertel Anton Rademeyer (44) van die West Coast Trading-pandjieswinkel.

“Ek weet van vier kontrakteurs wat opgepak het en weg is uit die dorp,” vertel Eugene bekommerd.

“My kliënte is baie benoud oor wat aangaan,” vertel Lenica van Coller (36), ’n haarkapper by Salon Ben op die dorp. “Mense besnoei op luxuries, soos om hul hare te laat doen, as daar nie meer ’n inkomste is nie,” vertel sy.

Foto: Corrie Hansen
Lenica van Coller (36), ’n haarkapper by Salon Ben. Foto: Corrie Hansen

“Hulle het ook nie geld vir petrol of skoolgeld nie.”

Haar man, sers. Jacques van Coller (38), meen misdaad kan nou die hoogte inskiet omdat werkloses hulle tot diefstal of inbraak kan wend.

’n Arbeidsmakelaar sê hulle trek noustrop, want die uurlikse tarief vir ambagsmense was vroeër R140; nou vra hulle R56 per uur.

“Saldanha is soos familie. As een onderneming toemaak, is dit soos iemand wat doodgaan,” vertel Charles van Blerk (64), wat al 37 jaar Charlie’s Fish Shop op die dorp het. “Elke bietjie wat jy minder kry, tel.”

By die kantoor van die burgemeester is die personeellede oorweldig deur die navrae van fabriekswerkers. “Ek was vier maande in gesprekvoering,” vertel Marius aan Huisgenoot oor sy verbete pogings om die sluiting te keer.

Hy verstaan die aanleg se Eskom-rekening van R100 miljoen per maand, saam met die koste van die 7 miljoen liter water per dag wat nodig is vir verkoeling, was die doodskoot vir die fabriek.

“Die munisipale raad se maandelikse subsidie van R700 000 was eenvoudig nie genoeg om ’n verskil te maak nie,” verduidelik hy.

“Hoekom kan die nasionale regering nie inspring nie?” vra hy. “Ons moet mense se lewens red.”

  • Tracey het verder aan Huisgenoot verduidelik dat ArcelorMittal die aanleg nie heeltemal sluit nie, maar dit onder versorging en onderhoud (“care and maintenance”) plaas sodat dit gou weer kan oopmaak as die wêreldwye staalbedryf sou verbeter. Die maatskappy ondergaan ’n landwye herstrukturering en ongeveer 2 000 poste is in gedrang. By Saldanha is 900 poste verlore – dit sluit permanente werkers en kontrakteurs in, voeg sy by.